|
Die dag toe Anuschka Mouton ontdek sy is disleksies kon sy uiteindelik na haarself kyk en sê “nou wéét ek ek’s oukei”. Sy was toe 24 jaar oud. Skielik het sy verstaan: Sy het nog altyd geweet sy kán beter; sy het net nooit geweet hoe nie.
“Ek was só verlig,” sê Anuschka, 'n arbeidsterapeut. “ 'n Ander wêreld het vir my oopgegaan.”
Al die jare het sy alles in haar vermoë gedoen om te oorleef. Op laerskool het sy geleer om in die klas met aandag te luister. “Ek het alles wat ek gehoor het, onthou. Ek kon die feite maklik weergee.”
Maar tóé was die werkslading nog min.
Op hoërskool het dinge verander. Die werkslading was aansienlik meer en daar is skielik van haar verwag om self navorsing te doen en aantekeninge en opsommings te maak. Onderwysers het gekerm sy “kan beter doen”, haar ouers het haar soos 'n mislukking op akademiese gebied laat voel en haar selfbeeld het 'n knou gekry.
“Volgens hulle het ek net nie hard genoeg gewerk nie,” sê sy. “Dit het my onder gekry. Ek kon nie verstaan waarom ek soveel ure moet insit net om gemiddeld te presteer nie. My maats het met gemak deur leerwerk gedraf en A’s gekry.”
As Anuschka nou terugkyk weet sy as sy net tóé die nodige vaardighede en regte ondersteuning gehad het, sy 'n ander en gelukkiger kinderlewe sou hê.
Dis eers toe sy as jong werkende arbeidsterapeut in Amerika met kollegas oor haar frustrasies gesels, dat sy besef het sy is disleksies.
Volgens Anuschka bestaan die verkeerde persepsie dat mense met disleksie nie kan skryf of lees nie. “Dís 'n mite!” sê sy. “'n Persoon met disleksie súkkel met lees en skryf.”
Mense bestempel maklik 'n kind met disleksie as dom, dig en moeilik. Daar word 'n etiket aan so kind gehang wat moeilik afgeskud word. Kinders met disleksie word van kleins af as “anders” bestempel omdat hulle 'n leergebrek het. Soveel van hierdie kinders het 'n lae selfbeeld en bitter min selfvertroue, juis omdat daar alewig vir hulle gesê word “dit is nie goed genoeg nie”.
Nou het Anuschka self 'n dogter, Ayla (13), wat disleksies is. “Ek verstaan haar, en sy verstaan haarself. Ons weet wat om te doen om die lewe vir haar makliker te maak.”
Wat is disleksie?
Disleksie is 'n spesifieke leergebrek. Iemand met disleksie ondervind probleme met geskrewe taal en sukkel om te lees en te spel. Disleksie is 'n neurologiese verskil van iemand wat nié disleksies is nie, maar is nié 'n intellektuele gestremdheid nie. Daar is verskillende grade van disleksie – van laag tot 'n erge graad. Disleksiese kinders het gewoonlik 'n gemiddelde en bo-gemiddelde intelligensie.
'n Kind met disleksie is die kind wat jy weet beter kan vaar op skool. Jy weet hulle het die vermoë om goed te presteer, maar hulle bly onderpresteer. Onderwysers en ouers wat nie weet hoe om disleksie te identifiseer nie, dink dat die kind lui is.
Kyk uit hiervoor:
* 'n Duidelike verskil in die kind se vermoë en sy prestasie
* 'n Familiegeskiedenis van leerprobleme
* Probleme om te spel
* Verwarring met links en regs
* Skryf letters en nommers agterstevoor
* Leerprobleme met Wiskunde
* Is nie georganiseerd en kan nie self sy omgewing organiseer nie
* Vind dit moeilik om instruksies met meer as een stap te volg (byvoorbeeld: gaan winkel toe, koop seep, suiker en botter, en gee 'n boodskap vir die buurvrou oppad terug. Die kanse dat jou kind een hiervan gaan regkry is skraal)
* Dikwels lomp; sukkel met groot motoriese bewegings.
Ek vermoed my kind is disleksies, wat nou?
Dit is belangrik om jou kind by 'n arbeidsterapeut en 'n spraakterapeut te laat toets as jy vermoed hy is dalk disleksies. Laat ook 'n oogtoets doen, want dit is moontlik dat hy dalk slegs swak sig het wat lei tot 'n probleem met lees en skryf. Laat doen ook 'n gehoortoets. Swak gehoor kan ook tot leerprobleme lei, aangesien 'n kind wat nie kan hoor nie, nie sal kan klank nie.
