|
Wat hier volg is in wese 'n getuienis. Ek was
self 'n strawwe roker en alkohol gebruiker en ek
het die saak oor die jare baie bepeins en
hierdie is van my waarnemings en gewaarwordinge.
Verskillende Christelike denominasies hanteer
die gebruik van alkohol en nikotien verskillend.
Die sienings rondom hierdie sake is ook baie
uiteenlopend. By die een kerk sal jy sien dat
die diakens en ouderlinge vir oulaas 'n paar
vinnige teue aan 'n sigaret gee alvorens hulle
die voorste gestoeltes in die kerk inneem. By
ander kerke is hierdie gebruik afstootlik en
hulle verkies dat hul lidmate glad nie rook nie
– ten minste nie in die openbaar nie. Ek het
selfs gehoor van 'n kerk waar dit die gebruik is
dat daar 'n bottel drank in die brandkluis is en
na kerkraadsvergaderings maak die broeders 'n
dop of drie voordat hulle vrolik uitmekaar gaan.
By ander kerke word die gebruik van alkohol as
sonde beskou en indien jy op die kerkraad wil
dien, moet jy verklaar dat jy geen alkohol
gebruik nie. By sommige kerke se funksies is
daar selfs wyn op die tafels en lidmate mag
vryelik daarvan gebruik, maar in ander kerke is
dit ondenkbaar dat so iets kan plaasvind.
Jy kan maar vir enige gemiddelde lidmaat vra of
hy in die kerkgebou sal rook en dit sal in die
meeste gevalle onaanvaarbaar wees. Om in die
kerk se tuin te rook of selfs in die konsistorie
sou dalk nie 'n probleem wees nie, maar dis tog
ondenkbaar binne in die kerk. Nog erger – vra
vir iemand of hy sal deelneem aan 'n partytjie
binne die kerkgebou waar daar alkohol gebruik
word – dit sou tog meestal totaal onaanvaarbaar
wees. Ons glo tog dat God alomteenwoordig is -
Hy is binne en buite die kerk, trouens, ons glo
dat ons liggame die tempel van die Heilige Gees
is en nie die kerkgebou nie (1 Kor. 6:19). Ons
glo tog ook dat Hy alwetend is en Hy weet tog
dat jy rook of drink, waar jy dit ook al doen!
Hoekom dan hierdie weerstand? Dan moet daar tog
iets in jou gewete wees wat jou aanspreek – of
hoe?
Wat myself betref: wanneer ek gáán vir 'n saak,
dan doen ek dit met oorgawe en ek het albei
hierdie sake met oorgawe gedoen. Ek was só erg
aan nikotien verslaaf dat ek in die nag wakker
geword het om te rook. Ek het by geleentheid uit
die kerk gestap om te rook, in die middel van
die diens, omdat ek nie meer die drang kon
onderdruk nie! Ek het verskeie kere probeer
ophou, maar was eers die sesde keer suksesvol.
Snaaks genoeg was dit 'n klein plakkertjie op 'n
winkelvenster wat my finaal oortuig het: "Stop
smoking, it is a dying habit". Ek het toe
besluit: as ek buitendien een of ander tyd gaan
ophou, kan ek dit maar net sowel nou dadelik ook
doen. Dit was seker al dertig jaar gelede en om
te rook is nou vir my heeltemal ondenkbaar. Ek
weet wat verslawing beteken en nikotien is baie
erg verslawend. Dit is bykans onmoontlik om op
te hou rook. Die feit dat dit sosiaal
aanvaarbaar is en dat sommige kerke dit selfs
goedkeur, maak dit net soveel moeiliker. Dit is
'n verslawing wat jy openlik kan beoefen, in die
openbaar, en in sommige gevalle word jy selfs
aangemoedig om dit te doen! Dit is ook 'n
kop-ding – indien jy wil ophou moet jy
meedoënloos weerstand bied teen die drang om te
rook – enige swakheid gaan maak dat jy toegee en
dan is dit amper moeiliker om op te hou as
voorheen.
Ek
het geen twyfel daaroor dat dit sonde is om aan
rook verslaaf te wees. Solank as wat iemand dink
dat rook net 'n slegte gewoonte is, is dit
moeiliker om daarvan ontslae te raak. Indien jy
egter oortuig daarvan kan raak dat dit sonde is,
is jou motivering anders.
In die eerste instansie benadeel jy jou
gesondheid – dit staan gewoonlik op die pakkie
geskryf, byvoorbeeld: "Rook kan kanker
veroorsaak". Jou liggaam is 'n tempel van die
Heilige Gees en as jy dit skend, sal God jou
skend (1 Kor. 3:16). Vra maar vir enige
Christelike roker – hy ken gewoonlik hierdie
vers!
In die tweede plek is dit vir jou 'n
afgod: Indien Jesus nou aan jou deur sou klop en
sê: "Ek wil hê jy moet nou saam met my kom sodat
ons mense op 'n afgeleë plek kan gaan bedien",
sou jou eerste gedagte wees of daar rookgoed
gaan wees. Indien Jesus sou sê dat daar geen
sigarette gaan wees nie, sal jy dit ernstig
oorweeg om tuis te bly. Dis 'n afgod – dit staan
tussen jou en God en dit verhoed jou om God
onbevange en met volle oorgawe te dien.
Derdens
moet jy erken dat jy verslaaf is – jy is 'n
slaaf van iets, jy is verplig om hierdie harde
taakmeester te dien sonder dat jy veel weerstand
kan bied. Die Here verwag van jou volle oorgawe
aan Hom en jy kan dit nie doen met hierdie
slawedrywer wat oor jou skouer loer nie!
Vierdens:
God het aan ons die opdrag gegee dat ons nie aan
ons medemens mag aanstoot gee nie. Rook gee
aanstoot – dit irriteer ander mense se lugweë en
daar is Christene wat verseker gaan struikel as
hulle jou sien rook.
Radikale bekering
In ons huis was daar nooit eintlik drank nie –
my ouers was seker maar te arm, maar die kere
wat daar wel gedrink is, was dit gewoonlik 'n
jolige affêre. Finansiële druk het ons seker
maar gered. Op 'n keer het 'n bottel soet wyn sy
weg na ons huis gevind en ek was mal daaroor
–"love at first sight" – soort van. Dit was
werklik vir my lekker en ek het van tyd tot tyd
'n sluk, sommer so direk uit die bottel, geneem.
Ek het nie net van die smaak gehou nie , maar
ook van die gevoel wat daarmee saamgaan. Ek het
my voorgeneem eendag wanneer ek groot is, gaan
ek sorg dat daar altyd genoeg van hierdie
verbode voggies in my huis sal wees.
Só gesê, só gedaan. Ons was pasgetroud, ek het
'n goeie salaris verdien en daar was altyd drank
in die huis. Ons het besef dat dit dalk gevare
vir ons inhou, en daarom het ek en my vrou ons
voorgeneem om nooit alleen te drink nie. Ek is
egter baie lief vir kuier en só het dit dan ook
gebeur dat ons baie gekuier het en dit was vir
ons nie snaaks om na 'n harde dag se werk te
gaan kuier of mense te ontvang nie. Dit het ons
maklik drie tot vier keer per week gedoen en dit
was vir my nie snaaks om tydens sulke
geleenthede 'n halwe bottel brandewyn op my eie
uit te drink nie.
In Mei 1984 het ek en drie van my drinkebroers
met ons gades radikaal tot bekering gekom. My
lewenswyse het dadelik begin verander en baie
van my sondes het ek begin aflê, maar die drank
het maar bly vassit. Al agt van ons het as nuwe
mense teruggekom van 'n geloofsekerheid-seminaar,
maar ons het nog steeds saam ons dop gemaak. Ek
het begin afskaal en my drankgebruik het gekwyn
tot een glas wyn op 'n Sondag met ete en dan ook
per geleentheid. Een Sondagoggend toe ek op my
bed sit sê 'n stem vir my: "Hou op drink". Eers
dog ek, ek verbeel my seker maar en ek begin
redeneer: Daar is basies drie magte wat in 'n
mens se lewe werk – dit is óf God, óf Satan, óf
dit is ekself. Hierdie stem sal definitief nie
van myself of van Satan wees nie, dus móét dit
God wees. Ek skrik toe groot en dink toe só in
my gedagtes: "Here, U tydsberekening is glad nie
goed nie – ek gaan vanmiddag by een van ons
vriende kuier en ons gaan verseker 'n paar happe
maak." Die stem kom toe 'n tweede keer: "Hou op
drink".
