|
Kristalle is wonderlike goed. Mens kan jou
verkyk daaraan, veral wanneer jou eie aspirant
chemiese ingenieur-kind dit self gemaak het. Nes
jy wil wegkyk vang 'n nuwe een jou oog, dan
staar jy weer half gehipnotiseerd verder. Mooi
goedjies. En slim. Maar my persoonlike
gunsteling is die feit dat dit groot manne maak
dans.
Pappa het jig. Nee, eintlik het hy nie jig nie,
hy het net twee ou aanvalletjies gehad. Laaank
gelede. Ses maande om presies te wees. Die
dokter se pille lê iewers in die medisynekas
agter die sooibrand-pille en vitamiene - dink ek.
Groot beloftes van 'n gesonde leefstyl is
verbreek, vyf maande en drie weke gelede – op
die dag. Sy enigste skeet is die vars litteken
op sy linkerduim se laaste lid, want biltong
kerf het soms onaangename nagevolge . . .
Dan breek die tyd weer aan. Derduisende
uriensuur-kristalletjies besluit om 'n samekoms
in jou man se lyf te reël. Goed, kom ons sê dit
maar: daar is 230 gewrigte in die mens se
liggaam – wát 'n verskeidenheid, maar wat kies
die briljante, breinlose goedjies wat in groot
menigtes saamgetrek het? Jou sesvoet-man se
linkergroottoon!
Om twee uur die nag word hy wakker in 'n koorsige
pyngreep. Kyk, 'n man in pyn is 'n
vreesaanjaende gesig. Sonder enige behoefte van
sy kant af om in stilte te ly, gee hy 'n kreun
en sit orent op die bed.
"Help!" kerm hy.
Mamma, nog deur die slaap weet nie of sy moet
veg of vlug nie.
"Wat gaan aan, skiet iemand op ons?" vra jy dan.
"Nee, dis die duiwel. Hy't my toon in sy mond.
Help my!" sê pa.
Oppad badkamer toe wonder jy of die beroemde
jiglyers soos Koning Henry VIII en Thomas
Jefferson ook so 'n onwaardige bohaai gemaak het
tydens 'n ou "aanvalletjie". Jy staan voor die
medisynekassie, sluk twee Valiums en krap rond
vir ietsie vir pyn. Enigiets, net nie 'n setpil
nie. 'n Man doen mos nie die setpil-ding nie.
Teen sesuur het jy al vier koppies koffie in.
Die hond het hom vervies. Dié lê nou in die hoek
op die koue teëls. Die kinders kyk televisie
(die bure ook) en pappa het sy tweede setpil in.
(Jy het hom uiteindelik oortuig dat dit wat jy
gaan indruk aansienlik kleiner is as dit
wat hy daagliks uitdruk.)
Teen seweuur het julle oorlede Oom Peet se
krukke opgespoor. Jou man is aangetrek en jy
sien kans vir als, want die kalmeerpille het
ingeskop. Hy het in drie van die amptelike
landstale, en een nie so amptelik, sy misnoeë
met sy situasie geuiter. Die hond se stert en
jou kind se tas het die geïnflammeerde
liggaamsdeel rakelings geraak. Dit het 'n
wreedaardige gebrul tot gevolg gehad. Die
huishulp het by die kombuisdeur omgedraai. Sy
tel nou blare op in die tuin. Jy is boos vir die
beer want hy gaan jou kind nog 'n kompleks gee
en boonop is die hond weg. Julle moet 'n dokter
kry, nou!
In die wagkamer gebeur twee goed. 'n Pasiënt
skuur verby en raak die linkertoon skraps en 'n
spelerige kleuter stamp hom. Beide insidente het
'n dans tot gevolg – die dans van die kristalle.
Dis 'n rondspringery op die gesonde voet, met
die krukke wat help vir die balans, op die maat
van 'n baie benoude "oe-hoe!" en "aaa!" met of
sonder verlies van die onderste sfinkter se
beheer.
Die dokter groet hom nie. Wys net na die toon en
sê: "Jig, nè?".
Dan verdwyn hulle in die spreekkamer. In die
proses wat hy die ondersoekbed versigtig benader,
stamp hy weer die toon en 'n gedempte kreet trek
deur die wagkamer.
"Ek het nie geweet hier's 'n tandarts ook hier
binne nie," sê die jong dame hier langs jou heel
bekommerd. Jy glimlag net, want jy is op pille.
Binne drie dae is die beer weer jou lam. Hy is
nie meer in ontkenning oor sy siekte nie en sy
agterstewe herinner sterk aan jou ma se
speldekussing. Pappie sit en knibbel aan die
springmielies en jy lag in jou mou, want jy gaan
'n fortuin spaar aan rooivleis en sy broeke gaan
weer pas. Jy was jou porseleinbakkie met jou
kind se soutkristalletjies wat teen dié tyd
begin stof opgaar op die boekrak.
Sulke slim, geniepsige goedjies, dink jy. Om 'n
groot man nou só te laat dans!
|