joumenswees

  

 
Servikale kanker is 'n werklikheid – papsmere 'n noodsaaklikheid

 

September is servikale kankermaand – die ideale maand vir 'n papsmeer. Kry hier die antwoorde op al jou vrae!



deur
Karin Bain

Wat is servikale kanker?
Servikale kanker is die kanker van die selle van die serviks of die mond van die baarmoeder of uterus, en is die mees algemene kanker by Suid-Afrikaanse vroue. Maar dit kan genees word indien dit in 'n vroeë stadium opgespoor en behandel word.
 

Wat is 'n papsmeer?

Papsmeer is die neem van selle van die serviks waartydens die vagina ook ondersoek word vir tekens van infeksie of ander probleme. Die vagina word oopgemaak met 'n spekulum en selle word deur 'n hout-spatel of 'n borseltjie verwyder. Dit word gesmeer op 'n plaatjie en bespuit met fiksasie-sproei. Die selle word in 'n laboratorium ontleed. Indien daar geen abnormaliteite teenwoordig is nie, is dit nie pynlik om die selle te verkry nie, maar die ondersoek as sodanig kan ongemaklik wees.

Onthou, indien jy dit seer en ongemaklik vind wanneer die ginekoloog die spekulum plaas, mag jy vir 'n groter dosis lubrikasiemiddel vra. Vir vroue wat dit moeilik vind om te ontspan tydens dié proses, is dit beter om dit tydens die somermaande te doen. As jy koud kry is dit moeilik om te ontspan.

Deesdae word 'n papsmeer deur geneeshere met 'n plasties weggooibare en gesteriliseerde spekulum, wat minder koud en ongemaklik is, gedoen.

Wat gebeur as daar abnormale selle gevind word?
Wanneer abnormale selle tydens 'n papsmeer gevind word, kan hierdie selle behandel word sodat hulle nie in kankerselle ontwikkel nie. Dié behandeling vind onder lokale verdowing plaas. Daar is verskeie metodes om die abnormale selle te vernietig om te voorkom dat hulle nie ontwikkel in kankerselle nie.
 

Wie loop die gevaar om servikale kanker te ontwikkel?
§ Persone wat van 'n vroeë ouderdom seksueel aktief is
§ Indien jy of jou liefdesmaat baie seksmaats het, of gehad het.
§ Indien jy 'n seksueel oordraagbare siekte het, of gehad het
§ Indien jy reeds swanger was en geboorte gegee het
§
Indien jy rook 
 

Wie behoort 'n papsmeer te kry?
§ Alle vroue wat seksueel aktief is
§ Vroue wat tussen die ouderdom van 20 en 60 is
§ Vroue wat nog nooit 'n papsmeer laat doen het nie
§ Indien die laaste papsmeer in enige opsig abnormaal was
§ 'n Voortdurende bloederige vaginale afskeiding, of bloeding na gemeenskap, is ook 'n teken dat 'n papsmeer nou noodsaaklik is. 
 

Wanneer moet ek 'n papsmeer laat doen?
Dit is raadsaam om een maal per jaar 'n papsmeer te laat doen, verkieslik ongeveer twee weke nadat menstruasie begin het. 'n Moontlike vaginale infeksie moet eers behandel word anders gaan dit die uitslae beïnvloed.
 

Wie moet dit doen?
Jou algemene praktisyn, ginekoloog of die suster by die kliniek kan almal 'n papsmeer doen. MAAR kies iemand wat gereeld papsmere doen en wat jy vertrou.
 

Hoe weet ek of daar fout is?
Dit is jou verantwoordelikheid om die uitslae te kry. Vra na die ondersoek wanneer hulle die uitslae verwag, teken dit aan op jou kalender en bel indien hulle jou nie self laat weet nie. Onthou: GEEN uitslae is NIE noodwendig goeie uitslae NIE!
 

Onthou:
Indien jy enigsins vermoed iets is fout, moenie gerus voel net omdat jy onlangs 'n papsmeer gehad het nie. Indien jy 'n abnormale bloeding het, of 'n onverklaarbare knop of 'n pyn het, moet jy daaraan aandag skenk.
Papsmere voorkom nie dat jy siek word nie, hulle spoor net abnormaliteite op.

Simptome van servikale kanker kom eers in 'n gevorderde stadium voor en daarom moet 'n papsmeer gereeld gedoen word sodat vroegtydige behandeling gelewer kan word.