Ek dink toe: "Here, maar U weet tog dat ons
volgende week met vakansie gaan en ek kan tog
nie sonder bier vakansie hou nie".
Die stem kom toe 'n derde keer na my: "Hou op
drink" en toe het ek geluister en het daar en
dan opgehou. Nie dat die versoekings opgehou het
nie!
Versoekings
Ek weet ook wat dit beteken om terug te val –
dit het twee keer so ampertjies gebeur. Die
eerste keer was toe ons saam met my familie in
'n huis in die Sabie Sand gaan kuier het. Ek het
my voorgeneem om te drink – net vir die naweek
en dan sou ek weer ophou. Dit het met 'n bier
begin op die Vrydag en teen Saterdagaand het ons
goed gekuier. Om die kampvuur het ons begin
argumenteer en toe later gaan slaap sonder dat
die verskille bygelê is. Sondag, op pad huis toe
het ons alle krane oopgedraai en dit het byna op
'n ramp uitgeloop. Soos Jona van ouds moes ek
toe teenoor hulle erken dat ek die oorsaak vir
die storm was – ek het God se opdrag willens en
wetens oortree. Toe eers het alles weer
genormaliseer. Die tweede keer was nie so lank
gelede nie – ek was vir sowat agt jaar 'n
geheelonthouer. Ek het weer begin drink, eers 'n
bietjie en toe meer en meer. Ek was só kwaad vir
myself want sowat 'n jaar later was ek weer so
ampertjies terug in die kake van my ou vyand.
Soos wat ek meer en meer begin drink het, het my
verhouding met die Here agteruitgegaan. Paul
Smit vra toe eendag vir my: "Hendrik, is daar 'n
opdrag van die Here wat jy willens en wetens
oortree?" Ek het dit toe teenoor hom erken en
onmiddellik weer opgehou drink. Van toe af is ek
weer 'n geheelonthouer en my verhouding met die
Here het eensklaps herstel. Dit was in Mei 2006
– sowat twee en 'n half jaar gelede.
Dit was vir my baie swaar om op te hou drink.
Nie alleen was die verslawing 'n groot
struikelblok om te oorkom nie, maar ook die
sosiale aspek daarvan. Ek is baie lief vir mense
en my vriende was vir my baie belangrik. In die
proses moes ek elkeen van my drinkebroers
deurwerk en aan hulle verduidelik dat ek nie
meer drink nie. Sommige was dadelik inskiklik en
het dit vir my maklik gemaak, maar ander was
aanhoudend en het my gedurig daaroor geterg. Ek
het baie vriende verloor – nie dat ons
kwaaivriende geword het nie – hulle het ons net
nie meer na hul partytjies toe genooi nie. Aan
die ander kant het ons baie nuwe vriende bygekry,
kinders van die Here, mense wat voorheen vir ons
vreemd was. Ons drinkpartytjies is vervang met
Bybelstudiegroepe, kampe en seminare en daardie
vriendskappe was in sekere opsigte hegter as van
ons voriges.
Wanneer ek deur só 'n moeilike proses gaan dan
weet ek dat die Here besig is om my iets te
leer, daarom het ek ook oor hierdie saak baie
goed nagedink en tot die volgende slotsom gekom.
Ek praat ook hier oor die gemeenskap wat ek ken,
naamlik die blanke Afrikanergemeenskap. Daar is
twee kulture wat definitiewe konnotasies het:
Die drinkkultuur en die geheelonthouers. Daar is
ook verskeie groeperinge tussen hierdie twee
uiterstes. Ek was vir baie jare in beide kulture,
dus kan ek seker met 'n mate van gesag hieroor
praat. Elke kultuur het 'n eie karakter en
alhoewel jy nie 'n duidelike streep tussen die
twee kulture kan trek nie, is dit tog twee
duidelike groepe. As jy mooi dink sal jy weet
aan watter kultuur jy behoort en daar is ook 'n
grys gebied waar 'n vermenging van die twee
kulture gevind kan word. In die drinkkultuur is
dit die manne "met die kanne in die hanne". Dit
is amper soos die advertensie van ouds gesê het:
braaivleis, rugby, sonneskyn en brandewyn (of
was dit nou 'n motor?). Die geheelonthouers is
anders – hulle is meer rustig, wanneer hulle
kuier is dit minder luidrugtig en dikwels gaan
die gesprekke oor die Here.

