Erektiele disfunksie is een van die mees algemene seksuele bekommernisse
vir mans oor die ouderdom van 40. Dit kan probleme in verhoudings
veroorsaak, asook 'n man se selfbeeld negatief beïnvloed. Tog is dit
belangrik vir paartjies om te weet dat ED 'n algemene mediese probleem
is en dat daar wel oplossings daarvoor is.
Deur
Leandie Buys
Erektiele disfunksie (ED) is die onvermoë om 'n ereksie te kry, of te
behou, wat hard genoeg is vir penetrerende geslagsgemeenskap.
Dis nie 'n siekte nie, maar eerder 'n simptoom van 'n ánder
onderliggende probleem, wat fisiek of sielkundig, of 'n kombinasie van
die twee kan wees.
ED moenie met 'n lae libido – wat na 'n lae seksdrang verwys – of die
onvermoë om 'n orgasme te kry of te ejakuleer verwar word nie.
Oorhaastige ejakulasie is wel soms 'n sekondêre probleem van ED, maar
dit kan ook andersom wees. Die eerste stap tot behandeling is om uit te
vind watter probleem eerste voorgekom het.
Die
feite
*
Volgens Australiese studies sal 1 uit 5 mans bo die ouderdom van 40,
erektiele probleme ondervind, en vir 1 uit 10 van dié mans sal dit
onmoontlik wees om ereksies te kry.
* Omtrent 40% van alle mans oor 40, 50% van alle mans oor 50, 60%
van alle mans oor 60 en 70% van alle mans oor 70 het by tye probleme met
hul ereksies.
* Mans oor 30 benodig dikwels meer fisieke stimulasie voordat hulle
'n vol ereksie kan bereik. Dis as gevolg van verminderende
testosteroonvlakke in die liggaam, wat die gevolge van ouerwording is.
* 'n Ferm, harde ereksie is geensins 'n verpligting vir bevredigende
seks nie: Penetrasie is moontlik sonder 'n vol ereksie en is dikwels net
so bevredigend.
* Meeste mans verloor hul vol ereksie tydens die liefdespel, en
benodig dan ekstra fisieke stimulasie om weer hard te word.
Oorsake
Daar
is verskeie oorsake van ED, maar dit is dikwels die gevolg van 2 of 3
gemeenskaplike faktore. Fisieke probleme is ongeveer 85% van die tyd die
oorsaak van ereksie-probleme, terwyl dit net 1 uit 10 kere as gevolg van
sielkundige probleme voorkom.
Ernstige gesondheidsprobleme
Diabetes, hoë bloeddruk, vetsug, kroniese nierversaking, hoë cholesterol
en slaapapnee word almal met erektiele disfunksie verbind.
Medikasie, alkohol en dwelms
Sigarette, alkohol- en dwelmmisbruik en sommige medikasie (vir
bloeddruk, cholesterol, depressie, sielkundige afwykings en
prostaatkanker) kan ook die oorsaak van ED wees.
Psigososiale probleme
Hieronder val prestasie-angs, verhoudingsprobleme, spanning by die werk
en finansiële druk, depressie, seksuele ingesteldheid en opvoeding,
asook psigiatriese probleme. Psigososiale probleme wat ED veroorsaak
moet deur 'n professionele seksuoloog behandel word.
Neurologiese siektes
Toestande soos Alzheimer's en Parkinson's beïnvloed senuweefunksies wat
tot ED kan lei.
Erektiele disfunksie en oudword
Erektiele disfunksie is een van die mees algemene seksuele bekommernisse
vir mans oor die ouderdom van 40. Dit kan probleme in verhoudings
veroorsaak, asook 'n man se selfbeeld negatief beïnvloed. Tog is dit
belangrik vir paartjies om te weet dat ED 'n algemene mediese probleem
is en dat daar wel oplossings daarvoor is.
Soos
ons ouer word, vind daar veranderinge in ons liggame plaas. Mans se
testosteroon verminder en hul spiere, insluitend die spiere in die
seksuele organe, word swakker. Mans se vaskulêre en neurologiese
stelsels neem langer om te reageer, dus is visuele stimulante nie meer
so effektief soos as wat dit voorheen was nie.
Om
vir die veranderings wat veroudering meebring te kompenseer, moet
seksuele opwekking meer op ontspanning en plesier fokus. Meer fisieke
stimulasie en seksuele-voorspel help verder ook om die intimiteit en
genot van seksuele aktiwiteite vir ouer paartjies te vermeerder.
Orale
medikasie, soos Viagra, Cialis en Levitra, is baie effektief vir ED by
ouer mans.
