
|
Met wie praat jy die meeste elke dag? Dink jy dit is jou lewensmaat, jou kinders, jou medewerkers of jou kliënte? Nee, dit is nie met hulle nie – dit is met jouself!
Navorsing toon dat mense daagliks tussen 50 000 en 60 000 gedagtes of interne gesprekke met hulself voer. Terwyl mense motor bestuur, bad, voor die rekenaar sit of selfs met ander kommunikeer, voer hulle onophoudelik gesprekke met hulself. Maar wat sê jy vir jouself as jy so gesels? Ongelukkig wys navorsing dat ongeveer 80% van hierdie interne gesprekke negatief is.
Wat gebeur dus? Ons onderbewussyn stoor alle boodskappe wat ons van die omgewing kry, hetsy van ons ouers en onderwysers as ons jonger is, ons vriende soos ons ouer word, en later van ander binne die samelewing waarin ons grootword. Die onderbewussyn kan nie werklik onderskei tussen die waarheid en fiksie nie, daarom word alles onbewustelik as die waarheid gestoor. Die mens word dus geprogrammeer om hierdie stellings te glo.
Indien 'n ouer heeltyd vir 'n kind vertel dat hy niks werd is nie, sal hy dit later glo en dan daarvolgens optree. Maar as ouers deurentyd vir hul kind vertel dat hy spesiaal en talentvol is, sal hy ook dit glo en daarvolgens optree. |
| Hoe jy met jouself praat, het 'n groot invloed op jou selfbeeld |
|
Mediese navorsing bewys ook dat jou interne gesprekke 'n groot bydrae tot jou liggaam se vermoë om homself te herstel lewer en kan selfs jou immuunstelsel verhoog. Lees byvoorbeeld B.H. Levine se boek Your Body Believes Every Word You Say.
Navorsing in sport bewys weer dat jou interne gesprekke 'n baie groot impak op jou sportprestasie het. Tim Galloway het dit mooi uiteengesit in sy boek The inner game of tennis.
So terug na jou toe. As jy elke keer wanneer jy 'n terugslag beleef vir jouself sê "ek sal nooit suksesvol wees nie," of elke keer as iemand jou teleurstel "ek sal nooit liefde vind nie," gaan jou onderbewussyn dit stoor, dit begin glo en ook daarvolgens optree. Jou denke programmeer jou dus om op 'n sekere manier oor jouself te voel: dit impakteer dus jou gedrag en uiteindelik jou lewe. Die grootste impak is op jou selfbeeld – indien jou selfbeeld nie na wense is nie sal jy minder risiko's neem, meer sukkel om verhoudings te bou en minder geneig wees om jou drome na te streef.
Indien ander mense dus heeltyd so krities en ongeskik met jou praat soos wat jy elke dag met jouself praat, sou jy seker lankal gevra het "met wie dink jy praat jy?" Moet jouself dus nie toelaat om so met jou te praat nie!
Die maklikste manier om jou eie gedrag en toekoms te verander, is om jou denke te verander: Om op 'n positiewe en opbouende wyse met jouself te begin praat en jouself te motiveer en te inspireer deur die boodskappe wat jy aan jou onderbewussyn stuur.
Die eerste vraag is dikwels hoe begin ek? Begin deur op te let na jou taalgebruik. Vervang negatiewe woorde en uitdrukkings met positiewe frases en uitdrukkings. Indien jy dit genoeg oor en oor doen word dit later 'n gewoonte en sal dit jou denke, gedrag en hele lewe verryk. Doen die onderstaande oefening elke dag en jy sal verbaas wees oor hoe dit jou lewe sal verander.
Die mag van positiewe denke
Voltooi die volgende vyf frases oor jouself en maak dit van toepassing op die toepaslike areas in jou lewe. Die frases moet geskryf word asof jy dit reeds het, of bereik het. Dit moet spesifiek en positief wees, dit moet oor jóú gaan en jy moet in staat wees om dit te visualiseer, met ander woorde om dit in jou verbeelding te sien.
Byvoorbeeld:
Ek is 'n suksesvolle en bekende fiksie-skrywer.
Ek het 'n vaste en gelukkige verhouding.
Ek het al my rekenings vereffen.
Ek is...........................................................
Ek het.........................................................
Ek ..............................................................
Ek ..............................................................
Ek ..............................................................
Die belangrikste is dat jy dit elke dag herhaal. Al glo jý dit nie nou nie – jou onderbewussyn sal.
Onthou, dit sal dissipline verg.
Begin met jouself praat soos jy graag wil hê ander met jou moet praat. Fokus op jou sterkpunte en maak positiewe denke en opbouende interne gesprekke deel van jou alledaagse lewe. Die impak mag jou dalk net verstom!
|