|
Roepingsvervulling
Om die begrip "roepingsvervulling" reg te
verstaan, moet daar eers na die letterlike
betekenis van die woord gekyk word, naamlik,
roeping en vervulling:
Roeping: iemand staan en roep. Hy roep ons – en
dan kom ons . . . of ons kom nie.
Vervulling: dit beteken "om vol te maak". Iets
is leeg, en nou word dit gevul, hervul, vervul,
volgemaak.
Roepingsvervulling is altyd 'n persoonlike saak,
maar mens mag nooit jou roeping as iets abstrak
beskou nie. Daar is egter soms die versoeking om
sekere pligte en take as onpersoonlik te sien:
as dinge wat gedoen móét word. Agter jou roeping
moet jy egter altyd die Roeper self sien en hoor
- soos jy in die geloof ágter die Wet, die
Wetgewer sien en hoor. Ons staan dus nie bloot
in 'n roeping nie, ons staan voor die Roeper
self. Dié Roeper is natuurlik God, God Drie-enig,
die liefdevolle Vader, die versoenende Seun en
die Heilige Gees wat elke oomblik kragtig in en
deur ons werk.
Ek kan nie voluit lewe en my roeping vervul as
ek nie die noodsaaklikheid van selfkennis besef
nie. Indien ek myself ken, kan ek al hoe meer
die mens word wat God wil hê ek moet wees. Dit
is alleen moontlik indien ek beide sterk- en
swakpunte in my eie lewe kan identifiseer.
Indien ek die sterkpunte geïdentifiseer het,
moet ek dan begin om dit prakties toe te pas en
dit sodoende deel van my lewe te maak. Die
swakpunte moet aanvaar word en indien daar
krisisse is wat nog nie hanteer is nie, moet dit
so gou as moontlik aandag geniet. Die sterkpunte
moet ook doeltreffend aangewend word in my eie
lewe om my menswees sodoende te komplementeer en
uit te bou. Die swakpunte moet sinvol en
doeltreffend beheer word sodat ek effektief en
doelgerig kan lewe.
Die ontwikkeling en uitbouing van my sterkpunte
moet altyd in afhanklikheid en onder leiding van
die Heilige Gees geskied. Dan kan dit eers
beskikbaargestel word en gedeel word met die
mense rondom my. Dan eers word ek die medemens
wat ek in Christus moet wees.
Effektiewe tydsbenutting
Iemand het by geleentheid gesê: "As jy nie weet
waarheen jy gaan nie, sal jy waarskynlik op 'n
ander plek uitkom."
Dit sluit ook aan by dié waarheid: "Wie nie
daarin slaag om te beplan nie, beplan om nie te
slaag nie."
Om sonder God te beplan, is verkeerd
(Jak.4:13-17), maar biddende beplanning vir die
toekoms is reg (2 Kor.9:1-8).
Wilkinson stel dit só: Effektiewe tydsbenutting
hang ten nouste saam met effektiewe
besluitneming.
Indien ek my tyd effektief wil benut, moet ek
altyd drie sake verreken, naamlik die hede, die
verlede en die toekoms. Elke mens leef elke dag
met invloede daarvan saam. Ek kan vashaak by die
seer of mooi van die verlede, óf ek kan so
bekommerd wees of uitsien na die toekoms dat ek
nie vandag leef nie. Dit is daarom belangrik dat
ek die mooi en die seer van die verlede gebruik
as 'n leer-ondervinding en dat ek beplan vir die
toekoms om sodoende die bekommernis, of uitsien
na die toekoms, in perspektief kan plaas. Indien
ek by die verlede of toekoms vashaak, dan raak
elke dag vir my 'n krisis wat deurleef moet
word. Effektiewe tydsbenutting word dus
onmoontlik.
Prioriteitsbeplanning
Dit is onmoontlik om 'n sinvolle en gelukkige
lewe te lei indien daar nie van prioriteite
gebruik gemaak word wat rigting gee nie.
