Skop die gejaagdheid onder sy alie!

Dit voel soms of die tyd onder 'n mens wil uithardloop; asof die week net vyf in plaas van sewe dae het! Asof daar net te min tyd vir alles is. Boonop word 'n mens se daaglikse lewe deur spanning, spertye, kwellinge, afsprake, vergaderings, bekommernisse en persoonlike krisisse oorgeneem. Maar in al hierdie harwar doen jy jou persoonlike menswees geweldig baie skade aan. Stop die bus en gee meer gereeld aandag aan jouself.
Volg dan dié 8 stappe om jou menswees te herstel:
Stiltetyd
In al die daaglikse gejaag en spanning is dit goed om 'n breuk te neem en tyd te maak vir eie-tyd. Ontsnap van alles wat aanspraak maak op jou tyd soos jou selfoon, TV, werksverpligtinge en die samelewing. Bring elke dag vir 'n paar minute in stilte op jou eie deur. Skep jou eie stiltehoekie iewers in 'n park of in jou tuin of huis waar jy net met jou eie gedagtes kan wees. Gebruik die tyd om rustig te wees en perspektief oor jou lewe en die uitdagings wat wag te kry.
Ontspan
Gaan stap 'n ent: dit laat jou nie net ontspan nie, maar is ook goeie oefening. Terwyl jy stap kry jy ook tyd om met jouself te gesels en jou kop skoon te kry en dit gee vir jou die gevoel van gesondheid en lewenslus.
As jy naby die kus bly, gaan sit op 'n rots en kyk oor die wye groot oseaan uit. Of as jy in die binneland bly, klim 'n heuwel uit waar jy ver en wyd kan kyk. En daar weg van almal af, onthou jy dalk weer jou perspektief. Skryf dan die doel van jou lewe neer. Skryf jou drome en ambisie neer. Ons kom te min tot stilstand om die breër prentjie van ons lewe te waardeer en te bedink.
Lysietyd
Maak 'n lysie van 20 dinge wat jy nog graag wil doen in jou lewe en wat jy sal geniet. En begin dan sommer vandag met een van die dinge op jou lysie.
Empatie
Dit is goed om empatie met jouself te kry.
Wanneer jy deur trauma, spanning, hartseer of slegte tye gaan wees genadig met jouself. Jy hoef nie altyd net die sterkste te wees en alles honderd persent reg te doen nie. Troetel jouself met 'n bietjie genade en simpatie.
Vriendelikheid
Glimlag en wees vriendelik met iemand wat jy pas ontmoet het. Bring 'n titsel sonskyn in iemand anders se lewe – jy sal die vrugte daarvan pluk. Gee vir iemand 'n stukkie liefde en 'n drukkie, reik uit en luister met empatie.
Kies jou vriende
Moenie jou tyd mors met mense wat jy nooit tevrede kan stel nie. Sulke mense is uitputtend en emosioneel afbrekend. Werk en leef saam met mense waarvan jy hou en goed mee klaarkom. Omring jou met positiewe mense.
Gesonde eetgewoontes
Eet 'n goeie, gesonde en gebalanseerde ete. Ons spoed voort en is soms te besig vir 'n goeie gesonde ete! Maak tyd om 'n slag weer 'n ordentlike gesonde bord kos te eet. Onthou: 'n gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees.
Vergeet van woede
Bêre jou woede en skuif dit weg. Ja, die lewe is vol frustrasie, maar sommige mense het die gewoonte om elke dag kwaad te word. Mense wat voortdurend kwaad is vir alles en almal versuur die lewe – nie net vir ander nie, maar ook vir hulself. Sulke mense kan nooit gelukkig wees nie. Sien die goeie in 'n situasie, lag vir jouself en waardeer die genade om te kan lewe en lief te hê.
Stuur aan hom 'n e-pos by st@pitkos.co.za of besoek sy webtuiste by www.pitkos.co.za.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joumenswees volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

