joumenswees

Liesl de Vos
deur Liesl de Vos




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die lesingsaal vs. die sportveld

Hoe gemaak met jou matriekkind wat volgende jaar die boeke eenkant toe wil skuif en 'n professionele sportloopbaan met groot geld in die vooruitsig wil volg? Maak nou die regte keuses, want dié pad is nie noodwendig net maanskyn en rose nie.

Die matriekkind is 'n uitblinker op die sportveld en wil volgende jaar 'n voltydse professionele sportloopbaan aandurf. Die kind en sy ouers is baie opgewonde, want sportsterre is immers nasionale helde met 'n roemryke toekoms en geen tekort aan geld nie! Maar wag, moenie te gou opgewonde raak nie, waarsku die kenners. Want dié pad is nie noodwendig sommer net maanskyn en rose nie.

Prof. Ernst Kruger van die departement van sport, rekreasie en vryetydwetenskappe by die Universiteit van Pretoria, wys daarop dat dit slegs rugby, sokker en krieket – met miskien atletiek in 'n baie kleiner mate – is waaruit jy in Suid-Afrika geld kan maak.
“Daar is wel prysgeld betrokke by die ander sportsoorte, maar dit is so min dat jy nie eers jou uitgawes sal kan dek nie,” waarsku hy. “Onthou, spelers se salarisse en borgskappe word bepaal deur gewildheid, toeskouergetalle en TV-dekking. Aangesien rugby die nasionale sport van Suid-Afrika is, ontvang dit die meeste geld. Dit is nie noodwendig regverdig nie, maar dit is ongelukkig die realiteit.”

Hoewel die aanvanklike salaris van 'n professionele rugbyspeler groot kan wees, is dit geen waarborg dat die geldfontein nooit sal opdroog nie. 'n Onverwagte besering wat 'n sportloopbaan beëindig, of 'n skandaal soos dié wat soveel sportsterre in die afgelope tyd getref en hul borge laat onttrek het, kan jou in 'n finansiële krisis dompel. Selfs al spandeer iemand jare in die sportwêreld en tree op die ouderdom van 35 uit, beteken dit nie dat hulle noodwendig genoeg geld bymekaar gemaak het om die pot vir die res van hul lewe aan die kook te hou nie.

“Minder as 5% van alle professionele rugbyspelers kan 'n lewe uit rugby maak nadat hulle uitgetree het. In ander sportsoorte is die persentasie selfs nog kleiner,” waarsku Ernst. Sy advies is dat sportlui wat nie toegang tot 'n tersiêre instansie kan verkry nie, 'n vakleerlingskap kan neem of begin om kennis op te doen oor 'n spesifieke besigheidsrigting.
“Anders het die persoon teen die einde van hul sportloopbaan geen vaardighede aangeleer waarop hulle kan terugval nie.”

Studies of sport?

Maar wat is die beste? Moet die matriek-sportuitblinker eers 'n professionele kwalifikasie verwerf voordat hy aan sy sport aandag gee, of kan hy 'n student én 'n professionele sportster wees? Of moet hy wag tot sy sportloopbaan verby is, en hom dan eers in 'n volgende rigting bekwaam?

Ernst voel die kans is baie gering dat iemand suksesvol tot sy sport kan toetree nadat dit vir drie of vier jaar onderbreek is om eers 'n akademiese kwalifikasie te verwerf.
“In baie sportsoorte verander die reëls en regulasies jaarliks, en soms ook die fisiologiese vereistes, wat dit baie moeilik maak,” verduidelik hy. Volgens hom is die ideaal om studies en sport gelyktydig te beoefen.
Nie almal stem egter hiermee saam nie. Een van hulle is Albert Morkel, betrokke by die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit se krieketakademie, asook die pa van die Protea-krieketspelers Albie en Morné Morkel. Volgens Albert is daar sommige semi-professionele sportlui wat wel die tyd het om ook te studeer, veral as hulle goed is met tydsbestuur, maar dat dit nie kan werk in die geval van professionele sportlui nie. “Hulle is byvoorbeeld te veel weg van die huis af.”

Omdat 'n tweede beroep vir professionele sportlui buite die kwessie is, raak baie deeltyds by besighede of projekte betrokke. Die gevaar hierin is egter dat hulle nie noodwendig voldoende besigheidskennis het nie, en maklik geld kan verloor weens opportuniste wat hulle oortuig om geld te belê in 'n projek wat later misluk. Maar hoe kan sportlui dan beplan vir hulle toekoms?
“Deur solank te prospekteer en netwerke op te bou,” verduidelik Albert. “Dit kan 'n mens help om goeie poste te kry nadat jy uit die sport getree het.”

So is die Springbok-rugbyspeler Pierre Spies ook deeltyds betrokke by motivering, 'n sekuriteitsfirma en eiendomsbeleggings. Hy vertel dit is belangrik om betrokke te raak by'n bedryf waarvoor jy 'n passie het, “maar moenie jou sport afskeep nie, want dit is jou huidige primêre inkomste en fokus,” sê hy. Hy noem ook dat dit moeilik is om te studeer en professioneel rugby te speel, maar dat daar wel sulke gevalle voorkom.

Die Suid-Afrikaanse hekkiesatleet LJ van Zyl is ook 'n onderwysstudent in sy finale jaar en 'n voorbeeld van iemand wat dit regkry om studies en sport te kombineer. Hy sien onderwys as die ideale tweede beroep omdat die klasure nie te lank is nie.
“ 'n Mens moet definitief iets op die sideline hê om eendag op terug te val. En dit is ook goeie afleiding van sport.”

Hoe help jy jou kind kies?

Wees realisties en weet dat daar wel 'n keuse tussen sport en studies gemaak kan word. As jou kind nog op skool is en besonder goed vaar met sport, sien jy hom dalk al in jou gedagtes in groen en goud. Maar Albert maan ouers om ingelig te wees en die standaard van sport te verstaan.
“Navorsing het bewys 'n mens het 'n beter kans om die Lotto te wen as om vir die Proteas gekies te word,” sê hy.

Onthou dat professionele sportlui nie 'n veeleisende kwalifikasie soos 'n mediese- of regsrigting sal kan aanpak nie. As hulle vir 'n provinsiale rugbyspan gekies word, moet jy dalk twee keer dink voor jy hulle probeer dwing om ook te gaan studeer.

Ondersteun jou kind as hulle hul semi-professionele sport saam met hul studies of ander opleiding wil aanpak. Gee hulle raad oor goeie tydsbestuur en hoe om met hul prysgeld te werk.

Die antwoord is opgesluit in wat 'n mens se spesifieke situasie is. Daar is nie 'n “regte” antwoord wat vir almal geld nie, maar 'n mens sal nader daaraan wees as jy goed daaroor nadink en alle opsies teen mekaar opweeg, sê die kenners.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?