Die geluidlose moordenaar
Christo du Plessis

deur Karin Bain




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Die geluidlose moordenaar


Ontmasker die sluipende dood in jou are: laat toets jou bloeddruk en eet en leef gesond.

Geen alarm sal afgaan wat aankondig dat jou bloeddruk te hoog is nie, aangesien daar dikwels geen fisieke simptome van hoë bloeddruk is nie. Daarom is gereelde ondersoeke die enigste manier om vas te stel of jy hoë bloeddruk het.
'n Groot meerderheid mense is onbewus van hul toestand, maar hierdie onkunde kan moontlik hul dood beteken. Hipertensie (hoë bloeddruk) is aanleidend tot hartaanvalle, beroerte en ander niersiektes. Dit word aanbeveel om eenkeer per jaar 'n bloeddruklesing te laat neem, maar mense met 'n familiegeskiedenis van hipertensie moet dit meer dikwels laat doen.

Bloeddruk is die weerstand van die vaatwande op die bloed. Wanneer bloeddruk getoets word, mag die boonste lesing nie hoër as 140mmHg wees nie – dié syfer dui op die drukking in die are tydens die sametrekking van die hart. Die onderste lesing weer moet laer as 100mmHg wees – hierdie lesing dui die drukking aan wanneer die slagaar ontspan.
Wanneer jou bloed dik is, verhoog dit jou bloeddruk. Dit kan veroorsaak word deur te veel suiker, soos met diabetes, of te veel sout in jou bloed, of wanneer jou are hard, onelasties is, of klein is.

Om jou bloeddruk te beheer moet die bloed se dikte en die are se drukking gereguleer word. Dit kan gedoen word deur onder andere meer water te drink, minder sout te eet en die bloedsuiker te beheer. Sigaretrook verhard die vaatwande en cholesterol pak aan teen die vaatwande wat verhoogde druk veroorsaak. Deur nie te rook nie, oefening te doen en jou cholesterol te beheer, kan jy help om weer die are se wande te laat ontspan.
Deur hierdie gesonde gewoontes aan te leer, kan tot 80% van hartsiektes en beroertes voorkom word.

Indien die bloeddruk nie met 'n gesonde dieet en ander lewenstylaanpassings verlaag nie, sal 'n dokter chroniese medikasie voorskryf. Dit moet daagliks, verkieslik op min of meer dieselfde tyd, geneem word. Indien jy lastige newe effekte ervaar sal die geneesheer ander medikasie probeer, totdat 'n spesifieke pil gekry is wat vir jou werk, aangesien daar verskeie soorte anti-hipertensiewe middels is wat op verskillende wyses werk. Mense op chroniese medikasie moet egter nie hul medikasie stop wanneer hulle met hul dieet- en lewenstylaanpassingsprogram begin nie.

Kyk na jou dieet

* Sny natrium uit. Navorsing het getoon dat persone wat minder natrium inneem 'n beter reaksie toon op die beheer en behandeling van hipertensie.
* Moet nooit ekstra sout op jou kos gooi nie.
* Koop vars, gevriesde kos sonder byvoegings en geblikte groente sonder bygevoegde sout.
* Eet eerder vars pluimvee, vis en maer vleis, as geblikte of geprosesseerde vleis.
* Gebruik kruie, speserye en soutvrye mengsels.
* Kook rys, pasta en warm pap eerder sonder sout, en voeg dan 'n klein bietjie sout later by.
* Sny kitsklaar of gegeurde rys, pasta en ontbytgraan uit.
* Spoel geblikte voedsel soos tuna af om sout te verwyder.
* Sny gevriesde maaltye, pizza, geblikte sop en souse, en slaaisous uit.
* Die riglyn vir die inname van sout is een teelepel tafelsout per dag.

Voeg die volgende by jou kos

* Visolie (Cod liver oil) – in makriel, salm en sardyne.
* Magnesium – in peulgewasse, groen blaargroentes, diervette en neute.
* Kalsium – in melk en ander suiwelprodukte, brokkoli, kalsiumverrykte vrugtesappe, mineraalwater.
* Olyfolie – gooi ekstrasuiwer-olyfolie oor jou slaai en groentes.
* Knoffel, vars indien moontlik
* Kalium – vrugte: appelkose, piesangs, spanspek, dadels, kiwivrug, mango's, nektariens, waatlemoen, avokado's, pomelosap, lemoene, papajas, pruimedantsap en rosyne
– groente: seldery, spinasie, pietersielie, andyvie, raapkool, brokkoli, tamatiesap, komkommers, blomkool, aspersies, artisjokke, aartappels in skil, patats en winterskorsie.

Inligting in hierdie artikel suggereer nie self-diagnose en behandeling nie, en is ook nie 'n plaasvervanger vir mediese sorg nie.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend