|
Is jou fokus op die geskenk, of
op die Gewer van geskenke?
Kom ons kies eerder hierdie Kersfees om aan
Jesus hulde en geskenke te bring! Dis tog immers
Sy verjaarsdag. Kom ons maak soos met enige
ander verjaarsdag. Kom ons gee Hom wat Hy graag
wil hę, dit waarvan Hy sal hou en wat Sy hart
bly sal maak. Jesus verlang en vra na jou hart
en jou lewe. Daar is niks op aarde of die hemel
wat Hy eerder sou vra nie! Gee aan Hom 'n
geskenk van liefde – vir Hom en almal om jou.
Bring aan Hom jou tiende en offergawes. Gee hom
jou tyd as geskenk! Versprei welwillendheid en
liefde onder almal. Doen dit opreg en met 'n
dankbare hart, want Jesus verdien al die eer!
Maak hierdie Kersfees 'n anderster Kersfees. In
Matt 25:35 staan daar: "want Ek was honger, en
julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors,
en julle het My iets gegee om te drink; Ek was
'n vreemdeling, en julle het My gehuisves".
Ek wil jou uitdaag: sit op Kersdag 'n bord kos
of twee opsy, en offer jou middagslapie op om
iemand se hart te gaan verbly. Op hierdie manier
bring jy ook 'n geskenk aan Jesus, want soos Hy
in Matt 25:40 antwoord: "Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van die geringste
van hierdie broers van My gedoen het, het julle
dit aan My gedoen."
Beplan jou dag hierdie jaar
met die geboorte van Koning Jesus as fokus! Laat
jou Kersdag 'n getuienis vir ander wees – 'n
getuienis van waaroor Kersfees regtig gaan. En
wanneer jy aan Hom die geskenke gegee het wat Sy
hart verlang, deel dan gerus verder geskenkies
as teken van dankbaarheid en herinnering uit.
Gebed
Hemelse Vader, ons wil U dank en hulde bring vir
die grootste geskenk ooit – Jesus. Dankie vir 'n
bonatuurlike verwekking en nederige geboorte.
Here, verplaas ons fokus en vul ons harte met 'n
opregte begeerte om hierdie Kersfees 'n ware
Christusfees te maak. Ja, Here, hierdie
kersseisoen wil ons, ons lewens voor U kom
neerlę as geskenke. Ons wil U hart verbly met
ons geskenke van liefde, welwillendheid en tyd
vir U. Jesus, dit is ons begeerte om U hart te
verbly met die viering van U verjaarsdag. Ons
dank U vir 'n kersboodskap wat ons aan verlore
siele kan gaan verkondig. 'n Boodskap van
verlossing en hoop. Met groot dankbaarheid wil
ons hierdie Kersfees 'n anderster Kersfees maak.
Ons wil Kersdag heilig aan U wy. Ons bid vir
rein harte, leiding en vervulling van U Heilige
Gees en ons bid dat U ons geskenke hierdie
Kersfees aanneemlik sal vind. Ons wil soos die
engele uitroep: "Eer aan God in die hoogste
hemel!"
Ons harte loop oor van liefde en dankbaarheid.
Ons bid vir U seën en beskerming oor elkeen
gedurende hierdie feesgety. In die groot en
heilige naam van Jesus bid ons. Amen. |