|
Christine het in haar eerste jaar begin om
kartonnetjies melk (500ml) drie maal per dag te
drink. Sy het dit gedoen sodat sy nie van die
koshuiskos hoef te eet nie – maar kort voor lank
het sy na ete geweldige maagpyn en diarree gehad.
Christine het laktose- of
melksuiker-onverdraagsaamheid. Babas word met 'n
natuurlike groot hoeveelheid ensieme om melk te
verteer gebore, maar soos ons ouer word, word
dit meer onnatuurlik om melk die hoofbestanddeel
van ons dieet te maak. Slegs 30% van mense behou
dié vermoë, en genoegsame ensieme, om laktose
volledig af te breek en te absorbeer.
Wanneer meer laktose ingeneem word as wat die
liggaam kan hanteer, bly dit in die dermkanaal.
Dit veroorsaak opgeblasenheid, abdominale
ongemak en diarree.
Die behandeling van laktose-onverdraagsaamheid
vereis dieetveranderings. Dit is egter nie nodig
om melk heeltemal uit te skakel nie. In die
ergste graad kan mense 'n minimum van 'n halwe
glasie melk per dag hanteer.
Verminder en beheer laktose-onverdraagsaamheid
só:
·
Skakel eers alle melk uit.
·
Vermeerder dan stelselmatig melkinname.
·
Versprei inname deur die dag.
·
Neem melk as deel van jou ete, in disse of in
geregte.
Hierdie stappe kan help dat die dermbakterieë
gewoond raak om die laktose te verteer sodat dit
vir die liggaam aanvaarbaar kan word.
Die laktose-onverdraagsame persoon hoef nie
sonder melkprodukte te gaan nie, aangesien die
liggaam wel produkte kan hanteer wat reeds
gefermenteer is. Dan hoef die liggaam nie self
die vertering te doen nie. Die volgende produkte
moet geëet word om kalsium, en ander minerale,
te bekom:
·
Joghurt en drinkbare joghurt
·
Gefermenteerde kase, harde kase en maaskaas.
Net soos genoeg oefening jou fiks maak, kan jy
jou dermwand oefen om sekere stowwe nie af te
skei nie.
Moenie sommer jou spysverteringsprobleme as "normaal"
vir jou spesifieke siektetoestand of lewenstyl
afmaak nie. Jy kan beheer neem en dit verander.
Dink mooi oor wanneer jou simptome voorkom. Hou
'n dieetregister waarin jy alles aanteken wat jy
geëet het, om sodoende die veroorsakende faktore
te identifiseer.
'n Waarskuwing aan tieners: Dis uiters
noodsaaklik om genoegsame gesonde kosse in te
neem – veral melk, aangesien dit die kalsium
voorsien wat jy gaan nodig hê vir wanneer jy
eendag ouer is. Onthou dat jy tot op die
ouderdom van 23 jaar ten minste 2 - 3 glase melk
per dag moet inneem. Dis wanneer jy store bou.
Wanneer ons, ons liggame kondisioneer om sekere
voedsel nie in te neem nie, kompenseer hy
daarvoor. Hier is die baie algemene, en soms
kontroversiële, saak van gene ter sprake. Die
Noordwes-Universiteit is tans met studies oor
die "aan-" en "afskakeling" van gene besig. Dit
word Nutritional genomics genoem en
handel oor die wetenskap van die wedersydse
invloed wat voedsel op gene het.
|