joumenswees

Karin Bain
deur Karin Bain




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Geliefde in die hoësorg-eenheid

Dit is 'n traumatiese gebeurtenis wanneer 'n geliefde in die hoësorg-eenheid opgeneem word. Volg egter dié stappe om dit vir jou en die pasiënt makliker te maak.

Florence Nightingale het reeds in 1854 besef dat pasiënte met ernstige beserings geskei moet word van die wat minder ernstig beseer is. Uit hierdie besef het die moderne hoësorg-eenheid, of ICU soos dit in die volksmond bekend staan, tot stand gekom waar die ernstig-beseerde pasiënt permanent onder mediese toesig is.
Maar vir die pasiënt se familie kan dit 'n emosioneel spanningsvolle gebeurtenis wees. Dit is 'n onbekende wêreld wat 'n mens betree wanneer jy jou geliefde daar besoek: Al die masjiene en monitors en die aanhoudende gepiep en alarms wat skree maak dit 'n baie traumatiese ervaring.
Sommige mense kan in so 'n situasie selfs paniekbevange word omdat hulle nie weet wat om te doen en wat van hulle verwag word nie.

Volg egter die volgende paar riglyne om die situasie vir jou en jou geliefde minder spanningsvol te maak:

Ondersteun die pasiënt só

Pasiënte in die hoësorg-eenheid is dikwels onder sterk verdowing of aan 'n lewensondersteunende masjien, soos 'n ventilator, gekoppel. Ten spyte van hierdie toestand is die meeste pasiënte steeds instaat om te hoor wat om hulle aangaan, al kan hulle nie altyd terugreageer nie. Daarom is dit belangrik dat jy heeltyd met jou geliefde so normaal as moontlik moet gesels.   
Bly weg van halwe en irrelevante sinne soos “kan jy my hoor?”. Voer 'n normale gesprek: gesels oor die weer, oor dit wat by die huis aangaan, die jongste nuusgebeure en vertel hom van almal wat groete stuur en navraag oor sy welstand doen.
Onthou dat die hospitaalpersoneel voortdurend met die pasiënte gesels, daarom is dit belangrik dat jy as 'n familielid dieselfde doen. Hiérdie emosionele ondersteuning is lewensnoodsaaklik vir die pasiënt.
Die medikasie waaronder hy verkeer, veroorsaak korttermyn-geheueverlies. Daarom kan jy gesprekke herhaal, hom voortdurend bemoedig, en hom van jou liefde en ondersteuning verseker.    

Vra gerus vir die suster aan diens of jy die pasiënt se hakke, vingers en hande met room kan invryf. Doen dit dan terwyl jy heeltyd met hom gesels. Omdat die vingers en hande vinnig styf word, kan jy sy vingers 'n paar keer oop en toe vou terwyl jy dit masseer. 
Jy kan selfs help met naels knip.

Doen inkopies

Die pasiënt – en ook die hospitaalpersoneel – maak staat op geliefdes se bydraes van handige toiletware. Sit die volgende op jou inkopielysie:

* 'n Goeie lyfroom vir massering.  
* 'n Lekkerruik seep, stortgel en deodorant om die pasiënt vars te laat ruik.
* 'n Elektriese skeermes – want dis maar moeilik om iemand anders wondloos te skeer met 'n lemmetjie!
* Twee waslappe: 'n donker en 'n ligte een. In sommige eenhede word die pasiënte egter deesdae met weggooibare lappies gewas.
* Klein verpakkings met poeier, lip-ice, sjampoe en tandepasta.
* En moenie van die tande- en haarborsel vergeet nie.

Onthou: die ruimte in die eenhede is baie beperk, daarom is kleiner verpakkings en houers meer prakties.

Kyk na jouself

Moenie die negatiewe gevolge wat al die angs en spanning op jou geestelike en liggaamlike het uit die oog verloor nie. Dis nodig om tussen besoekure deur ook goed na jouself te kyk.

* Wees realisties en besef hoe 'n groot impak hierdie gebeurtenis in jou lewe gaan hê. Gesels met iemand wat jy kan vertrou, en hou die nuuskieriges – wat jou net gaan ontstel en uitput – op 'n afstand.
* Gebruik 'n goeie multivitamien en eet gereeld en gesond.
* Kry genoeg slaaptyd in. As jy weens die trauma sukkel om te slaap, vra gerus vir jou dokter vir 'n sus- en kalmeermiddel.
* Verminder jou verpligtinge. Dit is miskien 'n goeie idee om 'n vriend of familielid as 'n skakelpersoon aan te stel wat as kontakpersoon met al die belangstellendes kan dien. Hy kan byvoorbeeld elke aand aan almal 'n SMS uitstuur oor die pasiënt se toestand. Sodoende word een boodskap aan almal gestuur en is daar nie misverstande nie, en jy hoef ook nie talle oproepe elke dag te maak of te ontvang nie.
* Hou moed en onthou: pak een dag op 'n slag aan.

Nog advies:

Pasiënte in die hoësorg-eenheid se toestand kan daagliks – en selfs uurliks – verander. Soms gee hy drie treë vorentoe, maar dan weer een terug. Moenie dat dit jou moedeloos maak nie: konsentreer eerder op die vordering wat reeds gemaak is vandat hy opgeneem is. Dink altyd aan die herstelproses as iets wat in die liggaamselletjies plaasvind: Omdat hierdie selletjies baie klein is, is die vordering wat reeds ingetree het nie sommer dadelik vir die mens sigbaar nie.

Skakel die nagsuster soggens om 06:15, net voor hulle van diens afgaan, en vind uit hoe dit met die pasiënt gedurende die nag gegaan het. Die nuwe skof wat om 07:00 aan diens kom sal nie dié antwoorde kan verskaf nie.

Die verpleegkundiges in die hoësorg-eenheid is gewoonlik bereid om enige vrae te beantwoord, maar hulle kan nie diagnoses maak nie en ook nie 'n prognose gee nie. Moet dit dus nie van hulle verwag nie.

'n Hegte band word gewoonlik tussen die familie en die verpleegpersoneel gevorm, veral waar beide partye verdraagsaam en met deernis teenoor mekaar optree. Onthou dat net soos die situasie vir jou baie spanningsvol is, net so spanningsvol is die werksituasie vir die personeel.
En dan speel daardie baie belangrike “dankies” 'n baie groot aandeel in dié vertrouensverhouding!

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?