|
joumenswees
Die swart hond het my beet
Depressie is een van die vernietigendste geestesiektes wat te dikwels met die dood eindig. Maar dit kan beveg word.
Deur Karin Bain
My
enigste en dierbaarste waarsku my altyd in my donkerste uur dat ek die
swart hond nie moet kos gee nie. Ek, moeg en moedeloos, kan nie eers
begin dink wat hy daarmee bedoel nie – ek dink maar dis iets soos:
"Moenie in die bed bly lê nie. Moenie die telefoon vermy nie! Bad en
trek jouself ordentlik aan!"
Om depressie te beveg is 'n perd – in hierdie geval, 'n hond – van 'n ander kleur. Die medikasie wat beskikbaar is verrig wondere: die dokter kan jou met 'n doepa inspuit wat jou soveel moed gee dat jy sommer dadelik weer wil leef!
Maar depressie word nie net eensydig deur chemiese stowwe beheer nie. Dit is 'n siekte wat deur jouself, die mense na aan jou en jou lewenswyse beïnvloed word. Daarom moet jou hele menswees versorg word.
Medikasie
As jy die swart hond wil uithonger en verjaag, onthou die volgende: *Vermy die gelyktydige gebruik van verskillende antidepressante, want daar is geen bewys dat dit meer effektief in die behandeling van depressie is nie. *'n Kombinasie van antidepressante met kalmeermiddels is ook nie goed nie. Dikwels word dit voorgeskryf in die begin, net nadat jy gediagnoseer is, maar daarna moet jy onder toesig van jou dokter die gebruik daarvan verminder. Probeer regkom met net een pilletjie. *Natuurlike produkte werk ook baie goed vir depressie. Gebruik SAM-e en 5HTP met groot omsigtigheid, anders kan jy erge newe-effekte ervaar van te veel serotonien. Noem dit altyd vir jou dokter indien jy dit saam wil gebruik. *Anti-depressante werk gewoonlik eers na 2 tot 4 weke, en om 'n goeie effek te verkry moet jy daarmee volhou vir ten minste 6 tot 12 maande. Dit sal erge terugvalle voorkom. Indien 'n mens aanhoudend episodes van depressie het, moet jy dalk terapeutiese middels vir 'n langer periode gebruik. *Tydens die aanvang van terapie is daar 'n groter risiko vir selfmoord. Dis wat gewoonlik vir almal so skokkend is: "maar dit het dan so goed gegaan die laaste tyd . . . " *Antidepressante is nie verslawend nie en is nie verdowingsmiddels nie. Dit is aanvullings wat die brein help om optimaal te funksioneer. Jy gee slegs jou brein weer petrol nadat die tenk vir lank leeg was, en dan herlaai jou liggaam weer die batterye.
Vitamiene en minerale
'n Optimale voedingstoestand laat jou altyd beter voel en vinniger herstel van fisieke sowel as psigiese siektes. *Visolies kan gebruik word om die werking van konvensionele antidepressante te versterk. Selfs as jy aan bipolêre depressie ly, is dit goed om Omega-3-olies te neem wat sal help om die oordragstowwe in jou brein konstant te hou. Omega-3-olies help ook teen swak geheue en belemmerde denke. *Foliensuur verbeter die respons op konvensionele antidepressant-terapie, maar kan nie plaasvervangend gebruik word nie. Foliensuur is noodsaaklik vir die ensieme wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van die brein se oordragstowwe. Mense met 'n tekort aan foliensuur het 'n hoër risiko om depressie te ontwikkel. *Vitamien B12 en/of B-kompleks help om simptome van depressie, soos slaaploosheid, moegheid en swak geheue, te verbeter.
Alternatiewe medikasie
*SAM-e is die stof wat klinies as effektief in die behandeling van depressie bewys is. Wanneer jy SAM-e saam met trisikliese antidepressante gebruik, sal jy baie vinniger 'n effek sien. Daar moet egter nog baie toetse gedoen word, daarom word dit glad nie aanbeveel dat jy dit gebruik in plaas van konvensionele terapie wat reeds wetenskaplik bewys is nie. *5-HTP is veel goedkoper as SAM-e, maar minder studies is gedoen oor die effektiwiteit daarvan. Studies wat wel onderneem is, het bewys dat dit effektief is, met 'n duidelike en vinnige verbetering in die simptome van depressie.
Gee die wit hond kos
*Sit, staan of lê in die son vir 30 minute. Sonlig aktiveer serotonien in jou brein. *Doen oefening. Die ideale soort oefening vir depressie is om vroegoggend te gaan stap. Sodoende kry 'n mens perspektief omdat jy in die pad afkyk en die horison sien. *Luister vrolike musiek, dans saam met jou kind en neurie die wysies. *Vermy die inname van suiker, aangesien dit 'n skielike inspuiting van energie is, gevolg deur afskeiding van 'n groot dosis insulien en dan laat dit jou op die ou end meer uitgewas en tam voel. Veral persone met bipolêre depressie sal baat vind met 'n lae glukemiese-indeksdieet. *Organiseer jou lewe. Daar is niks wat jou depressie so vererger soos gevoelens van onvoltooidheid, 13 stemboodskappe en 'n hoop pos van 30 cm nie. *Verander jou denke. Honger die swart hond uit. Hoe meer jy aan jouself vertel hoe ellendig jy en die lewe is, hoe erger sal dit met jou gaan. *Kry ondersteuning. In die begin moet jy net vrede maak met jou diagnose, maar later moet jy die oorsake of faktore wat dit vererger identifiseer. Dit kan jy doen saam met 'n sielkundige. Jy kan by 'n ondersteuningsgroep aansluit. Verseker 'n oop verhouding met jou naasbestaandes sodat jy met hulle kan praat sodra die eerste tekens van die swart hond weer daar is.
Simptome van depressie
Soms is 'n mens nie seker of jy depressief, of maar net neerslagtig of oorwerk is nie. Vul hiérdie vraelys in om vir jouself duidelikheid te kry. Dit sal jou help om te erken dat jy 'n geneesheer moet gaan sien, en jou ook help om perspektief op jou behandeling te behou. Indien jy reeds gediagnoseer is met depressie en jou medikasie wil staak, sou ek ook aanraai dat jy hierdie vraelys invul oor hoe jy gevoel het, voordat jy op behandeling was. Die groot fout wat depressielyers maak, is dat hulle te gou behandeling staak en dan kry hulle erge en aanhoudende terugvalle.
Konfronteer jouself eerlik – maar weet: daar is hulp beskikbaar.
|