|
Erektiele disfunksie (ED) is die onvermoë om 'n
ereksie te kry, of te behou, wat hard genoeg is
vir penetrerende geslagsgemeenskap.
Dis nie 'n siekte nie, maar eerder 'n simptoom
van 'n ánder onderliggende probleem, wat fisiek
of sielkundig, of 'n kombinasie van die twee kan
wees.
ED moenie met 'n lae libido – wat na 'n lae
seksdrang verwys – of die onvermoë om 'n orgasme
te kry of te ejakuleer verwar word nie.
Oorhaastige ejakulasie is wel soms 'n sekondêre
probleem van ED, maar dit kan ook andersom wees.
Die eerste stap tot behandeling is om uit te
vind watter probleem eerste voorgekom het.
Die feite
●
Volgens Australiese studies sal 1 uit 5 mans bo
die ouderdom van 40, erektiele probleme
ondervind, en vir 1 uit 10 van dié mans sal dit
onmoontlik wees om ereksies te kry.
●
Omtrent 40% van alle mans oor 40, 50% van alle
mans oor 50, 60% van alle mans oor 60 en 70% van
alle mans oor 70 het by tye probleme met hul
ereksies.
●
Mans oor 30 benodig dikwels meer fisieke
stimulasie voordat hulle 'n vol ereksie kan
bereik. Dis as gevolg van verminderende
testosteroonvlakke in die liggaam, wat die
gevolge van ouerwording is.
●
'n Ferm, harde ereksie is geensins 'n
verpligting vir bevredigende seks nie:
Penetrasie is moontlik sonder 'n vol ereksie en
is dikwels net so bevredigend.
●
Meeste mans verloor hul vol ereksie tydens die
liefdespel, en benodig dan ekstra fisieke
stimulasie om weer hard te word.
Oorsake
Daar is verskeie oorsake van ED, maar dit is
dikwels die gevolg van 2 of 3 gemeenskaplike
faktore. Fisieke probleme is ongeveer 85% van
die tyd die oorsaak van ereksie-probleme, terwyl
dit net 1 uit 10 kere as gevolg van sielkundige
probleme voorkom.
Ernstige gesondheidsprobleme
Diabetes, hoë bloeddruk, vetsug, kroniese
nierversaking, hoë cholesterol en slaapapnee
word almal met erektiele disfunksie verbind.
Medikasie, alkohol en dwelms
Sigarette, alkohol- en dwelmmisbruik en sommige
medikasie (vir bloeddruk, cholesterol, depressie,
sielkundige afwykings en prostaatkanker) kan ook
die oorsaak van ED wees.
Psigososiale probleme
Hieronder val prestasie-angs,
verhoudingsprobleme, spanning by die werk en
finansiële druk, depressie, seksuele
ingesteldheid en opvoeding, asook psigiatriese
probleme. Psigososiale probleme wat ED
veroorsaak moet deur 'n professionele seksuoloog
behandel word.
Neurologiese siektes
Toestande soos Alzheimer's en Parkinson's
beïnvloed senuweefunksies wat tot ED kan lei.
Erektiele disfunksie en oudword
Erektiele disfunksie is een van die mees
algemene seksuele bekommernisse vir mans oor die
ouderdom van 40. Dit kan probleme in verhoudings
veroorsaak, asook 'n man se selfbeeld negatief
beïnvloed. Tog is dit belangrik vir paartjies om
te weet dat ED 'n algemene mediese probleem is
en dat daar wel oplossings daarvoor is.
Soos ons ouer word, vind daar veranderinge in
ons liggame plaas. Mans se testosteroon
verminder en hul spiere, insluitend die spiere
in die seksuele organe, word swakker. Mans se
vaskulêre en neurologiese stelsels neem langer
om te reageer, dus is visuele stimulante nie
meer so effektief soos as wat dit voorheen was
nie.
Om vir die veranderings wat veroudering meebring
te kompenseer, moet seksuele opwekking meer op
ontspanning en plesier fokus. Meer fisieke
stimulasie en seksuele-voorspel help verder ook
om die intimiteit en genot van seksuele
aktiwiteite vir ouer paartjies te vermeerder.
Orale medikasie, soos Viagra, Cialis en Levitra,
is baie effektief vir ED by ouer mans.
