|
'n Kind wat weet hoe om in 'n noodsituasie op te tree, bemagtig hom nie net nie, maar dit verminder ook die latere traumatiese impak van die situasie op sy lewe as hulle voorbereid was. Begin met hierdie basiese stappe.
Die gesegde “be ready, not sorry” is oorbekend – tog maak min mense dit op hul lewens van toepassing. Veral as dit by die algemene opvoeding van kinders kom, is daar 'n laksheid om kinders te leer om eerder voorbereid vir 'n krisissituasie te wees, in plaas van spyt later.
Ouers is dikwels so gefokus om hul kinders weerbaar te maak op terreine soos die wiskunde, ekonomie of tale, dat basiese lewensvaardighede agterweë gelaat word.
Maar 'n kind wat weet hoe om in 'n noodsituasie op te tree, bemagtig hom nie net nie, maar dit verminder ook die latere traumatiese impak van die situasie op sy lewe as hy voorbereid was.
Begin met die volgende basiese stappe:
Waar is die noodnommers?
* Plak die nodigste noodnommers op al jou landlyntelefone en die yskas, en stoor dit ook op die hele gesin se selfone. Verduidelik aan jou kind die belang van elke nommer sodat hulle sal weet wie om in watter situasie te skakel.
* Berei jou kind voor op die vrae wat die operateur moontlik sal vra. Jy kan byvoorbeeld deur 'n rolspel hulle voorberei, met vrae soos: wat is jou naam? waar is jy? wat is jou adres? wat het gebeur? Praat mamma of pappa of is hulle bewusteloos?
* Leer hulle om nie die telefoon neer te sit nie. Die operateur sal dalk nog wil praat of raad gee oor wat om te doen.
* Vertel jou kinders ook watter vriend, vriendin of ander naasbestaande hulle moet bel indien hulle nie vir pappa en mamma in die hande kan kry nie.
Waar is die medisyne?
* Almal in die huis behoort te weet waar die noodhulpkissie is, sodat jy enigiemand kan stuur om dit te kry.
* Wanneer 'n ambulans opdaag moet jou kind weet indien die beseerde aan 'n chroniese siekte ly, soos bv. asma, diabetes, hartsiektes, ens. Hy moet ook weet dat die chroniese medikasie hospitaal toe moet gaan, asook waar dit gebêre word.
Hoe maak ek seker dat ek veilig is?
* Jou kind moet weet waar die huis se elektriese skakelbord is, asook waar die hoofskakelaar sit.
* Leer jou kinders om nooit met kaal hande aan bloed te raak nie.
* Wanneer iemand in die pad seer kry moet jy eers seker maak dat die omgewing veilig is voordat jy die beseerde te hulp snel.
Basiese vaardighede
* Bloeding: Moenie direk aan bloed vat nie. Gebruik 'n plastieksakkie of enige ander beskerming. Druk met watte, gaas of 'n kledingstuk op 'n wond wat baie bloei en bind dit vas.
* Beenbeserings: Verduidelik aan jou kind hoe 'n mens weet of 'n been gebreek is, asook eenvoudige maniere hoe om dit tydelik te spalk. Bene kan byvoorbeeld aanmekaar vasgemaak en vingers en tone aanmekaar vasgeplak word. 'n Arm kan op 'n plank of 'n stok gespalk word, selfs 'n krieketkolf of 'n sambreel kan werk.
* Brandwonde: Koel die vel onmiddellik af. Jy mag net regte brandwondsalf en verbande opsit. Moet glad nie botter, margarien, room of vaseline aansmeer nie.
* Klere wat brand: Staan stil en moenie hardloop nie; val op die grond en rol sodat die vlamme nie suurstof kry en verder brand nie. Draai die persoon toe in 'n wolkombers, mat of klere. Koel die gebande vel af onder lopende koue water, soos 'n stort, en kry so gou as moontlik hulp.
* Moet ek iets saamvat as die huis afbrand? Baie dikwels word hierdie vraag gevra vir 'n opstel of mondeling in die skool. Dit skep egter 'n wanpersepsie - jy hardloop vir niks terug in die huis nie. Dit is alles aardse goed. Hardloop weg sover as wat jy kan.
Daar is nog hope meer wat jy jou kind kan vertel om hulle voor te berei op 'n noodsituasie. Gesels en antwoord hulle vrae duidelik. Herhaal die antwoorde sodat die kinders baie seker sal wees wat hulle moet doen. Indien hulle iets vra waarop jy self nie 'n antwoord het nie, is dit nou die tyd om uit te vind.
Onthou: Wees gereed en nie jammer nie, want spyt kom altyd te laat.
|