|
Sukses is 'n aspek waaroor baie geskryf en gepraat word, maar die vraag vandag aan jou is: Het jy al die werklike sukses behaal wat jy graag wou? Of miskien moet ek die vraag anders verwoord: Is jy die argitek van groot planne en lugkastele, maar jou sukses is steeds 'n groot niks? Beleef jy frustrasie omrede jy oor die potensiaal beskik, maar jy nie die sukses bereik waarvan jy gedroom het nie?
Dit is dan wanneer twyfel inkruip in jou gemoed. Waarom bereik ek so min? Waarom is meeste dinge in my lewe onvoltooid?
Voel jy dikwels jy het jou eie idees gehad, maar het opgegee en besef dat jy nie werklik tot iets groots in staat is nie? Lê jou drome en idees vertrap?
Raak jy gespanne en gefrustreerd wanneer jy suksesvolle mense ontmoet wat 'n vibrasie van doelgerigtheid en dinamika uitstraal?
Miskien is hierdie rubriek dan vandag net vir jou bedoel. Hoe kom ek by sukses uit? Daar is baie bestanddele in die resepteboek van sukses, maar ek bespreek vandag kortliks net een aspek: daardie vermoë om te fokus op 'n spesifieke taak.
Die onvermoë om voluit te konsentreer op een spesifieke taak en jou energie, tyd, aandag en toewyding daarop te fokus, is die bron van vele mislukkings.
Mense skarrel rond van een ding na 'n ander. Hulle raak eers hieraan en probeer dan weer 'n ander ding, en so tref en trap hulle deur verskillende projekte. Besig met een taak, maar terselfdertyd besig met baie ander goed. Mense dink met hoe meer goed hul besig is, hoe groter hul kans op sukses sal wees. Maar is dit waar?
Die geheim is om jou talente, aanleg en energie te fokus op een spesifieke beroep of projek. Dink maar aan suksesvolle mense in die wêreld en hoe hulle op 'n spesifieke tydstip in hul lewe hulself heeltemal kon toewy aan 'n enkele saak.
Het jy al uitgewerk wat jy sal bereik wanneer jy al jou energie en tyd een honderd persent inskerp op jou besondere talent? Daar is 'n ontsaglike dinamiese krag in gekonsentreerde aandag wanneer jy besig is met 'n projek.
Hoe pak jy 'n taak aan? Spring jy rond van plan tot plan, van een idee na die volgende idee? Verdeelde aandag maak van jou 'n riet wat buig soos die wind waai. So gaan jy nie iets groots bereik nie, en loop jou droom gevaar om 'n vervlietende ster te word. Die persoon wat inzoem op een spesifieke projek laat hom nie rondstoot deur die eerste struikelblok nie. Alles gaan in die projek - sy volle passie, drome en lewe. Jy sien, dis sulke mense wat sukses behaal. Geen probleem en geen moeite word ontsien om sukses te behaal nie. Verskonings en kleinighede trek nie jou aandag af van jou doelwit en passie nie.
Miskien is dit tyd dat jy 'n dag vir jouself afsonder. Ontleed jou potensiaal en talente en kyk of jy kan vasstel wat daardie een enkele spesialiteit in jou lewe is. Mense wat groot sukses behaal, het daardie een besondere iets ontdek waarin hulle uitstekend is en het hul aandag daarop gefokus. Een taak op 'n keer. Dit het van Elvis Presley 'n legende gemaak. Vir Chris Barnard het dit wêreldroem met die wêreld se eerste hartoorplanting gebring. Vir Tiger Woods 'n gholf-legende gemaak. Vir Mark Shuttleworth het dit 'n stewige bankbalans en 'n ruimtereis besorg.
Ek is groot bewonderaar van Paulus. Na sy Damaskus-ervaring was hy 'n man met 'n passie en doel in die lewe – en niks sou hom stuit nie. Nie hongersnood, sweepslae op sy rug, skipbreuk, tronkstraf of wat ook al nie. Paulus was 'n man met 'n missie. En watter merk het hy nie in die geskiedenis van die mensdom gemaak nie! Is jy so gefokus met 'n missie dat niks jou sal stuit nie?
Die son skyn oor die aarde, die berge en die plante. Wanneer jy egter 'n lens neem en die sonlig op een punt konsentreer, ontstaan daar 'n brandpunt van energie wat 'n vuur veroorsaak. Vra jouself hierdie een vraag af: wat sal ek kan bereik as ek al my energie en talent en energie met volle oorgawe en entoesiasme op een besondere punt fokus? Waartoe is ek in staat as ek al my kragte inspan en sonder ophou my projek najaag, bedink, bewerk, slaap, eet en drink?
Spoed jy voort na nêrens? Wil jy meer wees as 'n dromer? Meer wees as net nog iemand wat futiele planne uitdink wat van die begin af gedoem is? Staan dan vir jouself op en onderneem om met alles te fokus op een besondere taak en roeping. Voluit gefokus, dag vir dag, week vir week totdat jy die soet vrugte van oorwinning en sukses proe.
'n Sprankie wysheid vir die dag
"Ons gedagtes skep ons werklikheid - waarop ons fokus is die rigting waarin ons neig om te gaan." - Peter McWilliams.
Dr. ST Potgieter is 'n opvoedkundige sielkundige van Bellville.
Kontak hom by st@pitkos.co.za.
|