joumenswees

 

Die maagpyn lê in die melk

 

Wanneer meer laktose (melksuiker) ingeneem word as wat die liggaam kan hanteer, bly dit in die dermkanaal. Dit veroorsaak opgeblasenheid, abdominale ongemak en diarree.

 

deur Lientjie Venter 

 

Christine het in haar eerste jaar begin om kartonnetjies melk (500ml) drie maal per dag te drink. Sy het dit gedoen sodat sy nie van die koshuiskos hoef te eet nie – maar kort voor lank het sy na ete geweldige maagpyn en diarree gehad.

 

Christine het laktose- of melksuiker-onverdraagsaamheid. Babas word met 'n natuurlike groot hoeveelheid ensieme om melk te verteer gebore, maar soos ons ouer word, word dit meer onnatuurlik om melk die hoofbestanddeel van ons dieet te maak. Slegs 30% van mense behou dié vermoë, en genoegsame ensieme, om laktose volledig af te breek en te absorbeer.

 

Wanneer meer laktose ingeneem word as wat die liggaam kan hanteer, bly dit in die dermkanaal. Dit veroorsaak opgeblasenheid, abdominale ongemak en diarree.

Die behandeling van laktose-onverdraagsaamheid vereis dieetveranderings. Dit is egter nie nodig om melk heeltemal uit te skakel nie. In die ergste graad kan mense 'n minimum van 'n halwe glasie melk per dag hanteer.

 

Verminder en beheer laktose-onverdraagsaamheid só:

§         Skakel eers alle melk uit.

§         Vermeerder dan stelselmatig melkinname.

§         Versprei inname deur die dag.

§         Neem melk as deel van jou ete, in disse of in geregte.

Hierdie stappe kan help dat die dermbakterieë gewoond raak om die laktose te verteer sodat dit vir die liggaam aanvaarbaar kan word.

 

Die laktose-onverdraagsame persoon hoef nie sonder melkprodukte te gaan nie, aangesien die liggaam wel produkte kan hanteer wat reeds gefermenteer is. Dan hoef die liggaam nie self die vertering te doen nie. Die volgende produkte moet geëet word om kalsium, en ander minerale, te bekom:

§         Joghurt en drinkbare joghurt

§         Gefermenteerde kase, harde kase en maaskaas.

 

Net soos genoeg oefening jou fiks maak, kan jy jou dermwand oefen om sekere stowwe nie af te skei nie.

Moenie sommer jou spysverteringsprobleme as "normaal" vir jou spesifieke siektetoestand of lewenstyl afmaak nie. Jy kan beheer neem en dit verander. Dink mooi oor wanneer jou simptome voorkom. Hou 'n dieetregister waarin jy alles aanteken wat jy geëet het, om sodoende die veroorsakende faktore te identifiseer.

 

'n Waarskuwing aan tieners: Dis uiters noodsaaklik om genoegsame gesonde kosse in te neem – veral melk, aangesien dit die kalsium voorsien wat jy gaan nodig hê vir wanneer jy eendag ouer is. Onthou dat jy tot op die ouderdom van 23 jaar ten minste 2 - 3 glase melk per dag moet inneem. Dis wanneer jy store bou.

 

Wanneer ons, ons liggame kondisioneer om sekere voedsel nie in te neem nie, kompenseer hy daarvoor. Hier is die baie algemene, en soms kontroversiële, saak van gene ter sprake. Die Noordwes-Universiteit is tans met studies oor die "aan-" en "afskakeling" van gene besig. Dit word Nutritional genomics genoem en handel oor die wetenskap van die wedersydse invloed wat voedsel op gene het.

 

 

 

Die artikel vervang nie die professionele advies van 'n mediese persoon nie. Gaan sien jou dokter of dieetkundige oor enige saak waaroor jy onduidelikheid het.

 

Lientjie Venter is 'n dieetkunde student van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus.