|
Hoeveel van jou tyd gebruik jy om oor die verlede te peins, en oor die toekoms te dink? Jy moet nou regtig daaroor dink en dit nie as bloot 'n retoriese vraag sien nie. Neem byvoorbeeld die huidige ekonomiese krisis (en vir baie mense wás 2009 'n verskriklike jaar) en al die spanning rondom dit. Maar wat help dit om nou te tob oor dit wat reeds verby is, of wat gaan dit jou in die sak bring om jou oor die res van dié jaar te bekommer? Hoeveel tyd en energie sit 'n mens in om jou te ontstel oor die dag van môre? Bekommernisse, veral in spanningstye wanneer jy gebukkend gaan onder die las van skuld en finansiële verpligtinge, kan jou opvreet en nagte laat rondrol in paniek.
Dit is egter nie net die toekoms wat 'n mens se tyd en energie uitput nie. Dit is maklik om in 'n denkpatroon te verval oor al jou foute en mislukkings van gister, oor die onreg wat jou in die verlede aangedoen is. Mense raak verbitterd oor die verlede, woedend oor wat gebeur het, en swoeg oor dinge wat verby is. Dit help ook nie om jouself te verwyt oor jou eie foute van gister nie. Gister is verby, maar jy het wel nog vandag.
Jy kan nie die verlede verander of die toekoms kontroleer nie. Die beste wat jy kan doen is om op vandag te fokus en jou energie op dit wat nou belangrik is te fokus. Die waarde hiervan is dat jy dan nie aan die verlede dink of jou oor die toekoms bekommer nie. Om op vandag te fokus help jou om die verlede agter jou te sit en ontslae te raak van gister se spoke. Vandag is dit wat jy het; vandag is aan jou geskenk. Die voordeel om nie jou denke en energie op die verlede of die toekoms te mors nie, is vanselfsprekend. Want dan is jy in staat om soveel beter te konsentreer en met doelgerigtheid jou dagtaak te doen.
Dit beteken nie dat jy nie doelwitte en drome vir môre moet hê nie, maar nadat jy jou doelwitte geformuleer het moet jou fokus skuif na wat jy vandag kan doen om dit te bereik. Vele mense droom gesigte oor môre, maar vergeet dan dat vandag se keuses en aksies môre se realiteite is. Lééf vandag, dóén vandag, fókus vandag.
Wanneer jy dit doen, kan jy veel beter besluite neem en keuses maak. Jy kyk na 'n situasie, analiseer dit en neem dan 'n objektiewe besluit. Jy skakel ander vooroordele uit en betrag die feite soos dit nou is. Gedagtes oor die verlede en hunkering of vrees vir die toekoms verhinder jou om gefokus in die hede te lewe. Die voordeel om op vandag te fokus is dat jy meer gekonsentreerd jou besluite kan neem, omrede jy reg in die hier en die nou is. Jy skakel dus ook meer foute uit.
Hier is 'n praktiese voorbeeld wat jy kan doen om die waarheid van hierdie beginsel te ervaar.
Kies vir jou 'n projek wat jy wil doen. Skuif vir die duur van die projek doelbewus al die gedagtes oor gister uit jou denke. Moet ook nie fokus op wat jy môre wil doen nie. Fokus met al jou energie en verstand net op die projek waarmee jy nou besig is.
Terwyl ek nou hierdie artikel skryf, weet ek my gedagtes en energie moet hierby gefokus wees. Sodoende kan ek dit vinniger en meer produktief voltooi, eerder as om toe te laat dat ander dinge my aandag aftrek. Probeer dit en jy sal sien watter groot verskil dit in jou effektiwiteit gaan maak. Wanneer jy werk aan jou projek, doen dus nét jou projek. Jy kan later op ander take en probleme fokus.
Hoe klim jy die Mount Everest in jou lewe? Deur te fokus op elke trappie teen die berg op. As jy die heeltyd omkyk, mag jy dalk net skeeftrap en na benede stort. Bekommer jy jou heeltyd oor die probleme en struikelblokke wat dalk nog voorlê, verloor jy fokus op die huidige gevaarlike plekke. Dink maar aan 'n man wat met 'n elektriese saag werk terwyl sy aandag en fokus op ander dinge is. Jy sal saamstem dit is 'n gevaarlike situasie. Dit is net so gevaarlik om belangrike besluite (byvoorbeeld finansiële besluite) te neem en keuses te maak, terwyl jou aandag elders is.
As jy in jou onmiddellike teenwoordige tyd gefokus leef, sal jy ook dit wat jy sien en hoor meer intens geniet en ervaar. Wanneer jy berg klim kan jy die mooi natuur waardeer, elke blommetjie en varing betrag en bewonder, en dankbaar wees oor die uitsig. Jy leef in die moment, jy leef dit intensief. Het jy al iemand met 'n dikmond en swaarmoedige trek op van die mooiste plekke gesien? Wel, ek het al. Só 'n mens geniet nie die oomblik nie en het weinig vreugde en waardering vir dit wat besig is om te gebeur. Leef vandag voluit, geniet dit met al jou sintuie. Die wonder van die oomblik wat jy nou het, sal verbygaan. Binnekort vir altyd weg wees. Maak dus die beste gebruik van elke minuut van jou dag.
Moenie verbitterd raak oor gister nie; moenie dood van bekommernis oor môre nie. Leef en fokus vandag, want dit is wat jy nou het.
'n Sprankie wysheid vir die dag
Ons lewe in die teenwoordige tyd. Gister is verby, môre moet nog kom.
Vandag is die wonder. - Anoniem
Dr. ST Potgieter is 'n opvoedkundige sielkundige van Bellville. Hy beantwoord graag jou navrae oor hiérdie onderwerp, asook enige ander sielkundige of emosionele probleem waarmee jy worstel.
Stuur aan hom 'n e-pos by st@pitkos.co.za.
|