10 lesse uit die engel-wêreld



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Luister na die lewensbeginsels wat die engele aan jou wil bring – en leef daarvolgens vir 'n gelukkiger jy.

EngeleEngele is permanent om die mens teenwoordig om te lei, adviseur en te vertroos. Dit hang egter van elke mens af hoe ontvanklik hy homself vir die boodskappe van die engele wil maak. Die engelkenner en terapeut, Doreen Virtue, glo hoe meer die mens met sy engele gesels, hoe beter kan hulle gehoor word en hoe meer kan die mens by hulle leer.

Doreen beskou die volgende 10 punte as van die belangrikste beginsels wat die engele graag aan die mens wil tuisbring. Om volgens dié beginsels te lewe, sal 'n besliste gelukkiger mens tot gevolg hê, glo sy.

1. Leef met integriteit
Spandeer jou tyd op die belangrikste aktiwiteite en hoogste doelwitte wat jy vir jouself gestel het. Luister na jou intuïsie – engele glo dat jy jou hart moet vertrou.
"Hulle het my geleer dat dit veilig is om nee te sê vir werk wat nie my ware belangstelling prikkel nie," verduidelik Doreen. "En ek het gou geleer dat hulle reg is."

2. Daar is net een hede
Jy is heel en volmaak nes jy nou is: Moenie bekommerd wees oor wat môre mag bring nie.
"Toe die engele dit vir my gesê het, het ek besef ek leef vir die toekoms. My fokus was die heeltyd op wat môre gaan bring, in plaas daarvan dat ek op my huidige seëninge gefokus het," sê Doreen. Sy stel voor dat jy elke aand 'n dankbaarheidslysie maak.

3. Alle konflik is in jou denke
Alle konflik wat jy in die buitewêreld sien of ervaar, is 'n projeksie van jou eie ego. Jy projekteer jou vrese op die wêreld. Omdat jy nie jou innerlike konflik wil oplos nie maar slegs probeer om van jouself weg te kom, projekteer jy jou konflik op ander mense – en glo jy vas dat hulle jou pyn veroorsaak.
Doreen verduidelik dit só: "Ander mense is eintlik neutraal – maar jy kleur hulle in met jou betekenis en definisies. Daarna reageer jy op hulle asof dié projeksies die waarheid is. Daardie mense hanteer jou dan presies soos jy verwag en sodoende word jou voorspelling waar. En so skep jy jou realiteit."
Jy het egter die mag om jou gedagtes, gevoelens en veral vrese oor spesifieke situasies en mense te verander.

4. Reinig jou dieet
Alle kos bevat energie. As jy 'n dieet volg van vars vrugte, groente, neute en heel grane wat die hoogste energiewaarde het, sal jy beter voel as met 'n lae energiewaarde-dieet soos vleis, melk, alkohol, suiker, sjokolade en kafeïen.
Onthou, die kos wat jy eet affekteer jou lank nadat dit verteer is.
"Nadat die engele my dié les geleer het, het ek 'n Vegan-dieet begin volg. Die verbetering in my energie was onmiddellik en drasties. In plaas daarvan dat ek uitgehonger gevoel het, het die keuse van natuurlike kosse maklik en natuurlik vir my gevoel," verduidelik Doreen.

5. Moenie gee met die doel om te ontvang nie
Jy sal altyd resultate kry as jy gee – dit is 'n wet van die heelal, maar moenie verwagtinge daaroor koester nie. Die oorsaak en effek is ook nie in jou hande nie. Boonop, as jy iets terug verwag, het jy nooit werklik gegee nie.
Doreen sê: "Die engele het reeds geweet dat ek 'n vrygewige persoon is, maar dat my bedoelinge soms verkeerdelik daarop gerig was om iets terug te ontvang. Nadat ek my verwagtinge verander het, is ek beloon met die ongelooflikste geskenke – groter as wat ek self kon indink."

