November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 

 Jou tyd vir God is belangrik

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deur
Tilana Bester

e-pos die skrywer
 

Jy het nie tyd nie! Te besig om tyd te maak vir Hom, die Gewer van tyd? Maar wat as Hy nie tyd het vir jou nie?

 

Jesus gee jou elke dag 'n volle 24 uur. Daarmee saam gee Hy aan ons 'n vrye wil om self te besluit hoe ons hierdie tyd gaan aanwend. En ek wonder vandag: Hoeveel van jou tyd sonder jy vir jou Skepper en Verlosser af? Hoeveel tyd spandeer jy aan dinge wat regtig belangrik is?

Tyd is altyd 'n issue – of sal ek eerder sê: tyd is áltyd te min. Praat met enige persoon en jy sal een of ander stadium hoor: "Ek het nie tyd nie" of "tyd is geld". En omdat tyd so min is, is ons gedurig besig om iewers tyd te sny. Meeste van ons sny eerste aan tyd wat ons saam met God moet spandeer. Ons sny aan ons gebedstyd, ons Bybelleestyd, 'n erediens of biduur. Net soos ons aan ons tiendes begin sny wanneer dit lyk of ons begroting nie wil klop nie . . .

As ons met die mond bely dat God ons eerste prioriteit is, moet dit in ons lewens sigbaar wees. Ons moet dit uitleef! Jou tyd vir God is belangrik. Dit is 'n offergawe aan die Here.
 

Lev 22:18-19 "Wanneer enige Israeliet of vreemdeling in Israel aan die Here 'n brandoffer wil bring, moet dit vir die Here aanneemlik wees, of dit nou bedoel is om geloftes na te kom en of dit bedoel is as vrywillige offers. Dit moet 'n bul, 'n skaapram of 'n bokram wees en sonder liggaamsgebrek."

Eks 34:21 "Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus."

Ons tydoffer aan die Here moet sonder gebrek wees – dit mag nie afskeeptyd wees nie. Dit moet heilige, afgesonderde, aanneemlike tyd wees.

Feit is, ons sal altyd besig wees. Tensy ons gehoorsaam leef en God eerste stel, sal daar altyd verskonings en redes wees om nie by dinge van koninkrykswaarde uit te kom nie. God is baie ferm en waarsku dat ons vir Hom tyd moet maak. Dit is belangrik om deur Sy Woord en Gees versterk en gevoed te word. Verstaan mooi . . . as jy nie hiervoor tyd maak nie, sal jou lewe altyd in chaos, ongelukkigheid, bitterheid, hartseer, ensovoorts gedompel wees. Maar as jy tyd saai, sal jy tyd maai. Maak seker jy oes nie geestelike armoede nie! Wees verseker: As jy tyd aan God afstaan sal Hy seker maak jy ontvang genoeg tyd vir al die ander dinge wat ook belangrik is.

Eendag gaan ek en jy voor die groot Regter staan en ons gaan op Sy vraag moet antwoord: "My kind, wat het jy met die tyd gemaak wat Ek jou gegee het? Hoeveel daarvan het jy aan My afgesonder? Hoeveel daarvan het jy spandeer om dit te doen wat Ek van jou gevra het?" Wat gaan jou antwoord wees?

Matt 7:21 "Nie elkeen wat vir My sê: 'Here, Here,' sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is."

Besef asseblief dat elke oomblik van elke dag 'n genadegawe is. Dat tyd in die eerste plek nie aan ons behoort nie. Dis geleende tyd. Dis tyd wat die Vader aan ons gee om onsself voor te berei op die ewige lewe. Offer vandag nog jou tyd aan God en fokus jou aandag, krag en energie op Hom en Sy koninkryk. En onthou . . . God het altyd tyd vir jou!
 
Ter afsluiting, hier is 'n gediggie wat my nogal diep geroer het:
 
Ek het gekniel om te bid, maar soveel het my te doen gestaan,
dus was dit van korte duur.
Ek moes my na my werkplek haas, anders kon dié aan wie ek iets skuld,
my aangluur.
Derhalwe het ek gekniel, gou 'n gebed gedoen;
en vinnig van my knieë opgestaan.
My Christelike plig was tog nou nagekom, so my siel kon in rustigheid
weer voortbestaan.
Die ganse dag het die tyd ontbreek om 'n woord van bemoediging teenoor iemand te spreek.
Geen tyd is gemaak om met vriende oor Christus te praat – hulle kon met my die draak steek.
Geen tyd, geen tyd, te veel om te doen, dit was my voortdurende klaaglied.
Geen tyd afgestaan aan siele in nood, maar eindelik baie tyd:
dít wat die dood aan my bied.
Met neergeslane oë het ek voor die Here verskyn en daar moes ek staan en bewe, want in Sy hand het God 'n boek gehad:
dit was die Boek van die Lewe.
"Jou naam verskyn nie in my Boek nie," sê God toe Hy met my spreek,
"Ek wou dit op 'n keer neerskryf, maar die tyd daarvoor het
ontbreek."
-          Skrywer, onbekend

Gee asseblief aan God die tyd wat hom toekom. Maak seker jy staan nie eendag beskaamd en skuldig met trane in jou oë voor Hom nie.
 

Almagtige Vader, vergewe my vir die kere wat ek so skaamteloos tyd mors; wanneer ek sonder om twee keer te dink besluit om 'n erediens te mis, of nie Bybel lees nie. Vergewe my vir elke kort skietgebed en afskeeptyd wat ek probeer regverdig het. Here Jesus, vandag offer ek my tyd aan U. Ek wil pleit dat U deur U Gees my daagliks sal herinner dat tyd 'n genadegawe is en dat elke minuut eerstens aan U behoort. Help my om tyd ryklik in U koninkryk te saai sodat ek eendag onbeskaamd voor U kan staan. In Jesus Naam, Amen.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember