Januarie 2009
Jaargang 1 Uitgawe 6

 

 


  Ons is plesierig – oeps, ek's swanger!

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deur
Jan Botha
 

Buite-egtelike swangerskap is glad nie meer vreemd binne die moderne gemeenskap nie – maar ook net totdat dit jóú tref: wanneer jy besef dit is jý wat swanger is! Dit wat aanvaarbaar binne die moderne gemeenskap is, word dan 'n krisis vir die swanger tiener.


(Foto: http://www.sxc.hu/)

Tolla van der Merwe het altyd die grappie vertel van die matriekdogter wat saam met haar maats vakansie gaan hou het om die matriekeksamen te vier. Haar pa het sy vaderlike plig nagekom en haar duidelik gevra om "tog mooi agter haarself" te kyk.
Toe sy en die maats na twee weke se plesierige vakansie van die see af terugkom, wou die pa belangstellend weet hoe dit gegaan het. Sy antwoord toe: "Pa, ek het mooi agter myself gekyk, maar toe breek die outjie voor in."
Dit is weer vakansietyd – en ten spyte van voorbehoedmiddels wat vrylik beskikbaar is, raak tieners steeds swanger.
Wat nou gemaak?

Volwassenheid en kontrole

Die hoofkenmerke wat in 'n tiener se lewe deurslaggewend moet wees ten opsigte van seksualiteit, is volwassenheid en kontrole.
Volwassenheid beteken dat die tiener, ten opsigte van die seksuele, altyd oop en eerlik teenoor homself en die ander persoon moet wees. Hiérdie openheid en eerlikheid moet te alle tye tussen die partye gehandhaaf word, anders kan onvolwassenheid in die verhouding intree. Onvolwassenheid bou skanse en bring verwydering.

Maar tieners is veronderstel om in hiérdie stadium van hul lewe slegs in die voorbereidingstadium vir volwassenheid te wees. Indien 'n tiener swanger word "staan sy in twee wêrelde, dié van 'n kind en dié van die vrou", verduidelik mev. Schieke, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad in Noord-Transvaal. Die swanger tiener moet dan die ontwikkelingstake van 'n volwasse vrou bemeester as gevolg van haar swangerskap. Dit sluit take in soos:
die integrasie van liggaamlike veranderinge in 'n nuwe selfkonsep;
die identifisering van 'n vroulike identiteit en die identifisering van haar plek as vrou in die wêreld;
geleidelike losmaking vanaf ouerlike gebondenheid, dit wil sê, die onafhanklikwording van die ouers. Sy is nie meer 'n dogtertjie nie, maar word ook nie sonder meer as vrou aanvaar nie aangesien sy nog nie al die ontwikkelingstake van die tiener voltooi het nie. Sy moet dus nou die ontwikkelingstake van die volwasse vrou begin bemeester as gevolg van die swangerskap – en dié oorbrugging is 'n geweldige groot sprong.

Vrae en emosies

Buite-egtelike swangerskap is glad nie meer vreemd binne die moderne gemeenskap nie – maar ook net totdat dit jóú tref: wanneer jy besef dat dit jý is wat swanger is! Dit wat aanvaarbaar binne die moderne gemeenskap is, word dan 'n krisis vir die swanger tiener. Dit beïnvloed hulle vir die rés van hul lewe.

Prof. Daniël Louw van die Universiteit van Stellenbosch verduidelik in sy boek Menslike Ontwikkeling, dat verskillende vrae en emosies ontstaan wat deur die tiener en al die betrokke partye hanteer moet word. Dit sluit vrae en emosies soos die volgende in:
Emosies wat die tiener tydens die ontdekking van die swangerskap ervaar het: Het dit gevoel of my hele lewe in duie stort, skok, was dit hartseer, skaamte, depressie, jammerte, ongelukkigheid, onsekerheid en teleurgesteld in myself?
Die gevoel van 'n persoonlike worsteling met God oor wat gebeur het: Is daar vergifnis, wat het God met seksualiteit bedoel, hoe verantwoord ek my besluit teenoor God en hoe vind ek berusting?
Worsteling met jouself oor wat gebeur het: Waar het ek gefaal, wat het daarvan en vir my oorgebly, wat sal ander van my dink en hoe sal ek ooit weer my selfbeeld kan herstel?
Gevoel van teleurstelling ten opsigte van almal rondom jou en die hoeveelheid mense wie se lewens daardeur beïnvloed word.
Die kere wat jy in sirkels gedink het oor die moontlike versorgingsmoontlikhede vir hierdie onbeplande baba: sal ek trou, enkelouerskap, aanneming, pleegsorg of aborsie?
'n Bang en onseker gevoel oor hoe die tiener die besluite wat nou geneem moet word, eendag teenoor die kind sal moet verduidelik.
Die bekommernis en vrees oor die effek wat hierdie swangerskap op die res van die kind, en die tiener-ouers, se lewens sal hê.

Wat nou?

Die kernvraag in ouerskap is nie of iemand 'n kind in die wêreld kan bring of wettig kan aanneem nie, maar eerder of die persoon 'n kind in hierdie wêreld só kan versorg en begelei dat hy tot 'n volwaardige volwasse mens kan ontwikkel.
Wanneer 'n nuwe lewe verwek is, word daar outomaties drie persone by die situasie betrek: die biologiese moeder, die biologiese vader en die ongebore baba.
Die bekende Duitse teoloog Helmut Thielicke verduidelik dat ouerskap in die Bybel as 'n amp beskou word, wat deur God aan die mens toevertrou word.
Dit impliseer dat twee mense met 'n lewe vertrou word waarvoor hulle verantwoordelikheid moet aanvaar. Beide ouers is, volgens God se skeppingsordening vir die huwelik en gesin, verantwoordelik vir dié geleende gawe.

Tienerswangerskappe – hoekom?

Tienerswangerskappe is aan die toeneem: dit kan grootliks toegeskryf word aan die feit dat kinders fisiologies vroeër begin ontwikkel as gevolg van verbeterde lewensomstandighede, voeding en gesondheid. Dogters begin ook op 'n vroeër ouderdom menstrueer – reeds tussen 9 en 12 jaar. Dit alles veroorsaak dat tieners makliker swanger raak, en dit verleng die periode aansienlik tussen seksuele volwassenheid en die huwelik.

Daar is baie redes hoekom tienerswangerskappe plaasvind – boonop is elke geval uniek – maar navorsing het die volgende faktore geïdentifiseer wat die risiko van só 'n swangerskap kan verhoog:
'n Swak moeder-/dogterverhouding wat dikwels spruit uit ruwe en liefdelose optrede van die moeder se kant. Uithuisigheid, drankmisbruik en afgestomptheid van die moeder laat die tiener verwerp voel en help mee tot aggressie en opstandigheid. Dit vorm 'n vrugbare teelaarde vir buite-egtelike verhoudings.
'n Swak vader-/dogterverhouding speel ook 'n groot rol. Tieners is geneig om dan verhoudings met ouer mans, wat as 'n vaderfiguur dien, aan te gaan.
'n Swak selfbeeld en minderwaardigheidsgevoel gee soms aanleiding tot 'n verhouding wat sterk seksueel gekleurd is.
'n Ouerhuis waar ouers hulleself aan buite-egtelike verhoudings skuldig gemaak het, en waarvan die kinders bewus is, gee maklik aanleiding tot nabootsing van ouers se gedrag en optrede.
Geen of ongewenste geslagsvoorligting, waar 'n negatiewe en verwronge beeld oorgedra word aan die tiener ten opsigte van die seksuele.
Ontwrigte gesinslewe met min effektiewe bindinge en 'n gebrek aan sekuriteit.
'n Uitgerekte liefdesverhouding wat nie op 'n huwelik uitloop nie, omdat die betrokke partye nog nie fisies en emosioneel daarvoor gereed is nie.

Tienerswangerskappe kom algemeen voor: daarom moet die gemeenskap, ouers asook die tieners bewus gemaak word van die moontlike gevolge daarvan.
Wanneer die tiener in die huis wel swanger raak, moet alle betrokke partye – beide tieners asook beide ouerpare – die situasie sinvol en met die nodige verantwoordelikheid hanteer sodat die tieners daarna, ten spyte van moeilike omstandighede, die nodige aanpassings kan maak. 'n Openheid asook 'n vertrouensverhouding moet geskep en gehandhaaf word om sodoende maksimale kommunikasie te waarborg.
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 




 

 
 



Lees ons ander
uitgawes
2008
Augustus
September
Oktober
November
Desember
2009
Januarie
Februarie