|
Is jy kronies moeg? Konsentreer jy baie sleg?
Kry jy maklik verkoue? Het jy klagtes van
opgeblasenheid, hardlywigheid en ander
spysverteringsprobleme? Kry jy dikwels hoofpyn
of pyne in jou gewrigte? Het jy onverklaarbare
veluitslae?
Dan kan jy dit gerus oorweeg om te detoks!
Tydens die eerste
dag kan jy dalk baie moeg en geïrriteerd voel en
weens die onttrekking van kafeïen en suiker, kom
hoofpyne ook algemeen voor. Dit word dus
aanbeveel dat jy reeds 'n paar dae voor die tyd
stelselmatig jou koffie-, tee- en suikerinname
te verminder, en dit later heeltemal uit te sny.
Neem ook 'n vitamienaanvulling soos Vit B-kompleks
en 2000 mg Vitamien C 'n paar dae voor jy begin.
Wanneer jy detoks word potensieel toksiese
stowwe uit jou liggaam verwyder. Dit help dat
die normale sisteme van jou liggaam, wat
verantwoordelik is vir die uitskeiding van
afvalstowwe, weer hul werk normaal kan doen.
Hiérdie organe is die lewer, dikderm, vel en
limfstelsel.
Die kern van detoks berus op die verminderde
inname van toksiese stowwe, 'n verhoogde inname
van kossoorte met 'n hoë vitamien- en
mineraalinhoud, en ook 'n groter inname van
water en veselryke-voedsel wat help dat jy van
meer afvalstowwe ontslae raak.
Basiese riglyne
Daar is verskeie detoksprogramme beskikbaar vir
drie dae, 'n mini-vas, twee weke of selfs 'n
maand – maar deur net hiérdie basiese riglyne te
volg, kan jy jou liggaam reeds op die pad van
herstel plaas met jou eie tuis-detoksprogram:
●
Spoel die gifstowwe uit: drink baie water – ten
minste agt glase per dag. Water help die dikderm
en niere om gifstowwe uit te skei, en help ook
om jou vel mooi te laat lyk.
●
Skrop jou ingewande: eet baie vesel – dit
bevorder die skoonmaakproses. Vermy verfynde
kosse soos brood en geprosesseerde voedsel. Eet
hawersemels, fyngedrukte lynsaad, sonneblom- en
sesamsade oor jou ontbytpap en slaaie. Deur
gesonder voedsel in te neem, kan jou liggaam nou
op die gifstowwe wat opgehoop het fokus.
●
Laat jou gifstowwe verdamp: bevorder sweet –
hetsy deur oefening, gereelde warm storte, sauna
en oefening. Dit bevorder sirkulasie, die
uitskeiding van gifstowwe deur die vel en help
om jou stres te verminder.
●
Gee jou liggaam kans om te werk: ontspan – stres
het 'n ekstra lading op jou kolon tot gevolg.
Deur jou stres te verminder kry jou kolon kans
om gifstowwe meer effektief uit te skei. Dis nóú
die tyd om ontspanningoefeninge te doen.
●
Bederf jouself. Bad in die warm moontlikste
water. Los so vyf koppies Engelse sout, of
growwe seesout, in die water op. Drink koel
water terwyl jy jou gedagtes skoon kry. Skrop
jou lyf met 'n luffaspons vir beter bloedsomloop.
Gaan vir 'n limfdreinering.
●
Laat staan die gif. Sny alle alkohol, kafeïen,
gaskoeldrank en nikotien uit.
Onthou:
●
'n Detoksdieet moet nie gevolg word met die doel
om gewig te verloor nie.
●
Indien jy aan 'n ernstige kroniese kwaal lei,
moet jy eers jou geneesheer raadpleeg voordat jy
'n detoksdieet volg. Moet ook nooit jou kroniese
medikasie stop wanneer jy detoks nie.
●
Indien jy siek word van die detoks – soos
braking, naarheid, floutes of enigiets anders –
stop dadelik.
●
Daar is sommige kritici wat voel dat aangesien
jou liggaam spesiaal gemaak is om afvalstowwe
uit te skei, die mens nie 'n detoksdieet benodig
nie. Ander weer sê jy kan net sowel gesond eet.
Maar doen eerder iets aan jou gesondheid en kry
jou energievlakke op. Jy sal selfs beter
konsentreer as jou binneste skoon is!
●
Laastens: Na Desember se lekker kuier verdien
ons lewer en spysverteringstelsel mos 'n
hupstoot!
|