6. Spandeer alleentyd in die natuur
"Op my engele se aandrang het ek meer en meer tyd in die natuur begin spandeer. In gesteelde oomblikke tydens etenstyd het die vars lug, sonskyn en reuk van blomme my gehelp om nog dieper vlakke van meditasie te bereik," sê Doreen.
Klanke en reuke in die natuur is wel onsigbaar, maar dit help jou fokus op die onsigbare spirituele wêreld. Die natuur het ook genesende krag.

7. Moenie op aardse besittings fokus nie
Wanneer jy slegs op materiële dinge fokus, bly jy vasgebind aan die behoeftes van die ego.
"Deur slaafs aardse besittings, soos geld en besittings, na te jaag, fokus jy op jou laer-self en groei jy nie as mens nie," verduidelik Doreen.
Daar is egter wel niks fout met materiële dinge nie – ons het dit nodig in ons lewe hier op aarde – maar jou hele fokus moenie daarop wees nie.

8. Moenie oordeel nie
Mense oordeel ander om hulself te beskerm teen seerkry. Maar deur op pyn en vrese oor veiligheid te fokus, bring jy juis hierdie vrese in jou lewe in.
Doreen verduidelik: "Die engele sê dat dit waaroor ons dink, na ons aangetrek word. As jy obsessief oor fisieke of emosionele pyn dink, skep jy 'n situasie waar jou ergste vrese waar gaan word."
Glo eerder vas dat jy fisiek en emosioneel veilig is – en hou op om vrese daaroor te hê.

9. Jy lewe waar jou bewussyn gefokus is
As jy liefdelose en negatiewe gedagtes – soos jaloesie, kommer of kompetisie – koester, sal jy pyn ervaar.
"Aan die begin was dit vir my 'n baie moeilike les om te leer," sê Doreen. "Ek het altyd geglo dat eksterne omstandighede my geluk beïnvloed. Tog het die engele daarop aangedring dat dit my eie gedagtes is wat my wêreld inkleur. My geluk lê nie in wat ek besit nie, maar in wat ek kies om te dink."
Jy wil tog nie pyn hê nie, kies dus om jou liefdelose gedagtes te verban.

10. In alles, gee die eer aan God
Moenie eer vir jouself soek nie. Wanneer jy die eer aan God gee, gee jy ook eer aan daardie deel van jouself wat een is met God.

"Wanneer my kliënte my met my werk komplimenteer, antwoord ek altyd dat alles aan God en die engele te danke is – want hulle het my geleer hoe om elke dag godgegewe raad te kan ontvang, daarna te luister en dit toe te pas. Die enigste erkenning wat ek wel kan kry, is dat ek bereid was om die pad te stap wat hulle vir my aangewys het," verduidelik Doreen.

Doreen VirtueDoreen Virtue het haar BA, MA en Ph.D grade in sielkunde verwerf en is die skrywer van meer as 20 boeke oor engele, chakras, Indigo-kinders, gesondheid en diëte, insluitend die topverkoper Healing with the Angels en Messages from Your Angels boeke en kaarte. Sy is ook die stigter van die WomanKind Psychiatric Hospital in Nashville, Tennessee. Sy is bekend vir haar werk met tienerdwelm- en alkoholprobleme en kombineer haar agtergrond in sielkunde met engelterapie. Doreen is van kindsbeen af heldersiende en het dikwels met haar onsigbare vriende gepraat.

Sy bied hierdie maand 'n Connecting with your Angels-werkswinkel in Suid-Afrika aan waar sy engelterapie-demonstrasies en ook 'n bespreking oor engele gaan hou.
Dit vind plaas op Sondag, 11 Oktober vanaf 10:00 tot 16:30 by die Montecasino Ballroom in Fourways, Johannesburg.
Besprekings kan deur Computicket gemaak word.

Vir meer inligting besoek Doreen Virtue se Angel Therapy-webwerf.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend