|
Noem die woord cholesterol, en baie mense dink dadelik aan hartaanvalle en siektes – tog is dit 'n noodsaaklike element vir die liggaam. Dit word onder meer in jou selmembrane gevind en word gebruik vir die isolasie van die senuwees en vir die produksie van sekere hormone. Cholesterol is ook nodig vir die produksie van galsure wat weer op hul beurt vir die vertering van kos verantwoordelik is. Hoe meer vet jy dus eet, hoe meer cholesterol vervaardig jou lewer. Hierdie wasagtige vetterige stof kan egter jou risiko vir hartaanvalle en beroertes verhoog.
Maar is dit werklik nodig om jou cholesterol te laat toets? Eers moet jy weet wat cholesterol is en wat jy kan doen om dit te beheer.
Die toets
'n Cholesteroltoets verskil van ander toetse in die sin dat dit nie vir 'n siektetoestand toets nie, maar eerder vasstel wat jou risiko vir die ontwikkeling van 'n siekte is, veral hartsiektes. Aangesien 'n gereelde cholesteroltoets deel van voorkomende gesondheidsorg uitmaak, beloon al hoe meer mediese fondse hul kliënte wat die toets laat doen.
'n Cholesteroltoets moet gedoen word indien jy
* sigarette rook;
* ouer as 45 jaar is;
* hoë bloeddruk het;
* 'n familiegeskiedenis het van mense wat op 'n jong ouderdom hartsiektes gehad het;
* reeds 'n hartsiekte of 'n hartaanval gehad het;
* aan suikersiekte ly; of
* jou gereeld te buite gaan aan vetterige kosse.
Verstaan die cholesterol
Die uitslae van 'n cholesteroltoets kan moeilik verstaanbaar wees as jy geen mediese kennis het nie, maar jou dokter kan dit in leketaal verduidelik as jy onseker is wat alles beteken.
Tydens 'n cholesteroltoets bepaal die dokter jou lipiede(vette)-profiel, wat uit die waardes Totale serum-cholesterol, HDL-C, LDL-C en Trigliseriede bestaan.
Die totale cholesterolvlak in jou bloed wys op die totale hoeveelheid vette wat jy in jou bloed het. LDL (lae digtheid lipo/vetproteïene) word beskou as slegte cholesterol, want dit bly in die bloed en klou maklik aan die bloedvatwande vas. 'n Hoë LDL word ook met verskeie soorte kardiovaskulêre siektes soos aterosklerose, hartaanvalle en beroertes verbind.
Jou ideale LDL-vlak word bepaal deur die hoeveelheid risikofaktore wat jy reeds het om hartvatsiektes te ontwikkel.
Goeie cholesterol, wat as HDL (hoë digtheid lipo/vetproteïene) aangedui word, se funksie is om cholesterol na die lewer te vervoer waar dit afgebreek en verwerk word.
Die trigliseriedvlakke bepaal die hoeveelheid vet wat jy eet. Verhoogde trigliseriede is ook 'n risikofaktor vir hartsiektes.
Medikasie
Wanneer 'n dokter medikasie voorskryf, kan dit vir sommige pasiënte moeilik wees om die behandeling getrou te volg omdat die toestand nie uiterlik waarneembaar is nie. Tog is dit uiters belangrik dat dit wel daagliks geneem word om ernstige newe-effekte te voorkom. Boonop is die behandeling van hoë cholesterol nie genesend nie, maar voorkomend.
Onthou dat cholesterolmedikasie meer doeltreffend is as dit met oefening en die regte dieet gekombineer word.
Dieet
Die ideaal is om minder slegte cholesterol (LDL) en meer goeie cholesterol (HDL) in te neem. LDL is in versadigde vette te vind wat in kossoorte soos botter en kaas voorkom. HDL is in mono-onversadigde vette te kry en kom in kosse soos olyf- en groente-olie, neute en avokado's voor. Studies het bewys HDL kan tot die vermindering van LDL en trigliseriede in die liggaam bydrae.
Dit is egter raadsaam om 'n dieetkundige te raadpleeg wat 'n persoonlike dieet vir jou kan voorstel. Daar is ook aanvullings wat moontlik doeltreffend kan wees. Hier is 'n paar riglyne:
* Eet soveel as moontlik vrugte en groente.
* Verminder jou inname van versadigde vette, soos gebraaide rooivleis en geprosesseerde kos, soos wegneemetes.
* Kry baie vesel in deur middel van volgraankosse, hawermout en ander oplosbare vesels wat in vrugte en groente te vind is. Dit is bewys dat vesel doeltreffend is in die verlaging van cholesterol. Daarbenewens het studies bewys hoë hoeveelhede koolhidrate kan ook cholesterol verhoog.
* Gebruik eerder laevet- of afgeroomde melk.
* Gebruik olyf- of Canola-olie. Gooi rojaal olyfolie oor jou slaaie en pasta.
* Eet eerder witvleis, soos hoender, vis of kalkoen.
* Eet meer avokado's, want dit is 'n uitstekende bron van mono-onversadigde vet.
* Eet neute, veral pistachioneute, amandels, haselneute en okkerneute.
* Peulvrugte, wat alle soorte bone insluit, moet ook ingesluit word omdat dit laag in vet is.
* Twee glase rooiwyn per week is gesond, maar hou matigheid voor oë.
* Vul jou dieet aan met lynsaad wat ryk is aan omega-3-olies.
* Eet baie olierige vis, soos salm, makriel en sardiens wat ryk is aan omega-3-olies.
* Neem voldoende kalsium en magnesium in. Laevetmelk en -jogurt en piesangs is die beste bronne.
* Alfalfa (lusern; kyk ook vir alfalfa-uitloopsel) en gars (barley) kan ook help om jou cholesterol te verlaag.
As jy vermoed jy het hoë cholesterol, doen die toets en ontleed die resultate saam met jou dokter, neem die medikasie soos voorgeskryf en volg 'n voorgeskrewe dieet noukeurig. Sodoende belê jy in jou gesondheid. Onthou ook: 'n Dokter se behandeling is slegs suksesvol as die pasiënt getrou sy voorskrifte nakom.
Vrywaring: Alle inhoud in hierdie artikel is alleenlik ter inligting. Enige inligting in hierdie artikel wat verwys na 'n spesifieke mediese toestand, voorkomende sorg en/of 'n gesonde lewenstyl suggereer nie individuele diagnose of behandeling nie en is nie 'n plaasvervanger vir mediese sorg nie.
|