April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 

  God se 4x4-roete

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deur
Tilana Bester
 

Gehoorsaamheid aan God: voorwaar 'n smal pad om te stap!

Rom 10:9: "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word."

Ja, dit is waarlik hoe maklik dit is om die ewige lewe te verkry! Jesus het klaar al die harde werk gedoen: Hy het reeds meer as 2 000 jaar gelede 'n baie eensame en lang pad van vernedering en lyding gestap sodat ons as vrygespreektes 'n plekkie in die hemel kan bekom. 

Maar: Die dag wanneer ons deur die genade van Jesus Christus hiérdie besluit neem, (Efesiërs 2:8), vra dit dat ons afklim van die breë pad en oorstap na die smal pad. En die smal pad is ongelukkig nie die maklike ene nie! Daar is baie op- en afdraandes, dit is 'n pad vol struikelblokke en hindernisse en 'n pad wat soms só smal is dat jy alleen moet stap! En soos wat jy hierdie pad van gehoorsaamheid stap, raak die paadjie ook al hoe smaller! Maar die feit is: jy kan ongelukkig nie Jesus aanvaar as jou Verlosser en Saligmaker en steeds op die breë pad bly stap nie. 




Matt 7:13: "Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en die wat dit kry, is min."

Hierdie smal pad is die pad van gehoorsaamheid. Dit is wanneer jy alles begin meet aan hemelse standaarde; wanneer God se opinie belangriker is as enige ander, en wanneer jy God ten alle koste wil behaag en nie mense nie! Elke keuse wat jy elke dag neem bepaal jou gehoorsaamheid. Dit is 'n voortdurende proses van heiligmaking en reiniging. 

Rom 12:1 - 2: "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Die smal pad kan ook vergelyk word met 'n 4x4-roete. Ek is seker baie sal saamstem dat die 4x4-roete, of dan liewer die smal pad, 'n pad van opwinding is! 'n Pad wat ons na die interessantste plekke lei! Op hierdie pad sal jy die glorie van God sien en ervaar; in Sy skepping sal jy Sy grootheid besef; in Sy soete teenwoordigheid sal jy Sy wonderwerkende krag beleef! Op hierdie pad sal jy rus vind in groen weivelde en drink uit strome met Lewende water. Elke dag op hierdie pad is 'n avontuur! En enige 4x4-entoesias sal ook weet dat jy nie die pad alleen aandurf nie. Jy maak seker jy neem iemand saam wat jou kan help as jy in die moeilikheid is. Daarom is ondersteuning en bemoediging in 'n geloofsgemeenskap so ongelooflik belangrik. Jy kan maklik afdwaal, verdwaal of in die moeilikheid kom sonder dat daar iemand is om jou te help. Ons kan nie die pad alleen stap nie! 

Wanneer ons as kinders van God hiérdie pad van gehoorsaamheid stap, sal ons aan ons vrugte geken word.

Gal 5:22 - 23: "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." 

Ons sal borrel en aan ander die liefde van Jesus verkondig. Ons liggies sal helder skyn; ons sal die donker wêreld verhelder en mense na die Lig lei. Ons sal nie met 'n doodgewone lewe, waar Jesus net 'n bysaak is, tevrede wees nie. Hy sal ons alles wees – die spil waarom alles draai! Die Bybel en elke woord daarin sal ons rigtingwyser en padkaart word en ons sal dit gehoorsaam volg.

Maar wanneer ons kortpaaie kies en die Padkaart ignoreer, sal ons ongelukkig die gevolge daarvan moet dra.

Matt 3:10: "Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi."

Mag elke leser van hierdie eenvoudige boodskappie vandag besluit om Jesus gehoorsaam te volg.  Maak seker jy is op die smal pad!

Open 3:16: "Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg!"
 

Gebed:

Almagtige hemelse Vader, Skepper van die heelal, ek bid vandag dat U Heilige Gees elke leser 'n begrip sal gee van die tipe gehoorsaamheid wat U vra. Meer as dit bid ek dat dit elkeen se begeerte sal wees om U gehoorsaam te dien en volg. Here, vorm en snoei ons sodat ons elke dag meer en meer soos U kan wees. Neem ons hande en lei ons; stap saam met ons hierdie pad van gehoorsaamheid. Leer ons wat gehoorsaamheid aan U beteken. En wanneer keuses en versoekings voor ons geplaas word, skenk aan ons die krag en wysheid om gehoorsaam die regte keuse te maak!  Dankie dat ons weet ons belonging is groot! In Jesus naam, Amen.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep