|
Elke mens sal die een of ander tyd 'n teleurstelling in sy lewe ervaar: Teleurstelling is deel van die lewe. Soms is dit 'n teleurstelling in jouself en somtyds is dit ander mense wat jou ontnugter.
Byvoorbeeld: dit gebeur dat jy diep teleurgesteld is in iemand; jou hart is flenters en jou siel in stukkies – jy voel verraai, ingeloop, bedrieg.
Wel, huil jou hart uit as dit nodig is. Stort in jou binnekamer jou smart en trane uit. Maar dan moet jy die volgende oggend opstaan en die lewe weer in die oë kyk, anders verval jy in selfbejammering of word jy 'n sielsongelukkige mens.
In baie huwelike gebeur voorvalle waarin die een eggenoot die ander teleurstel. Dan is die slagoffer-eggenoot se teleurstelling só groot dat die ander een nie vergewe kan word nie. Mettertyd verander die teleurstelling in verwyte wat weke – en selfs jare – mag duur. Jy behou onvrede met die teleurstelling – daardie vreeslike daad – wat jou huweliksmaat aan jou gedoen het. Jy koester hierdie teleurstelling, gooi dit voortdurend voor die skuldige party se kop en weerhou vergifnis. Op hierdie manier kniehalter jy egter die helingsproses.
Buite die huwelik sal jy ook teleurstellings ondervind: Jou kind, ouer, buurman, vriend, besigheidsvennoot, familielid of kollega mag jou diep teleurstel. En teleurstelling veroorsaak pyn. Wanneer 'n bittere en onregverdige insident teenoor jou gebeur, kan jy vasgeval raak in 'n woedebui óf treurmare. Waak egter daarteen om 'n klakous of verbitterd te word. Dit versuur jou lewe.
Wel, ons kan die verlede nie verander nie, maar vandag het ons weer geleentheid om nuut te begin. Wat 'n voorreg! Behou perspektief met teleurstellings. Soms is vandag se ramp oor 'n paar maande 'n kleinigheid. Ek het in my lewe ondervind dat 'n groot teleurstelling soms 'n positiewe draaipunt voorafgaan. Poog dus om balans te vind en 'n optimistiese uitkyk te kry wanneer teleurstellings jou tref. Gevoelens soos woede, verwerping en jaloesie gaan hand aan hand met teleurstellings. Dit kan jou goeie oordeel aantas, dit laat wraakgedagtes oorheers en dit verhinder dat jy voluit kan lewe.
'n Realistiese uitkyk is nodig om ewewig tussen voorspoed en teenspoed te kry. Daar is soms tye wanneer jy verloor. Teleurstelling is nie net 'n lêer in die kabinet van die lewe nie, dis die lewe self. Wees hierop voorbereid, en hanteer dit met goeie oordeel.
Baie belangrik: leer die les uit jou teleurstelling. Volgende keer wanneer jy weer in 'n soortgelyke situasie staan, weet jy beter hoe om 'n saak te hanteer. Dit is goed om 'n lysie te maak van foute en wat jy daaruit leer, want môre help dit jou om 'n beter besluit te neem.
Soos ek die goeie gawes aanneem, sal ek nie dan ook teleurstellings as deel van die lewe aanvaar nie. Soms oorspoel teleurstellings 'n mens sodat jy verstote en verlore voel. Moenie moed opgee nie - vertrou, bid en bly hoop.
'n Sprankie wysheid vir die dag
Teleurstelling is tot die edel siel wat koue water is tot brandende metaal: dit versterk, temper, vergroot, maar vernietig dit nooit. (Eliza Tabor).
Dr. ST Potgieter is 'n opvoedkundige sielkundige van Bellville. Om jou algemene vrae of kommentaar oor dié artikel aan hom te stel, stuur 'n e-pos aan st@pitkos.co.za.
|