* 'n Kind se grootste ondersteuningsnetwerk is die gesin. Maak seker hy weet jy verstaan en ondersteun hom. Maak ook seker die res van die gesin verstaan wat is disleksie en weet hoe om die situasie te hanteer.
* Aangesien kinders met disleksie sukkel om self dinge te organiseer, is jou hulp hier nodig. Stel 'n rooster op en skryf alles wat op 'n sekere dag moet gebeur neer. Sodra taak 1 (byvoorbeeld, was jou gesig) gedoen is, moet jou kind 'n regmerkie langs die taak sit. Só help jy hom om sy dag te organiseer en verminder jy sy stres.
* Help jou kind om sy dag in kleur te sien. Vra hom met watter kleur assosieer hy “skool”, “hokkie”, “tuiswerk”. Help hom om dan 'n kaart op te trek met die verskillende kleure. Hy sal so ook meer georganiseerd voel.
* Help met lettertipes. Sekere lettertipes, soos Comic Sans, Arial en Century Gothic, lees makliker vir iemand met disleksie: Probeer dus om leesmateriaal in dié lettertipes aan te skaf. Times New Roman is weer moeilik leesbaar. Probeer ook leesmateriaal op papier kry wat nie heeltemal wit is nie.
* Laat jou kind verstaan sy beste is al wat tel. As hy die dag 40% vir ʼn toets kry maar sy beste gedoen het, is dit vir jou goed genoeg. Wees altyd positief.
* Help jou kind om openlik te wees oor sy disleksie. Dit is nodig om te kan sê “ek is disleksies”. Sodra iemand anders weet jy is disleksies, sal hulle meer begrip en geduld hê.
* Wees voorbereid dat daar goeie en slegte dae sal wees. Sommige dae sal jou kind voel hy kan alles doen, maar ander dae dat hy níks kan regkry nie. Leer hom om dan op ander te kan staatmaak deur iets te sê soos “ek sukkel vandag om te spel – help my net gou met hierdie woord”.
* Verlaag jou kind se stresvlakke deur altyd vir hom te sê hoe laat, saam met wie, waarom en waar sekere aktiwiteite gebeur.
Disleksie in die klaskamer
Min Suid-Afrikaanse skole is ingerig vir kinders met disleksie, terwyl onderwysers ook nie goed genoeg ingelig oor disleksie is nie.
Anuschka sê dit is belangrik vir ouers om 'n besondere verhouding met die disleksiese kind se onderwysers te hê. “Vertel die onderwysers van jou kind se frustrasie, presies wat sy behoeftes is en hoe hulle kan help.”
Anushcka sê onderwysers kan help deur klem te lê op belangrike feite of opdragte, en spesifiek met dié kind oogkontak te maak. Onderwysers moet ook weet dat sy prosessering van inligting anders plaasvind. Hulle ervaar gewoonlik 'n oorlading van inligting omdat hulle letterlik álles inneem. Dit is net moeilik om die inligting te organiseer en by die punt uit te kom.
'n Onderwyser kan verder help deur tuiswerk en belangrike inligting vooraf op 'n papier neer te skryf.
Vra die onderwyser om vir jou kind 'n “desk buddy” te gee – 'n ander leerling wat goed georganiseerd is, en langs jou kind tydens klasse sal sit. Dié kind hoef nie noodwendig 'n toppresteerder te wees nie. Indien jou kind in die klas agter raak, of nie die tuiswerk afgeskryf kon kry nie, is daar iemand wat kan help.
Begin die les deur 'n opsomming van wat die kinders gaan leer, en eindig weer met 'n opsomming.
Gebruik kleur op die swartbord – elke sin in 'n ander kleur. Of onderstreep elke tweede sin.
Sorg dat jou kind voor in die klas, naby die onderwyser, sit.
Maak voorbereiding vir speltoetse vir jou kind 'n opwindende speletjie, eerder as 'n nagmerrie. Druk die woorde in 'n groot, maklik leesbare lettertipe elkeen op 'n bladsy uit. Vra jou kind om dan met sy oë 'n “foto” van die woord te neem – “maak 'n prentjie van die woord”. Jou kind sal dan die vorm van die woord onthou. Neem die bladsy weg, en vra jou kind om die “prentjie” te spel – vorentoe én agteruit. As die “prentjie” reg “geneem” is, sal jou kind geen probleem hê om die woord agteruit ook te spel nie!
Het jy geweet?
Tom Cruise, Whoopi Goldberg, Keanu Reeves, Harrison Ford, Robin Williams, Cher en Billy Bob Thornton is maar net 'n paar bekendes wat disleksie het. Walt Disney, John Lennon, Winston Churchill en Thomas Edison (uitvinder) het ook disleksie gehad. Dié mense het almal op een of ander wyse 'n groot bydrae tot die samelewing gemaak.
|