|
Mense bly maar kwesbaar, en om boonop elke dag
in ons gebroke wêreld te leef, stel hoë eise aan
'n mens – veral as mens deur 'n egskeiding moet
gaan.
Die trauma van egskeiding raak meer mense as wat
besef word: daar word beweer dat ten minste 15
tot 17 ander persone direk geraak word deur een
persoon se trauma, seer of verlies.
Dit sal dus tot almal se voordeel strek as daar
so gou moontlik tot 'n "suksesvolle egskeiding"
gekom kan word. Statistiek het bewys dat 80% van
die egskeidingsgedinge wat deur 'n
mediasieproses hanteer is, gou en met die nodige
respek vir mekaar, 'n skikking bereik het. Die "gebroke
wêreld"-ervaring en die skade van die damwal wat
breek kan dus verklein en selfs voorkom word. 'n
"Suksesvolle egskeiding" is dus 'n moontlikheid
indien daar verantwoordelik en vinnig opgetree
word!
Isak de Villiers
het by geleentheid gesê: "Liefde is om kwesbaar
te wees.
Die liefde wat eens geblom
het en toe so mooi was, het verlep. Niemand trou
om te skei nie!"
Egskeiding is gewoonlik soos 'n damwal wat breek
. . . die skade kan nooit regtig vooruit bereken
word nie. Dít word intens beleef.
Die statistiek is skrikwekkend: volgens
Statistiek Suid-Afrika eindig byna 40% van alle
huwelike in die skeihof. Huwelike in Pretoria
hou volgens die klerk van die griffier van die
Hooggeregshof gemiddeld net 18 maande.
Gedurende 2005 is 32 484 egpare in Suid–Afrika
geskei en 32 394 minderjarige kinders was direk
daardeur geraak. Reeds in 1983 het die
Hoexter-kommissie van ondersoek aanbeveel dat
mediasie aangemoedig moet word as 'n
noodsaaklike opsie om litigasie in die
hooggeregshof te verminder.
Moontlike redes vir 'n egskeiding
Verskeie redes kan aangevoer word oor hoekom
mense skei. Probleme ontstaan op verskillende
terreine en die bekende maatskaplike werker,
Susa van Staden, bevestig dit deur die volgende
moontlike "probleme" aan te toon:
· Die
agtergrond, kultuur en verhoudinge in die gesin
van herkoms toon groot verskille en die
beïnvloeding van die kinders is negatief.
· Afbrekende
interaksie bestaan en die individue is
emosioneel onvolwasse.
· Ontrouheid
van een of albei van die huweliksmaats voor of
in die huweliksverhouding veroorsaak wantroue,
spanning en seksuele wanaanpassing in die
huweliksverhouding.
· Die
huwelikskeuse is gebrekkig en die motief vir
huweliksluiting ongewens. Die sedelike
hoedanighede, waardes en norme vertoon ook groot
verskille.
· Die
kommunikasie is geblokkeer en destruktief.
Rolpatrone en verwagtings is vir een of albei
die huweliksmaats onaanvaarbaar.
· Konflik
veroorsaak verwydering en daar is onenigheid
tussen die huweliksmaats. Konflik wat negatief
aangewend word, veroorsaak fisiese, emosionele
en psigiese aftakeling in die huweliksverhouding.
· Die
huweliksmaats is onaanpasbaar as gevolg van
onverenigbare karakters met gevolg dat skeiding
of verwydering ontwikkel.
· Die
spanningsvolle gesinsituasie en afbrekende
interaksie tussen die individue ontstaan as
gevolg van versteurde persoonlike verhoudinge.
· 'n
Finansiële dilemma ontwikkel as gevolg van die
huweliksmaats se onvermoë en geblokkeerde
kommunikasie ten opsigte van beplanning,
begroting en besteding.
· Verskillende
kerkverbande van die huwelikspaar maak
ooreenstemming onmoontlik.
· Probleme
met skoonfamilie kom voor.
Kenners is dit eens dat daar gewoonlik nie net
een enkele rede vir die verbrokkeling van die
huwelik is nie. Advokaat Francis Bosman, die
voormalige Hoof Gesinsadvokaat in Suid Afrika,
sê dat egskeiding so verwoestend is omdat talle
faktore gewoonlik meewerk om die finale breuk te
veroorsaak. Dit was miskien aanvanklik sake wat
beheerbaar en hanteerbaar was, maar wat nie die
nodige aandag gekry het nie en dan alles verwoes.
