|
My enigste en dierbaarste
waarsku my altyd in my donkerste uur dat ek die
swart hond nie moet kos gee nie. Ek, moeg en
moedeloos, kan nie eers begin dink wat hy
daarmee bedoel nie – ek dink maar dis iets soos:
"Moenie in die bed bly lê nie. Moenie die
telefoon vermy nie! Bad en trek jouself
ordentlik aan!"
Ag, as ek maar net energie en krag kon hê, dan
sou ek nog talle voorbeelde kon gee van swart
hondekos.
Om depressie te beveg is 'n
perd – in hierdie geval, 'n hond – van 'n ander
kleur. Die medikasie wat beskikbaar is verrig
wondere: die dokter kan jou met 'n doepa inspuit
wat jou soveel moed gee dat jy sommer dadelik
weer wil leef!
Maar depressie word nie net
eensydig deur chemiese stowwe beheer nie. Dit is
'n siekte wat deur jouself, die mense na aan jou
en jou lewenswyse beïnvloed word. Daarom moet
jou hele menswees versorg word.
Medikasie
As jy die swart hond wil
uithonger en verjaag, onthou die volgende:
●
Vermy die gelyktydige gebruik van
verskillende antidepressante, want daar is geen
bewys dat dit meer effektief in die behandeling
van depressie is nie.
●
'n Kombinasie van antidepressante
met kalmeermiddels is ook nie goed nie. Dikwels
word dit voorgeskryf in die begin, net nadat jy
gediagnoseer is, maar daarna moet jy onder
toesig van jou dokter die gebruik daarvan
verminder. Probeer regkom met net een pilletjie.
●
Natuurlike produkte werk ook baie
goed vir depressie. Gebruik SAM-e en 5HTP met
groot omsigtigheid, anders kan jy erge
newe-effekte ervaar van te veel serotonien. Noem
dit altyd vir jou dokter indien jy dit saam wil
gebruik.
●
Anti-depressante werk gewoonlik
eers na 2 tot 4 weke, en om 'n goeie effek te
verkry moet jy daarmee volhou vir ten minste 6
tot 12 maande. Dit sal erge terugvalle voorkom.
Indien 'n mens aanhoudend episodes van depressie
het, moet jy dalk terapeutiese middels vir 'n
langer periode gebruik.
●
Tydens die aanvang van terapie is
daar 'n groter risiko vir selfmoord. Dis wat
gewoonlik vir almal so skokkend is: "maar dit
het dan so goed gegaan die laaste tyd . . . "
●
Antidepressante is nie verslawend
nie en is nie verdowingsmiddels nie. Dit is
aanvullings wat die brein help om optimaal te
funksioneer. Jy gee slegs jou brein weer petrol
nadat die tenk vir lank leeg was, en dan herlaai
jou liggaam weer die batterye.
Vitamiene en minerale
'n Optimale voedingstoestand laat
jou altyd beter voel en vinniger herstel van
fisieke sowel as psigiese siektes.
●
Visolies kan gebruik word om die
werking van konvensionele antidepressante te
versterk. Selfs as jy aan bipolêre depressie ly,
is dit goed om Omega-3-olies te neem wat sal
help om die oordragstowwe in jou brein konstant
te hou. Omega-3-olies help ook teen swak geheue
en belemmerde denke.
●
Foliensuur verbeter die respons
op konvensionele antidepressant-terapie, maar
kan nie plaasvervangend gebruik word nie.
Foliensuur is noodsaaklik vir die ensieme wat
verantwoordelik is vir die vervaardiging van die
brein se oordragstowwe. Mense met 'n tekort aan
foliensuur het 'n hoër risiko om depressie te
ontwikkel.
●
Vitamien B12 en/of B-kompleks
help om simptome van depressie, soos
slaaploosheid, moegheid en swak geheue, te
verbeter.
Alternatiewe medikasie
●
SAM-e is die stof wat klinies as
effektief in die behandeling van depressie bewys
is. Wanneer jy SAM-e saam met trisikliese
antidepressante gebruik, sal jy baie vinniger 'n
effek sien. Daar moet egter nog baie toetse
gedoen word, daarom word dit glad nie aanbeveel
dat jy dit gebruik in plaas van konvensionele
terapie wat reeds wetenskaplik bewys is nie.
●
5-HTP is veel goedkoper as SAM-e,
maar minder studies is gedoen oor die
effektiwiteit daarvan. Studies wat wel onderneem
is, het bewys dat dit effektief is, met 'n
duidelike en vinnige verbetering in die simptome
van depressie.
Gee die wit hond kos
●
Sit, staan of lê in die son vir
30 minute. Sonlig aktiveer serotonien in jou
brein.
●
Doen oefening. Die ideale soort
oefening vir depressie is om vroegoggend te gaan
stap. Sodoende kry 'n mens perspektief omdat jy
in die pad afkyk en die horison sien.
●
Luister vrolike musiek, dans saam
met jou kind en neurie die wysies.
●
Vermy die inname van suiker,
aangesien dit 'n skielike inspuiting van energie
is, gevolg deur afskeiding van 'n groot dosis
insulien en dan laat dit jou op die ou end meer
uitgewas en tam voel. Veral persone met bipolêre
depressie sal baat vind met 'n lae
glukemiese-indeksdieet.
●
Organiseer jou lewe. Daar is niks
wat jou depressie so vererger soos gevoelens van
onvoltooidheid, 13 stemboodskappe en 'n hoop pos
van 30 cm nie.
●
Verander jou denke. Honger die
swart hond uit. Hoe meer jy aan jouself vertel
hoe ellendig jy en die lewe is, hoe erger sal
dit met jou gaan.
●
Kry ondersteuning. In die begin
moet jy net vrede maak met jou diagnose, maar
later moet jy die oorsake of faktore wat dit
vererger identifiseer. Dit kan jy doen saam met
'n sielkundige. Jy kan by 'n ondersteuningsgroep
aansluit. Verseker 'n oop verhouding met jou
naasbestaandes sodat jy met hulle kan praat
sodra die eerste tekens van die swart hond weer
daar is.
Simptome van depressie
Soms is 'n mens nie seker of jy
depressief, of maar net neerslagtig of oorwerk
is nie. Vul hiérdie
vraelys in om vir jouself
duidelikheid te kry. Dit sal jou help om te
erken dat jy 'n geneesheer moet gaan sien, en
jou ook help om perspektief op jou behandeling
te behou.
Indien jy reeds gediagnoseer is met depressie en
jou medikasie wil staak, sou ek ook aanraai dat
jy hierdie vraelys invul oor hoe jy gevoel het,
voordat jy op behandeling was. Die groot fout
wat depressielyers maak, is dat hulle te gou
behandeling staak en dan kry hulle erge en
aanhoudende terugvalle.
Konfronteer jouself eerlik –
maar weet: daar is hulp beskikbaar.
Voltooi die vraelys
hier.
Baie sterkte aan elkeen wat
saam met die swart hond lewe. Dit is moontlik om
aan te hou, al klink dit nou vir jou baie
moeilik. Maak een verandering op 'n slag. Die
belangrikste is: beantwoord die telefoon, trek
elke dag skoon aan en doen wat jy moet doen.
|