WIE IS ONS? | GRATIS NUUSBRIEF | MEDEWERKERS | ADVERTEER
jou gesinstydskrif – maandeliks, gratis en wêreldwyd

Diep in die skuld
Susan Terblanché

deur Susan Terblanché




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend







Ons vermy ander mense, maar Jesus sou elke moontlike geleentheid gebruik om iets goeds vir iemand anders te doen – 'n kompliment of 'n stukkie raad, 'n grappie of selfs net 'n opregte glimlag kan dalk die wêreld vir daardie persoon beteken.

Het jy ook die gewoonte om wanneer jy by 'n seminaar, in die kerk of fliek by die ry sitplekke inskuif, 'n stoel of twee oop te los tussen jou en die persoon wat reeds daar sit? Ek het beslis. Want wie wil tog nou vir 'n uur of wat direk langs 'n wildvreemde persoon sit?
Kom Saterdae, en dan kom kruideniersware koop – maar as ek 'n kennis in die winkel raaksien, wil ek so gou moontlik om die naaste rak verdwyn. As hy my dan ook nie raaksien nie, is ek vreeslik verlig.

Selfs as ek 'n betaalpunt met 'n kort ry soek en 'n kennis staan in die kortste ry, sal ek maak asof ek hom nie raaksien nie en verbystap na 'n langer ry toe. Enigiets, solank ek net nie 'n geselsie hoef aan te knoop nie. Ek in my klein hoekie is veilig, afgesonder en ek hoef aan niks en niemand behalwe my inkopies aandag te gee nie. Dis al wat nou saak maak, en basta met die res!

Vreemd, nè? Nee, ek weet ook nie hoekom ek soms so menssku is en ander kere nie, maar ek dink nie ek is enig in my soort nie. Ek dink dis baie normaal om soms te voel jy wil mense vermy, al is die persoon wat jy raaksien, 'n baie gawe Pietie of Sannie. Selfs ekstroverte wil so af en toe van ander wegkruip.
“Dis nie jy nie, dis ek . . . ”

Gelukkig ís daar winkelrakke waaragter jy kan wegkruip en die in ons plaaslike Hipermark is tog te heerlik groot daarvoor. Maar is die langer ry by die betaalpunt werklik soveel beter as om 'n paar woorde met iemand te wissel en dan ook sommer vinniger uit die winkel te kom? Wat gaan so 'n kort geselsie nou eintlik van jou wegneem? Hmmm. As ek rustig dink, besef ek dat ek eintlik baie selfsugtig geword het in my speletjie. Wat sou Jesus doen? Hy sou elke moontlike geleentheid gebruik het om iets goeds vir iemand anders te doen! 'n Kompliment of 'n stukkie raad, 'n grappie of selfs net 'n opregte glimlag kan dalk die wêreld vir daardie persoon – vriend of vreemdeling – beteken, maar deur hom te vermy, ontneem jy hom van iets wat hy dalk op daardie oomblik bitter nodig het.

Van nou af gaan ek fokus op die feit dat die Here my aktief in ander mense se lewens wil gebruik en ek wil vergeet van myself en my eie, selfgemaakte lewenskwessies en vrese. Die apostel Paulus sê in Rom. 13:8 dat ons niemand iets verskuldig moet wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Liefde is 'n werkwoord, en ek het baie skuld om te betaal.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke |
gratis nuusbrief | medewerkers | adverteer | wie is ons?

Kopiereg © 2008-2010