Me. Sarie Snyman, die Kinder-kommissaris in
Pretoria, bevestig ook dat 'n egskeiding wat nie
met die nodige leiding en verantwoordelikheid
deur die onderskeie partye, hanteer word nie,
vernietigend kan wees. Verskeie van die
bogenoemde probleme beïnvloed die kinders direk.
"Kinders word dus direk betrek by die
binnegevegte van die ouers. Dit kan blywende
skade tot gevolg hê."
Onthou dié drie dinge:
Indien ons van 'n "suksesvolle egskeiding" wil
praat, is daar ten minste drie dinge wat in
gedagte gehou moet word:
Eerstens kan daar van egskeidingsmediasie
gebruik gemaak word. Tydens mediasie, wat reeds
eeue lank gebruik word, word 'n derde neutrale
persoon betrek om die geskille en probleme te
help hanteer. Sedert die laat tagtiger jare het
dié proses ook in Suid-Afrika al meer aftrek
begin kry. Dit was ook een van die
Hoexter-kommissie in 1983 se aanbevelings.
Heelwat minder egskeidingsgedinge sou in die
howe beland omdat die persone betyds en redelik
vinnig skik. Deur mediasie word al die betrokke
persone, die kinders ingesluit, se belange so
regverdig as moontlik hanteer.
Tweedens moet die seer, trauma en verlies sinvol
hanteer word. 'n Egskeiding maak almal wat
daarby betrokke is, kwesbaar. Omdat almal
kwesbaar is, is die moontlikheid groot dat mense
mekaar wil terugkry. Die seer, trauma en verlies
moet in 'n terapeutiese situasie, deur kundiges,
hanteer word. Dit kan nuwe perspektiewe bring
asook vergifnis teenoor die ander persoon, en
die self, bewerkstellig.
Derdens moet die kinders, wat direk deur die
ouers se optrede en egskeiding geraak word, juis
in die mediasie proses betrek word – hul
gevoelens en insette is uiters belangrik. Die
heling wat die ouers in die terapeutiese proses
beleef, moet ook na hulle deurwerk. Kinders het
meer intensiewe hulp nodig omdat hulle gewoonlik
nie oor die nodige vaardighede beskik om alles
logies te verwerk nie.
Mediasiewerk
Marie van Pretoria is die ma van drie jong
kindertjies wat deur 'n egskeiding geraak is. Sy
sê: "As dit nie vir die mediasie-sessies was nie,
sou daar geen kans op 'n moontlike skikking
gewees het nie." Tydens die sessies is sy die
geleentheid gebied om haar saak volledig en
sonder die nodige verbale aftakeling, te stel.
Selfs die kinders se gevoelens is verwoord en
het in die finale skikkingsooreenkoms 'n rol
gespeel.
Ruan is 'n student en hy getuig ook van die
sinvolheid van die mediasie-sessies. Tydens die
sessies kon hy vrylik sy mening lig. Sy
standpunte is gehoor en het ook 'n
deurslaggewende rol gespeel in die finale
uitkoms. Die kwesbaarheid wat hy beleef het
tydens sy ouers se egskeiding is met die nodige
empatie tydens die terapeutiese sessies hanteer.
"Ek was nie langer 'n speelbal tussen my ouers
nie. Beide het nou agting vir my emosies, en die
belewing van die saak, gekry."
As 'n geskeide pa, sê Johan weer dat hy beleef
het dat hy ook regte het. "Tydens die
mediasie-sessies kon ek my vrese en onsekerhede
baie duidelik uitspel. Die mediator het dit op
'n uiters professionele en sensitiewe wyse
hanteer."
Die sessies met die terapeut het hom rustig
gemaak en van die nodige aanvaarding verseker.
"Ek verstaan nou my kind se behoeftes en vrese
soveel beter na alles wat gebeur het."
Sewe wenke om die seer, trauma en verlies te
hanteer
1.
Kry so gou as moontlik professionele hulp
2.
Hanteer die gebeure en emosies wat jou geluk
steel
3.
Vergewe almal en gee nuwe inhoud aan die
situasie
4.
Dwing met jou optrede respek af
5.
Bly die beste pa of ma vir jou kinders
6.
Kry nuwe perspektief en fokus op positiewe dinge
rondom jou
7.
Leer uit jou foute en behou balans.
|