Hierdie klink dalk na 'n growwe veralgemening en
daarom moet jy maar die skoen aantrek indien dit
jou pas! In ander dele van die wêreld werk dit
dalk anders, maar dit is tog hoe ek dit
waargeneem het. Daarmee sê ek glad nie dat
iemand wat drink of rook nie in die hemel kan
kom nie. Ek sê ook nie dat 'n drinker of roker
nie baie ernstig oor die Here kan praat en dink
nie. Mense het al vir my gesê dat hul verhouding
met die Here verbeter het nadat hulle opgehou
het met rook en/of drink. Nog niemand het al
ooit teenoor my beweer dat hul verhouding met
God verbeter het sedert hulle begin rook of
drink nie. Sien jy kans om saam met jou gesin
huisgodsdiens te hou nadat jy (en jou vrou?) 'n
drankie of twee gedrink het. Dink jy dit is reg
om in die Bybel te lees terwyl jy 'n brandende
sigaret tussen jou vingers het? Sou jy aanstoot
neem as iemand rook terwyl daar gebid word?
In my oorgang van 'n oormatige drankgebruiker na
'n geheelonthouer het ek met albei kulture te
doen gekry, maar ook met die tussenstadia. Omdat
ek 'n people pleaser is het ek aangepas
by die geselskap waarin ek was. Dit het tog vir
my gelyk asof die ouens wat 'n paar drankies
agter die blad het al hoe meer neig om oor
vleeslike dinge te praat. Soos wat dit later (en
kwater?) word en die manne (en vroue!) meer
drank gebruik word dit gewoonlik meer luidrugtig
en dit kan selfs banaal raak. Tussenin is daar
die ouens wat radikaal tot bekering gekom het,
maar nog steeds alkohol gebruik en moontlik ook
rook. Hierdie groep laat hulle gewoonlik deur
die houding van die gasheer by wie gekuier word
lei.
'n
Vraag wat jy jou gerus kan afvra, is: Gestel
daar is so 'n duidelike groepering – waar sou jy
graag jou kinders wil grootmaak? Sou jy graag
jou kleinkinders aan die drinkkultuur wil
blootstel? Daar is verseker mense wat sal
struikel as hulle jou in 'n drankwinkel sien
ingaan – veral as jy uitstaan as 'n deurleefde
Christen. Indien jy 'n jong man is wat vrou soek
– in watter kultuur gaan jy hom/haar soek?
Wanneer jy drank gebruik of rook word jy
geëtiketteer – jy kan niks daaraan doen nie –
dit gebeur net. Jy word in 'n kategorie geplaas,
of dit nou reg of verkeerd is, dit gaan gebeur.
Toe ek jonk was het die manne byvoorbeeld geglo
dat 'n meisie wat rook makliker saam met iemand
bed toe sal gaan! Indien jy 'n geheelonthouer
is, sal jy waarskynlik ook 'n etiket moet dra.
Ek het ervaar dat daar slegs een manier is om
permanent na die ander kultuur oor te beweeg –
en dit is om 'n geheelonthouer te word. Dit het
vir my gegeld en ek glo dit kan dalk ook vir
ander mense werk. Een glasie wyn somtyds tydens
ete was genoeg om my in die ander kultuur te hou.
Indien jy huiwerig is om hierdie stap te neem –
hoekom is jy huiwerig? Dit is somtyds goed om
ander mense ook te konsulteer. Praat met jou
naby familie, jou vrou, jou kinders, jou ouers,
jou vriende – jy is gewoonlik so subjektief
betrokke in hierdie saak dat dit dalk moeilik is
om jou self te evalueer. Sou jou vrou en kinders
verheug wees as jy ophou rook en/of drink. Dit
behoort 'n goeie aanduiding te wees.
|