Behandeling
Wanneer 'n man erektiele disfunksie ervaar, is dit belangrik om vir 'n
volledige en omvangryke mediese ondersoek te gaan, aangesien ED ook 'n
teken van erger kwale, soos hartsiektes of diabetes, kan wees. Daar is
verskeie behandelings vir ED, en meeste mans moet eksperimenteer om uit
te vind wat die beste vir hulle werk. Dié behandelings sluit in: * Orale medikasie: PDE5 inhibitors, ook bekend as Viagra, Cialis
en Levitra, toon positiewe resultate by meer as 70% van mans wat ED
ondervind. Dis een van die minste inhiberende behandelings vir erektiele
disfunksie aangesien dit nie die spontaneïteit uit die liefdespel
wegneem nie. * Vakuum-ontwerpe: Wanneer dit oor die penis gesit word, sal die
apparaat die bloedsomloop na die penis verhoog, wat 'n normale ereksie
namaak. *
Inspuitings: Dit verhoog die bloedsomloop na die penis. Hierdie
inspuiting word as baie effektief beskou en werk tot 98% van die tyd.
Dis normaalweg pynloos en is binne 10 minute effektief. Inspuitings kan
ook die tydsduur van die ereksie beheer. By minder as 1% van gevalle kan
die inspuiting egter priapisme – 'n ereksie wat pynlik is en ure lank
aanhou – veroorsaak. *
Hormoonterapie: Dit word net vir mans gebruik wie se sekshormoonvlakke,
soos testosteroon, baie laag is, alhoewel dit nie 'n algemene oorsaak
van ED is nie. *
Prostetiese penis-inplantings: Hierdie word gewoonlik as 'n laaste
uitweg beskou, en slegs as al die ander behandelings oneffektief was.
*
Mans
wat aan ED weens psigososiale probleme ly, moet deur 'n professionele
seksuoloog behandel word wat die oorsprong van die probleem sal probeer
vasstel. Dis veral belangrik vir diegene wat fisieke of seksuele
mishandeling deurgemaak het, of wat angs en druk tydens seks ervaar.
ED en jou
verhouding
Praat oor jou
seksuele probleme met jou maat. Geen man hoef skaam of verleë oor ED te
wees nie – dit is 'n algemene seksuele probleem by mans bo die ouderdom
van 40. Erektiele disfunksie affekteer beide partye in 'n verhouding.
Kommunikasie oor ED is die sleutel, en as dit reg hanteer word, kan dit
ook die intimiteit in die verhouding verbeter. Dis belangrik dat albei
persone in die verhouding die simptome van ED erken en hul daaraan toewy
om dit saam te bowe te kom.
'n Man wat nie
bevredigende geslagsgemeenskap kan hê nie, kan nogtans 'n sterk
seksdrang hê, wat erg frustrerend kan raak. As dit nie behandel word
nie, kan ED 'n man se selfbeeld negatief beïnvloed wat die kommunikasie
en intimiteit in die verhouding agteruit sal laat gaan.
Vrouens raak dikwels
baie ontsteld wanneer hul maat ereksie-probleme het. Dikwels blameer
hulle hulself en dink dit is omdat hulle nie begeerlik genoeg is nie, of
vermoed, verkeerdelik, dat hul maat 'n affair het. ED is meesal verwant
aan 'n fisieke probleem, en hou geen verband met hoe 'n man oor sy maat
voel nie.
Mans voel dikwels
skaam en skuldig omdat hulle nie hul maat seksueel kan bevredig nie.
Nogtans, om ED nie aan te spreek nie en nie behandeling daarvoor te kry
nie, kan tot prestasie-angs en ander sielkundige probleme lei wat dit
net kan vererger.
Soms blameer vroue
hul maats vir ED, en wil glad nie deel van die oplossing wees nie. Tog
is dit baie belangrik dat vroue betrokke moet wees om hul maat te help
om ED te oorwin. Wanneer beide betrokke is, help dit om die intimiteit
van die verhouding te versterk en oplossings kan baie vinniger gevind
word.
Onthou: seksuele
intimiteit is 'n vorm van kommunikasie. Wanneer 'n paartjie oor hul
seksuele verhouding praat, help dit om spanning en angs in beide maats
te verlig, en dit vermeerder fisieke en emosionele intimiteit. Te danke
aan moderne medisyne en met die samewerking van beide maats is dit
moontlik om 'n vervullende sekslewe te hê, ongeag jul ouderdom.
Leandie Buys is 'n
kliniese seksuoloog en traumaberader. Kontak haar by 041 373 5800. Jy
kan ook 'n faks stuur na 086 517 2107 of 'n e-pos na
info@leandiebuys.co.za.
Om haar maandelikse nuusbrief te ontvang, besoek
www.leandiebuys.co.za.