Behandeling
Wanneer 'n man erektiele disfunksie ervaar, is
dit belangrik om vir 'n volledige en omvangryke
mediese ondersoek te gaan, aangesien ED ook 'n
teken van erger kwale, soos hartsiektes of
diabetes, kan wees. Daar is verskeie
behandelings vir ED, en meeste mans moet
eksperimenteer om uit te vind wat die beste vir
hulle werk. Dié behandelings sluit in:
●
Orale medikasie: PDE5 inhibitors, ook bekend as
Viagra, Cialis en Levitra, toon positiewe
resultate by meer as 70% van mans wat ED
ondervind. Dis een van die minste inhiberende
behandelings vir erektiele disfunksie aangesien
dit nie die spontaneïteit uit die liefdespel
wegneem nie.
●
Vakuum-ontwerpe: Wanneer dit oor die penis gesit
word, sal die apparaat die bloedsomloop na die
penis verhoog, wat 'n normale ereksie namaak.
●
Inspuitings: Dit verhoog die bloedsomloop na die penis.
Hierdie inspuiting word as baie effektief beskou
en werk tot 98% van die tyd. Dis normaalweg
pynloos en is binne 10 minute effektief.
Inspuitings kan ook die tydsduur van die ereksie
beheer. By minder as 1% van gevalle kan die
inspuiting egter priapisme – 'n ereksie wat
pynlik is en ure lank aanhou – veroorsaak.
●
Hormoonterapie: Dit word net vir mans gebruik wie se
sekshormoonvlakke, soos testosteroon, baie laag
is, alhoewel dit nie 'n algemene oorsaak van ED
is nie.
●
Prostetiese penis-inplantings: Hierdie word gewoonlik as 'n
laaste uitweg beskou, en slegs as al die ander
behandelings oneffektief was.
●
Mans wat aan ED weens psigososiale probleme ly, moet deur
'n professionele seksuoloog behandel word wat
die oorsprong van die probleem sal probeer
vasstel. Dis veral belangrik vir diegene wat
fisieke of seksuele mishandeling deurgemaak het,
of wat angs en druk tydens seks ervaar.
ED en jou verhouding
Praat oor jou seksuele probleme met jou maat.
Geen man hoef skaam of verleë oor ED te wees nie
– dit is 'n algemene seksuele probleem by mans
bo die ouderdom van 40. Erektiele disfunksie
affekteer beide partye in 'n verhouding.
Kommunikasie oor ED is die sleutel, en as dit
reg hanteer word, kan dit ook die intimiteit in
die verhouding verbeter. Dis belangrik dat albei
persone in die verhouding die simptome van ED
erken en hul daaraan toewy om dit saam te bowe
te kom.
'n Man wat nie bevredigende geslagsgemeenskap
kan hê nie, kan nogtans 'n sterk seksdrang hê,
wat erg frustrerend kan raak. As dit nie
behandel word nie, kan ED 'n man se selfbeeld
negatief beïnvloed wat die kommunikasie en
intimiteit in die verhouding agteruit sal laat
gaan.
Vrouens raak dikwels baie ontsteld wanneer hul
maat ereksie-probleme het. Dikwels blameer hulle
hulself en dink dit is omdat hulle nie begeerlik
genoeg is nie, of vermoed, verkeerdelik, dat hul
maat 'n affair het. ED is meesal verwant aan 'n
fisieke probleem, en hou geen verband met hoe 'n
man oor sy maat voel nie.
Mans voel dikwels skaam en skuldig omdat hulle
nie hul maat seksueel kan bevredig nie. Nogtans,
om ED nie aan te spreek nie en nie behandeling
daarvoor te kry nie, kan tot prestasie-angs en
ander sielkundige probleme lei wat dit net kan
vererger.
Soms blameer vroue hul maats vir ED, en wil glad
nie deel van die oplossing wees nie. Tog is dit
baie belangrik dat vroue betrokke moet wees om
hul maat te help om ED te oorwin. Wanneer beide
betrokke is, help dit om die intimiteit van die
verhouding te versterk en oplossings kan baie
vinniger gevind word.
Onthou:
seksuele intimiteit is 'n vorm
van kommunikasie. Wanneer 'n paartjie oor hul
seksuele verhouding praat, help dit om spanning
en angs in beide maats te verlig, en dit
vermeerder fisieke en emosionele intimiteit. Te
danke aan moderne medisyne en met die
samewerking van beide maats is dit moontlik om
'n vervullende sekslewe te hê, ongeag jul
ouderdom.
|