Susan Terblanché

deur Susan Terblanché




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Hoe is dit moontlik om vreugde te midde van jou eie slegte omstandighede te vind? Verlekker jou eenvoudig in die Here se teenwoordigheid!

“En toe?” vra my sussie grootoog.
“Toe draai ek maar om en probeer verder werk.”
“Was dit nie moeilik om te konsentreer nie?” vra sy, haar stem steeds vol verontwaardiging namens my.
“Konsentreer? Ek kon nie eers my skerm sien deur my trane nie!”
Sy gee 'n simpatieke kreun, strek haar arm uit en gee my 'n stywe druk. Dit was goed om met iemand te kon praat oor my onderonsie met 'n kollega. Al sit die seer nog vlak, het my sussie se smal, maar altyd-beskikbare skouertjies tog gehelp om dit ligter te maak.
Daardie seer het nog lank gebly, maar die lewe het voortgegaan en selfs nog meer pyn gebring: My en my man se eerste kind ('n woef genaamd Katryn) raak weg; my ouma sterf; 'n vriend verloor sy werk en 'n vriendin vind uit haar man verkul haar.
Die woorde “alles gebeur met 'n doel” bevat baie waarheid, maar min troos. In die bekende Psalm 23 praat Dawid van donker dieptes – en dis iets wat die meeste mense goed begryp.

Maar terselfdertyd het die lewe voortgegaan en ook ander dinge gebring: 'n Vriendin skenk die lewe aan haar en haar man se eersteling; 'n asemrowende paar skoene beland op 'n uitverkoping; manlief verras my met 'n botteltjie luukse badskuim; my hond raak tevrede op my skoot aan die slaap na 'n opwindende “Bringie-bal!”-sessie in die tuin en 'n kollega stuur vir my 'n oulike e-pos om dankie te sê vir ons vriendskap.

Onlangs het ek en my man in 'n kerkdiens beland waar die gemeentelede die geleentheid gegee is om getuienis te lewer oor iets wat die Here in hul lewens gedoen het. 'n Man staan toe op en vertel dat hy daardie week sy werk verloor het.
“Prys die Here!” sê hy.
Huh? Ek dog dis sleg as jy jou werk kwyt is? Darem glo ek hy het iets diepers bedoel as net die oënskynlike, want die Here het ons as mense geskape en nie robotte nie. Hartseer, verontwaardiging en 'n halfmiljoen soortgelyke emosies is iets wat ons gereeld ervaar en dit is onvermydelik in die lewe. Dit het maar gesukkel om met 'n glimlag rond te loop toe ons die nuus van Ouma hoor.

Maar hoe werk vreugde te midde van slegte omstandighede dan nou eintlik? Terwyl hierdie vraag in my kop rondgemaal het, het die Heilige Gees van God geleidelik vir my Sy prentjie daaroor begin teken.
In jou hart sit daar 'n fontein. Hierdie fontein is standhoudend, want die bron hou nooit op om water te verskaf aan die fontein nie. Die water simboliseer vreugde, spesifiek die tipe vreugde wat 'n mens slegs in God kan vind. Hoewel sekere gebeurtenisse en ervarings die watervlak kan laat sak, kan niks ooit die watervloei heeltemal laat verdwyn nie, want die Here is standvastig in sy voorsiening. Aan die ander kant moet 'n mens toelaat dat ander gebeurtenisse en ervarings die watervlak laat styg, soos 'n opregte kompliment, 'n lekker dag in 'n pretpark of die warm gevoel van die son op jou vel. Sulke dinge verskaf lekkerkry, plesier en blydskap en is soos emmers ekstra water wat jy self by die fontein kan ingooi. Die Here vul die lewe met ontelbare sulke emmers om ons fonteine mee te vul en Hy begeer dat ons al hierdie geleenthede ten volle benut. Verder verseker Hy ons dat, solank ons aan Hom behoort, ons fonteine nooit ooit sal leegloop nie.

Verlekker jou dus in die Here se teenwoordigheid! Verkneukel jou in die Bybel en geniet stiltetye saam met Hom. Dan, wanneer jy die Bybel toemaak en die stortkraan gaan oopdraai, hou aan om Hom te geniet in al die mooi, die lekker, die oulike, die snaakse, die dierbare en die “ag moeder!” van die lewe. Só sal jy 'n ekstra-groot glimlag in jou hart kan ronddra regdeur die jaar.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend