|
Sonder twyfel is die sonbril die mees arrogante
uitvinding sedert die stoel. Maar wanneer dit
kom by die keuse van 'n nalatenskap, is die méér
arrogante keuse miskien beter. Die sonbed – al
is dit buitengewoon verwaand – is tog steeds 'n
kortkop agter die sonbril. Wie dink eerlikwaar
dat hulle op die son kan verbeter? Dit het egter
'n algemeen erkende funksie: privaatheid en die
leuen van 'n moeitelose sonbruin vel.
Ondanks sonbrilvervaardigers se beste pogings,
kon die gebruik van 'n sonbril nog nooit werklik
aan 'n funksie gekoppel word nie – buiten dat
dit daar is om ander mense op 'n afstand te hou
en die draer onbereikbaar te maak. Dink maar net
aan Jack Nicholson wat selfs 'n sonbril in die
aand dra. Sonder dié aura van misterie en
verwydering sou sonbrilverkope aansienlik laer
gewees het!
Dit is miskien die eerste
aangetekende gebruik van gekleurde lense wat die
ware aard van die sonbril vasvang: Nero het
daarvan gehou om deur smaragde vegtende
gladiators dop te hou – terwyl hy op sy troon
gesit het. Vir hom was dit mos nie spesiaal
genoeg om te kyk hoe mense mekaar dood maak nie:
nee, hulle móés groen gewees het én hy moes op
'n troon sit terwyl dit gebeur het.
Indien ek my egter sou moes oorgee aan die
arrogansie om vir 'n vorm van onsterflikheid
aansoek te kon doen – iets waarvoor ek bekend
sou wees lank nadat ek reeds weg was – sou ek
graag die uitvinder van die sonbril wou wees.
Niks vóór die stoel, en niks ná dit – buiten
dalk 'n troon – het die uitsluitlike doel gehad
om jou in 'n posisie hoër as diegene rondom jou
te plaas nie.
"It's for sitting on the ground, only higher
up," is hoe die uitvinder van die stoel in die
absurde TV-reeks, The Utter History of
Britain, dit gestel het.
Verbeel jou hoe die wêreld se
eerste ambagsman 28 000 jaar gelede twee klippe
teen mekaar gerol het om die wêreld se eerste
stoel te vorm: die een 'n sitplek en die ander
'n rugleuning. 'n Ongemaklike voorwerp wat deur
die eeue heen verfyn is, maar weliswaar 'n stoel
bly.
Die stoel bestaan steeds, maar trone, as 'n
vervaardigde artikel, het egter feitlik
uitgesterf. Wel, amper uitgesterf, nie heeltemal
nie: want die nalatenskap van dié uitvindsel
bestaan nog.
Vrees om
vergeet te word
'n Nalatenskap is wyer as net blote bekendheid.
Die nalater skep doelbewus 'n emosionele band
tussen homself, die artikel of gebeurtenis
waarvoor hy bekend is, en die publiek. Dit is 'n
verbintenis wat dieper as roem strek – hierdie
is 'n reputasie wat beelde oproep wat veel
groter as net die persoon.
'n Nalatenskap was tradisioneel iets wat tot
stand gekom het aan die einde van iemand se lewe
sonder sy noodwendige direkte betrokkenheid
daarby.
Maar, soos dit die geval is by die meeste
erflaters, is die motiverende emosie nie dié van
'n gulhartige gewer nie: daar word eerder gegee
uit die vrees dat hulle vergeet sal word.
Die nuutste vorm van nalatenskap is soos 'n
middeljare-krisis wat veral aan die einde van
loopbane – veral politieke loopbane – tot stand
kom. Dit is 'n eksistensiële krisis wat net
opgelos kan word as daar betekenis was in die
werk wat hulle gedoen het: Ek was hier en ek
het saak gemaak; Ek het gelewe en dit was van
belang gewees; Ek was belangrik, maar my werk is
nou klaar en ek het ook nou 'n plekkie in die
son tussen die ou manne verdien.
Wat die ironie versterk, is dat mense reeds
wil besluit wat die somtotaal van hul eie
bestaan was terwyl hulle nog lewe. Erger nog is
dat hulle spesifiek kies wat hulle betekenis
was: dié keuse van 'n nalatenskap bestaan egter
dikwels uit die reduksie van 'n lewe tot enkele
hoogtepunte.
Die gespartel om aan die Mbeki- en Bush-ampstermyne
betekenis te gee, is twee onlangse voorbeelde.
Soos: is Thabo Mbeki die versoening en mediasie
in Zimbabwe?
Wat as die hoogtepunt wat die betekenis van jou
lewe moes bepaal, negatief is? Is George W. Bush
gelykstaande aan twee ampstermyne in die Withuis
en daarom gelykstaande aan die 9/11
terreuraanvalle, die bittere, nimmereindigende
oorlog in Irak en die grootste ekonomiese krisis
die afgelope 80 jaar?
Die groot gevaar daaraan verbonde om 'n
nalatenskap te verkry terwyl iemand nog leef, is
dat die persoon erken dat daar nou niks meer oor
is wat bereik kan word nie en ophou om in die
teenwoordige tyd te leef.
Dink aan Joel Stransky toe hy sy skepdoel in die
1995- Rugbywêreldbeker-eindstryd tussen die pale
deur sien seil het.
Na dáárdie skepdoel kon daar geen groter oomblik
ooit weer gewees het nie. Erger nog: dink aan
die arme sportkommentator by só 'n wedstryd, vir
wie die hoogtepunt van sy eie bestaan maar net
die aksies van andere is.
In die geskiedenis van die Nasa Apollo-maansendings
was daar ses maanlandings en 12 mense wat op die
maan geloop het – maar geeneen van hulle 'n
tweede keer nie. Die laaste hiervan in 1972, wat
dit sekerlik die menslike aktiwiteit met die
mees beperkte deelname maak.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat enige een van
hiérdie twaalf ooit weer 'n normale lewe kon ly
nadat hulle op die maan was.
Een van die 12 het later gesê dat die oomblik
toe hy teruggekyk het aarde toe en ons
blou-groen planeet in die verte gesien het, hy
besef het dat sy lewe verby was. Nooit, ooit
weer sou hy iets van dáárdie omvang vermag het
nie. Al wat oorgebly het, was die onderhoude,
praatjies en lesingsale om weer van daardie
oomblik te vertel. Hoe klein die aarde was. Hoe
dat almal tegelykertyd bang en dapper was. Die
spanwerk en vriendskappe. Hoe jonk en sterk
hulle was.
Die huidige Indiese en Chinese ruimteprogramme
met aspirasies tot bemande maansendings bedreig
nog nie, maar moontlik gaan Eugene Cernan se
status as die laaste mens om voet op die maan te
sit eendag in die gedrang kom. En wat bly dan
oor as jy jare lank reeds daaroor geroem het?
Wanneer prestasies verwater word deur andere wat
meer bereik. Sal hy dit aanvaar soos 'n 36 jaar
oue rekord wat op 'n sportbyeenkoms gebreek
word?
Daardie Indiese of Chinese maanreisigers sal in
hul eie tyd, met die gepaardgaande terugblik op
wat verby is en dieselfde besef, hul eie
eksistensiële krisisse beleef.
Dit is dalk die gepaste beswarende gevolg van 'n
nalatenskap: Die behoefte om herinneringe van
jouself aan ander op te dring is dalk die
enigste ding wat meer arrogant is as 'n troon.
|