
Ons leef vandag in moeilike tye. Baie mense in ons dierbare land Suid-Afrika het na die omstandighede rondom hulle gekyk, en besluit om op grond van verslegtende omstandighede eerder te emigreer. Ook op ekonomiese terrein is mense moedeloos, bang en selfs wanhopig. Skuld het menige huishouding oorspoel en maak gesinne bekommerd en benoud. Duisende mense het hul werk verloor. Swaarkry lê voor. Die lys van ellende is 'n lang lys. Ons leef inderdaad in moeilike tye.
Wanneer teenspoed jou tref, wanneer skuldeisers aan jou deur klop, wanneer jy nie weet hóé jy finansieel die maand gaan deursien nie, wanneer jy moeg en moedeloos is, dan neig jy om die swartkant, die negatiewe, die slegte, raak te sien. Soms is dit egter goed om in die moeilikste van omstandighede te kyk na die klein dingetjies rondom jou en daarin verligting en hoop op die toekoms te vind.
Ek sê hiermee glad nie dat jy die realiteit van jou situasie moet ignoreer en maak of dit nie bestaan nie. Nee, inteendeel, dit is belangrik om sinvolle stappe te neem om die probleme in jou lewe aan te spreek en op te los. Tog te midde van al jou probleme, is dit goed om na die klein dingetjies rondom jou te kyk.
'n Welbekende spreekwoord sê: "Ek het gekla dat ek nie skoene het nie tot ek iemand sien wat nie voete het nie."
Wanneer 'n slegte ding met ons gebeur is ons geneig om daarop te fokus. Hierdie spreekwoord beskryf treffend hoe iemand kla oor hy nie skoene het nie totdat hy iemand sien wat nie voete het nie. Gebeur dit nie maar ook in ons eie lewe nie? Byvoorbeeld die geiser in jou huis breek en water syfer deur jou plafon. Ellende. Krisis. Hoekom moes dit nou juis met my gebeur het? Maar dink na oor wat jy werklik het - 'n huis, 'n badkamer, toilet, kombuis, elektrisiteit. Dis maar net 'n geiser wat stukkend is. Hoeveel mense leef in 'n eenvertrek-kaia met water wat daardeur stroom na die reëns? Hoeveel mense het geen heenkome nie? Ons kan dalk hierdie spreekwoord aanpas en sê: ek het gekla oor die geiser wat breek tot ek iemand gesien het wat nie 'n huis het nie.
Mense gaan in depressie – en kan met reg ontstoke wees – oor hulle nie die bevordering in hul beroep kry wat hulle verdien nie. Maar wanneer jy nadink oor wat jy het, mag jy tot die besef kom daar is veel dinge in die lewe waarvoor jy dankbaar kan wees. Jy het steeds 'n werk en inkomste. Jy het steeds 'n blyplek en klere om aan te trek. Kos op die tafel en 'n warm bad in die winter.
'n Ander spreekwoord is die bekende woorde: "Two men look out the same prison bars; one sees mud and the other stars."
Verbeel jou vir 'n oomblik jy is in 'n tronk: haglike omstandighede, weinig hoop op die toekoms en jy kyk deur die tralies van jou sel. Jy kyk deur die tralies van jou krisis. Wat sien jy?
Dit gebeur in 'n mens se lewe dat jy voel of die hele wêreld teen jou draai. Jy staar 'n diep krisis in die gesig. Jy sien werklikwaar geen uitkoms nie. Tog kan jy steeds die klein dingetjies rondom jou raaksien. Dalk is dit voëltjies wat jy sien kwetter in die bome wat vir jou sê daar is nog mooi oor in die lewe. Miskien die son wat jy teen jou vel voel. Dalk die glimlag van 'n vreemdeling. Of dalk die see se waaiskuim teen jou vel. Of 'n sterretjie se vonkel in 'n donker nag. Of die klein blommetjie wat opbeur tussen sement en steen van 'n sypaadjie. Of die kind in die park wat lag wanneer hy die swaai ry. Klein dingetjies, maar dingetjies wat saakmaak, wat 'n verskil kan maak.
Soms het jy nodig om in die put van ellende te beland voor jy begin om die mooi dinge rondom jou raak te sien. Wanneer dit goed gaan, en jy is bedrywig en aan die gang, raak jy besig, baie te besig, om stil te staan en die klein wonderwerkies van die lewe te waardeer. Partykeer moet 'n krisis eers tref, soos 'n siekte, om jou bedrywige lewe tot halt te ruk, en jy rustig word, sodat jy jou weer kan verlustig aan die wonder en betekenis van klein dingetjies. Somtyds, in ons besige en gespanne programme, aanvaar ons mense in ons lewens as vanselfsprekend. Dan kos dit 'n krisis om met nuwe oë en waardering na jou geliefdes te kyk.
Ja, ons leef in moeilike tye. Tog, binne-in jou staat van ellende, is dit nodig om stil te word en mooi dinge raak te sien. Dinge en mense wat betekenis gee aan jou lewe.
Wanneer die donker golwe jou egter verswelg is dit moeilik (seker amper onmoontlik) om die mooi rondom jou raak te sien. Maar binne jou vermoeienis van vlees en gees, sien raak die voëltjie in die bome, sien die sonstraal wat inval deur die venster, en weet, dis maar 'n klein ietsie, maar agter dit sit die krag van die Skepper van hemel en aarde, en jy mag in jou nood uitroep: "Here, help my."
'n Sprankie wysheid vir die dag
"Wanneer dit die donkerste is, sien 'n mens die sterre." - Ralph Waldo Emerson
Dr. ST Potgieter is 'n opvoedkundige sielkundige van Bellville.
Om jou algemene vrae, of kommentaar oor dié artikel, aan hom te stel, stuur 'n e-pos aan st@pitkos.co.za.
|