September 2008

 

 


   Dans van die kristalle

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deur
Tanya Van der Westhuizen

 

Erg pynlik is dit inderdaad wanneer derduisende uriensuur-kristalletjies die dag besluit om 'n samekoms in jou lyf te reël. Jig!

 

(Illustrasie deur Chantal Verweij)

Kristalle is wonderlike goed. Mens kan jou verkyk daaraan, veral wanneer jou eie aspirant chemiese ingenieur-kind dit self gemaak het. Nes jy wil wegkyk vang 'n nuwe een jou oog, dan staar jy weer half gehipnotiseerd verder. Mooi goedjies. En slim. Maar my persoonlike gunsteling is die feit dat dit groot manne maak dans.

Pappa het jig. Nee, eintlik het hy nie jig nie, hy het net twee ou aanvalletjies gehad. Laaank gelede. Ses maande om presies te wees. Die dokter se pille lê iewers in die medisynekas agter die sooibrand-pille en vitamiene - dink ek. Groot beloftes van 'n gesonde leefstyl is verbreek, vyf maande en drie weke gelede – op die dag. Sy enigste skeet is die vars litteken op sy linkerduim se laaste lid, want biltong kerf het soms onaangename nagevolge . . .

Dan breek die tyd weer aan. Derduisende uriensuur-kristalletjies besluit om 'n samekoms in jou man se lyf te reël. Goed, kom ons sê dit maar: daar is 230 gewrigte in die mens se liggaam – wát 'n verskeidenheid, maar wat kies die briljante, breinlose goedjies wat in groot menigtes saamgetrek het? Jou sesvoet-man se linkergroottoon! 

Om twee uur die nag word hy wakker in 'n koorsige pyngreep. Kyk, 'n man in pyn is 'n vreesaanjaende gesig. Sonder enige behoefte van sy kant af om in stilte te ly, gee hy 'n kreun en sit orent op die bed.
"Help!" kerm hy.
Mamma, nog deur die slaap weet nie of sy moet veg of vlug nie.
"Wat gaan aan, skiet iemand op ons?" vra jy dan.
"Nee, dis die duiwel. Hy't my toon in sy mond. Help my!" sê pa.

Oppad badkamer toe wonder jy of die beroemde jiglyers soos Koning Henry VIII en Thomas Jefferson ook so 'n onwaardige bohaai gemaak het tydens 'n ou "aanvalletjie". Jy staan voor die medisynekassie, sluk twee Valiums en krap rond vir ietsie vir pyn. Enigiets, net nie 'n setpil nie. 'n Man doen mos nie die setpil-ding nie. Teen sesuur het jy al vier koppies koffie in. Die hond het hom vervies. Dié lê nou in die hoek op die koue teëls. Die kinders kyk televisie (die bure ook) en pappa het sy tweede setpil in. (Jy het hom uiteindelik oortuig dat dit wat jy gaan indruk aansienlik kleiner is as dit wat hy daagliks uitdruk.)
Teen seweuur het julle oorlede Oom Peet se krukke opgespoor. Jou man is aangetrek en jy sien kans vir als, want die kalmeerpille het ingeskop. Hy het in drie van die amptelike landstale, en een nie so amptelik, sy misnoeë met sy situasie geuiter. Die hond se stert en jou kind se tas het die geïnflammeerde liggaamsdeel rakelings geraak. Dit het 'n wreedaardige gebrul tot gevolg gehad. Die huishulp het by die kombuisdeur omgedraai. Sy tel nou blare op in die tuin. Jy is boos vir die beer want hy gaan jou kind nog 'n kompleks gee en boonop is die hond weg. Julle moet 'n dokter kry, nou!

In die wagkamer gebeur twee goed. 'n Pasiënt skuur verby en raak die linkertoon skraps en 'n spelerige kleuter stamp hom. Beide insidente het 'n dans tot gevolg – die dans van die kristalle. Dis 'n rondspringery op die gesonde voet, met die krukke wat help vir die balans, op die maat van 'n baie benoude "oe-hoe!" en "aaa!" met of sonder verlies van die onderste sfinkter se beheer.
Die dokter groet hom nie. Wys net na die toon en sê: "Jig, nè?".
Dan verdwyn hulle in die spreekkamer. In die proses wat hy die ondersoekbed versigtig benader, stamp hy weer die toon en 'n gedempte kreet trek deur die wagkamer.
"Ek het nie geweet hier's 'n tandarts ook hier binne nie," sê die jong dame hier langs jou heel bekommerd. Jy glimlag net, want jy is op pille. 

Binne drie dae is die beer weer jou lam. Hy is nie meer in ontkenning oor sy siekte nie en sy agterstewe herinner sterk aan jou ma se speldekussing. Pappie sit en knibbel aan die springmielies en jy lag in jou mou, want jy gaan 'n fortuin spaar aan rooivleis en sy broeke gaan weer pas. Jy was jou porseleinbakkie met jou kind se soutkristalletjies wat teen dié tyd begin stof opgaar op die boekrak.
Sulke slim, geniepsige goedjies, dink jy. Om 'n groot man nou só te laat dans!
 

Stuur 'n e-pos na Tanya

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!