Die Spreuke-digter het dit reeds bevestig in
Spr.16:1,3 en 9: "'n Mens kan sy voornemens hê,
maar die laaste woord daaroor kom van die Here
af. Laat wat jy doen aan die Here oor, dan sal
jou voornemens geluk. 'n Mens beplan sy pad,
maar die Here bepaal hoe hy loop."
Wie onthou nog daardie ou bekende
drankadvertensie: "Jy kan bly soos jy is vir die
res van jou lewe, of jy kan wegbreek na
Mainstay."
Ons weet dat 'n mens wel kan verander en
voortdurend moet aanpas.
Tydens 'n beradingsessie het ek by geleentheid
aan 'n kliënt gesê dat hy vir homself, deur God
se genade en die krag van die Heilige Gees in
hom, moet sê: "Ek kan en ek wil".
Sy antwoord aan my was: "Ek kan, en wil glad nie
meer nie, want ek is moeg en moedeloos - by
breekpunt, máár – ek weet ek
moét."
Hy het besef dat doelgerigte beplanning en 'n
bewuste herformulering van sy prioriteite 'n
groot verskil in sy lewe kan maak.
Om sonder prioriteite te lewe, kan deur twee
metafore beskryf word:
* 'n Skip op die oop see wat oppad is na 'n hawe,
maar die kaptein weet nie na watter spesifieke
hawe nie – dit is met ander woorde 'n doellose
vaart.
* Die plaasseun wat vir sy pa gevra het om hom
te leer ploeg. Sy pa het geantwoord dat dit baie
maklik is: jy klim op die trekker, kry vir jou
'n baken op die horison en ploeg reguit soontoe
terwyl jou oë daarop gevestig bly. Dit het baie
eenvoudig geklink! Die seun het gemaak soos sy
pa gesê het, maar toe hy by die einde van die
land kom, was sy ploegvore skuins en skeef – sy
baken was toe al die tyd 'n weiende bees wat
heeltyd beweeg het.
Baie mense tree dikwels nét so op: hul bakens is
iets wat nie vas is nie, of iets wat mens kan
verloor soos jou lewensmaat, kinders, status,
geld of gesondheid. Ons oog moet egter op Jesus
Christus gevestig bly. Die kruis, as baken, sal
sodoende ons rigting bepaal.
Die vyf prioriteite is:
* My verhouding met God - want ek moet God
liefhê met alles wat ek het.
* My verhouding met myself - want ek moet al
meer die mens word wat God wil hê ek moet wees.
* My verhouding tot my naaste – my lewensmaat,
kinders en dan eers familie en vriende.
* My verhouding tot my werk - om sodoende ook
daar God se Koninkryk te laat geskied.
* My verhouding tot my vryetydsbenutting, sport
en ontspanning - om sinvol die daaglikse roetine
af te wissel en van stres ontslae te raak.
Dit is goed en wel om hiérdie prioriteite na te
streef, maar dit sal geen waarde hê as dit net
by drome bly nie.
Om praktiese uitvoering aan elkeen te gee, is
dit noodsaaklik dat 'n aksieplan opgestel word.
Doen dit so: langs elkeen van die vyf
prioriteite, skryf drie aksiestappe neer wat jy
beplan om te doen om dit te bereik.
Maar onthou, om oor die algemeen sinvol en
gelukkig te wees, is dit ook noodsaaklik om op
die kort-, medium- en selfs langtermyn
doeltreffend te beplan. Daarom moet jy ook langs
jou aksiestappe aandui oor watter tydsduur jy
beplan om dit uit te voer, sodat 'n bepaalde
prioriteit daardeur geëvalueer kan word.
Her-evaluasie is kort-kort nodig, want dit is 'n
dinamiese proses wat aan die gang gesit is.
Indien die proses momentum kry en 'n leefwyse
begin raak, kan nog aksiestappe by die aksieplan
gevoeg word.
|