|
'n Mens se lewe is nie net een gelyke lyn van emosie en gevoel nie – dit is soos die deinings in die oseaan: daar is tye wanneer dit goed gaan, jy 'n uitbundige gevoel ervaar en op die toppunt van 'n golf ry, maar dan is daar ook tye wanneer jy meer swartgallig en broos voel en jy 'n laagte punt bereik. Hoe gemaak wanneer 'n mens onseker en bang is wanneer dinge maar net nie wil regkom in jou lewe nie?
Miskien kan die volgende stappe jou help:
Verminder jou angstigheid
Wanneer jy in 'n paniekfase ingaan en dit voel of die hel se ellende oor jou toesak, is dit moeilik om jou angstigheid onder beheer te kry. Die probleem is: angs en paniek is aansteeklik. Fokus dus eerstens op jouself, probeer kalm bly, haal diep asem, en dink wie daar is wat jou kan help. In 'n paniekbevange toestand is dit moeilik om rasionele en goeie besluite te neem. Soms wanneer die paniek bedaar, verbeter jou uitkyk op die rampspoedige gevolge van jou krisis.
Wanneer jou angs en benoudheid buite beheer raak, kan dit help om vir berading of terapie te gaan om te help om 'n ander perspektief op jou situasie te verkry. Soms is dit ook nodig om 'n dokter te konsulteer wat medikasie kan voorskryf om angstigheid of depressie onder beheer te kry.
Fokus op wat jy kan doen
'n Mens voel soms radeloos met die gevoel van "alles stuur op 'n ramp af". Wanneer jy egter hulp en inligting vra, kan jy begin fokus op konkrete stappe wat jy kan verrig. Wanneer jy daarop fokus, ontbrand 'n positiewe energie en gedagtegang in jou. Dit gee vir jou hoop dat jy iets kan doen aan jou omstandighede – anders bly jy vasgekeer in die hopeloosheid van jou situasie.
Elke probleem het 'n einde
Onthou: Daar sál tye kom wanneer dit weer beter gaan. Jou situasie sál verander; jou gesindheid en houding is egter belangrik in die uitkoms van hierdie verandering.
Probeer gesond bly
'n Mens is soms geneig om midde-in 'n krisis nie na jou gesondheid te kyk nie. Wanneer jy broos en bang voel het jy buitendien nie krag en lus om te oefen nie. Maar dit bly belangrik om, sover dit moontlik is, na jou gesondheid om te sien. Al gaan stap jy net om die blok is dit beter as om niks te doen nie.
Verander jou lewe
Moenie uitgestelde beloftes maak soos dat jy, eendag wanneer die krisis verby is, 'n verandering in jou lewe sal maak nie. Doen dit nóú midde jou krisis, maar hou daarmee vol wanneer dit weer met jou goed gaan.
Wanneer jy ongehoorsaam is, word nóú gehoorsaam. Wanneer jy op skuld lewe, hou nóú op skuld maak. Wanneer jy 'n humeurige geaardheid het, word nóú bedagsaam en leer om vir mense om te gee.
Jy het as mens nodig om midde in 'n krisis te verander – dis moontlik een rede hoekom die krisis oor jou pad gestuur is – maar dit moet 'n egte verandering wees wat van jou radikaal 'n beter mens maak.
Leef eenvoudig
Soms maak ons die lewe te gekompliseerd –ons leef te veel met hang-ups en allerhande fieterjasies wat verdere spanning en druk op ons plaas. Keer eerder terug na die basiese beginsels van 'n lewensbestaan. Wanneer jy in oorvloed en weelde leef is dit wel soms moeilik (omdat jy partykeer te verwaand raak) om die wonder van eenvoud te waardeer. Wanneer jy egter broos is en breekpunt bereik, is dit ook die regte tyd om jou waardes terug te skaaf na die gesonde, eenvoudige lewensbeginsels van 'n menslike bestaan.
Leef dankbaarheid
Wees dankbaar vir elke gawe en geskenk wat jy kry en raak bewus van die groot genade om te kan lewe, om te kan asemhaal, om te kan sien en te hoor. Krisistye leer mense om weer dankbaar te wees vir die klein dingetjies in die lewe en om nie so puntenerig te wees oor alles nie. Sê weer dankie vir die mense om jou, en sê dankie vir die goeie Vader wat vir jou sorg – al voel jy eensaam en verlore in hierdie groot, wye wêreld.
Weet God is in beheer
Dit is maklik om dit te sê wanneer dit met jou goed gaan, maar wanneer jy in 'n krisis gedompel word en jy bid en niks gebeur nie, begin 'n mens soms twyfel. Maar ons hoop lê uiteindelik tog daarin dat ons sal weet dat God, ondanks alles, in beheer is. Selfs Satan moes by God toestemming kry om aan Job te kon raak. Ja, in krisistye en ellende moet ons vashou aan die wete dat God in beheer is van ons lewe en omstandighede.
Bid sonder ophou
Daar is baie verse in die Bybel wat handel oor die krag van gebed en wat vir ons leiding gee rondom gebedsaspekte. Onthou dat die krag van gebed nie by jou lê nie, maar by God. Jy kan dus maar stamelend bid en jy hoef nie eers die mooiste woorde kies nie – die Here verhoor sulke gebede!
Help ander só
In tye van geluk en voorspoed verstaan 'n mens soms nie werklik waardeur iemand gaan wat met 'n groot krisis worstel nie. Daarom is dit hartseer dat mense wat broos en onseker voel en om hulp smeek, soms nie die nodige begrip en deernis vir hul probleme kry nie.
Te dikwels is die oppervlakkige advies van ander beperk tot "hou moed ou maat, dinge sal beter gaan."
Die laaste ding wat 'n angstige persoon egter wil hoor, is 'n aangeplakte positiewe cliché. Of wanneer jy in jou radeloosheid om hulp roep en jy kry die volgende antwoord: "Ek dink jy is oorwerk, hoekom gaan jy nie op 'n lekker lang vakansie nie?"
Dit, terwyl jy nie eers weet of jy die einde van die maand jou huishuur sal kan betaal nie!
Iemand in nood het 'n dringende behoefte om verstaan en vasgehou te word. Om konkrete hulp en daadwerklike leiding te kry. Wat doen jý wanneer iemand – broos, bang en radeloos – by jou kom aanklop om hulp?
'n Sprankie wysheid vir die dag
"Wanneer jy verdrietig is, kyk weer in jou hart en jy sal sien dat jy in werklikheid ween oor daardie dinge wat jou vreugde was." - Kahlil Gibran.
Dr. ST Potgieter is 'n opvoedkundige sielkundige van Bellville. Om jou algemene vrae of kommentaar oor dié artikel aan hom te stel, stuur 'n e-pos aan st@pitkos.co.za.
|