Wie is die gehoor?
Sommige van my kollegas is deesdae baie bekommerd: Daar is donker stormwolke wat saampak op hul professionele horisonne, aangewaai deur 'n stewige bries van verandering vanuit Bestuur se geweste.
Kort-kort trotseer my skouer 'n stortbui van nuwe klagtes, ongelukkighede en vrese oor medekollegas, werksomstandighede en die toekoms. Partykeer kan ek sien hulle weet regtig nie meer watter kant toe nie, maar ander kere dink ek hulle speel sommer net drama-drama.
Onlangs kom kla Sunet steen en been by my oor Michelle wat vir Gerda, Sunet se baas, gevra het of Sunet 'n taak vir haar kan verrig, in plaas daarvan om net vir Sunet self te vra. “Michelle kom staan toe daar by Gerda se lessenaar en bespreek met haar die werk wat ek vir haar moet doen. 'n Mens sou kon sweer ek was onsigbaar!”
Die ander Sondag in die kerk deel een van die sangleiers 'n paar persoonlike gedagtes met die gemeente – soos die interessante Christelike konsep van To live before an audience of One, waar daardie One waarvan gepraat word, dan God is.
Vir wie leef ons?
Daardie skildery wat jy onlangs vir jou eetkamer gekoop het: Was dit slegs om kuiergaste te beïndruk met jou goeie smaak, of was dit meer om hulle 'n aangenamer, vroliker ete by jou huis te laat geniet?
Die kyk wat jy die onbeholpe winkelassistent gegee het toe hy nie geweet het hoe om met die kredietkaartmasjien te werk nie: Was dit 'n onvergenoegde “Jy mors my tyd!”-kyk, of was dit 'n simpatieke “Oi boet, jy’s seker nog nuut hierso”-kyk?
Toe jou gewoonlik betroubare sekretaresse nie die kliënt se adres vir jou gestuur het soos sy tien minute gelede in die vergadering belowe het nie, het jy haar uitgetrap oor haar onbevoegdheid of net gaan herinner om dit asseblief gou te doen voordat sy vergeet?
As jy 'n vrou met 'n mooi figuur is en jy skaf vir jouself 'n vleiende langbroek aan, is dit net om jou lyf af te wys en ander vrouens jaloers te maak, of is dit met dankbaarheid teenoor God dat Hy jou so bevoorreg geskape het?
Ongelukkig is dit so dat die mens se grootste beweegrede meestal die belang van sy eie selfbeeld en bevrediging is. Dis wel menslik en natuurlik, maar ek dink jy saal jouself met meer op as wat werklik nodig is.
Jesus se dood en opstanding het aan ons iets oneindig kosbaar besorg: direkte toegang tot God. Verby is die dae van die Ou Testament waar die gelowiges voortdurend sondeoffers moes bring om hulself weer met God te versoen, en waar slegs die hoëpriester in die allerheiligste deel van die tempel mag kom. Ons kan nou heeldag en aldag in God se teenwoordigheid leef deur sy Gees wat in ons woon – en dis 'n vreugde en 'n voorreg wat ek nie vir al die skatte in die wêreld sou wou verruil nie.
As ons meer leef voor hierdie audience of One, en minder omgee vir onsself en ons eie belange, sal ons optrede teenoor ander mense en alledaagse doen en late 'n ander kleur begin kry.
Eerstens sal dit meer en meer begin spreek van opregte liefde vir ons naaste, maar tweedens dink ek ook 'n mens sal 'n dieper vreugde in die lewe ontdek. Dink net hoeveel eenvoudiger alles sal raak as jy nie gedurig op die uitkyk hoef te wees vir maniere om jouself te bevoordeel nie, of as jy nie die heeltyd ander mense se bedoelings met agterdog hoef te bejeën nie! God sal sorg vir jou. Hy vra nie dat jy die regte ding doen net wanneer dit tot jou eie voordeel strek nie – Hy vra dat jy die regte ding sal doen selfs al strek dit nie tot jou voordeel nie.
As Hy vir ons is, wie kan dan teen ons wees?
Wat maak dit regtig saak as die kollega oor jou kop spring na jou baas toe? Ja, dis wel onprofessioneel en jy kan dit dalk selfs gaan aanmeld as dit nodig is, maar moenie onnodig jou kop of hart daaroor vertroebel nie – God is jou audience, nie die kollega, jou baas óf jyself nie.
Beskou jou mooi skildery as iets waarmee jy jou kuiergaste kan seën – God is jou audience, nie hulle nie. As hulle dit hardop waardeer, geniet dit en laat dit dan 'n bonus wees.
Gee die onbeholpe winkelassistent en vergeetagtige sekretaresse 'n skoot selfvertroue in plaas daarvan om hulle af te breek met kritiek – dis immers wat Jesus sou doen.
As iemand strooistories oor jou versprei, spreek daardie persoon mooi aan as jou moed en die omstandighede dit sou toelaat. Moenie aanvallend of paniekerig raak nie. Onthou, God is jou audience, nie die mense nie. Hy ken die waarheid selfs nog beter as jy. Boonop, as jou reputasie goed is, sal dit in elk geval die stories vooruitloop.
Laat Hy die enigste Een wees wat saak maak in jou lewe en laat alles en almal anders tweede kom. Moenie hierdie stuk vreugde wat Jesus se dood en opstanding ons bied, by jou verby laat gaan nie!
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joumenswees volgende artikel vorige artikel |

