|
Simoné Kilian (26) is fyn en maer – miskien té maer. Sy bestel vrugteslaai en 'n glas water: “Ek moet my gewig dophou,” verduidelik sy.
Die slaai het sy nooit klaar geëet nie: Na 'n paar happies het sy dit eenkant toe gestoot. Sy hou die glas met altwee hande vas, maar dit bewe steeds.
“Volgende week,” sê sy, “dan trek ek uit.”
Sy is senuagtig en vermy oogkontak.
Dit was liefde met die eerste oogopslag toe Simoné vir Bruce (33) drie jaar gelede tydens 'n huispartytjie by gesamentlike vriende in Pretoria ontmoet het. Hy was die tipiese heer: galant, ordentlik en vol komplimente.
“Ek onthou die eerste keer toe hy my gesoen het – jy weet, daardie sweefgevoel? Daardie op-die-wolke-gevoel waarvan hulle in die storieboeke skryf? Dis hoe ek gevoel het.”
Sy sit die glas water neer, en steek nog 'n sigaret aan. Kettingroker.
Bruce het Simoné die aand daarna uitgevat op 'n afspraak; die aand daarná ook. Teen die naweek was haar slaapkamer vol blomme; die volgende week het sy haar woonstelmaats in kennis gestel dat sy uittrek om by Bruce te gaan bly.
Hy het al 'n hele paar ernstige verhoudings gehad, en kort voor hy Simoné ontmoet het, het sy voormalige meisie hul verlowing ook verbreek.
Maar dit het Simoné nie gepla nie. “Ek kon nie glo dat hy in mý sou belangstel nie,” vertel sy.
Tussen die bewende glas water en die een sigaret na die ander, ontvou haar verhaal stotterend:
Nadat sy by hom ingetrek het, het hy gesê sy behoort nou aan hóm en daarom mag sy nie weer op haar eie iets doen nie. Later is sy verbied om haar eie vriende te hê, en het hulle net by sý vriende en familie gekuier. Die blomme het opgehou en hy het gesê as sy vir hom lief is, sy gewig sal verloor. Hulle mag net na sý tipe musiek luister en na die TV-programme kyk waarvan hý hou – die res was gemors.
Toe begin die beskuldigings: dat sy nie meer vir hom lief is nie, dat sy met ander mans flankeer en dat sy nie goed genoeg in die kombuis of in die slaapkamer is nie. Tydens sy woedebuie het hy haar al teen 'n muur vasgedruk, op die grond gegooi en haar ook geklap. Die volgende dag sou hy omverskoning vra en belowe dat dit nooit weer sal gebeur nie. Tot die volgende keer. Hy het haar verskeie kere uit die huis gejaag, net om haar 'n week later te soebat om terug te kom.
“En elke keer het ek,” sê Simoné, “want ek het hom jammer gekry en ek is lief vir hom. Maar dié keer verbreek ek die verhouding finaal.”
Wat sê die kenners
Dit gaan egter nie só maklik wees nie, voel dr. Cecile Gericke, kliniese sielkundige van Randburg.
“Simoné is duidelik in 'n verhouding vasgevang waar Bruce haar manipuleer en van emosionele afkraking gebruik maak om haar by hom te laat bly.”
Sy som dit só op: “Dié man het 'n verskriklike lae selfbeeld en minderwaardigheidskompleks.”
Maar Simoné se situasie is glad nie so vergesog nie, sê Leandie Buys, 'n seksuoloog van Port Elizabeth. “Dit kom baie gereeld voor. Vroue wat met 'n jaloerse, besitlike en manipulerende liefdesmaat sit, glo later die leuens wat die man vertel en is oortuig daarvan dat die skuld eintlik by hulself lê.”
Dié selfskuldgevoel word versterk deurdat die jaloerse minnaar tussen sy periodes van geweld eintlik baie galant en die perfekte man is, verduidelik sy. “Vir mense na buite lyk hy na die ewige mr. Nice Guy.”
Cornél Brown, kliniese sielkundige van Randparkrif in Johannesburg, sê 'n man wat sy liefdesmaat emosioneel afkraak sodat hy heeltyd in beheer van die verhouding kan wees, doen dit omdat hy op die een of ander vlak bedreig voel.
Volgens hom kan daar verskeie redes daarvoor wees:
“Die man kan byvoorbeeld voel dat as sy hom sou los vir iemand anders, hy nie goed genoeg is en daarom geen bestaansreg meer het nie. Omdat dit vir hom 'n bedreiging inhou, sal hy oorreageer wanneer 'n ander man net na haar kyk, en sal hy haar daarvan beskuldig dat sy mans uitlok.
“Nog 'n rede kan wees as hy voel dat hy nie die nodige respek as man in die verhouding ontvang nie, want sy pa het hom geleer 'n man sorg vir sy vrou en sy volg sy leiding. Maar nou ontstaan die situasie waar die vrou net soveel, of meer, as hy verdien en sy op gelyke voet met hom wil wees. Die emosie wat by die man ontstaan is ‘dan is ek mos nie meer 'n man nie en het ek geen bestaansreg meer nie’. Omdat die man dit nie kan toelaat nie, sal hy die vrou dan in 'n laer posisie hou deur haar gedurig aan haar swakhede te herinner.
“Dit gebeur ook wanneer die man ervaar hy ontvang nie genoeg liefde by haar nie. Hy kan redeneer ‘ek het my lewe lank min liefde ontvang totdat ek haar ontmoet het, sonder haar liefde is ek dood’.
“Dit kan ook wees dat die man voel hy het sy lewe lank 'n oormaat van liefde en aanvaarding in sy ouerhuis gekry, en nou moet sy lewensmaat aan dié behoefte voorsien ‘want daarsonder kan ek nie lewe nie’.”
Cornél beklemtoon dat al dié emosies onderbewuste prosesse is: “Die onderbewuste wil dan die persoon teen die bedreiging verdedig – dit veroorsaak 'n impuls om te veg wat manifesteer as emosionele- en fisieke mishandeling.”
Dr. Hermann Liebenberg van Centurion wys op die persoon met narsistiese eienskappe: “Hy is net op sy eieself gefokus – daarom moet álles rondom hóm gebeur. Om sy sin te kry, sal hy sy liefdesmaat manipuleer, mishandel en afkraak. Sulke persone voel ontoereikend binne hulself: om dan vir hul eie tekortkominge te kompenseer, sal hulle alle verantwoordelikhede en skuld op die ander persoon projekteer om hul eie ego’s instant te hou.”
Hermann sê tipiese gedragseienskappe van dié persoon is sy onvermoë om kritiek te absorbeer, sy selfgesentreerdheid en boelie-gewoontes.
“Hulle sal die weerloses mishandel net om 'n gevoel van beheer te ervaar.”
Hoekom bly vroue in so 'n verhouding?
Cecile ondervind by baie 'n misplaaste gevoel van “ek kan nie alleen oor die weg kom nie”.
Hulle soek ook moeilik hulp by hul ouers: hetsy vir raad óf om terug te trek huis toe: “Sy weet onbewustelik dat sy 'n verkeerde lewensmaat gekies het, maar kan dit nie teenoor haarself erken nie. Deur terug te trek ouerhuis toe, gaan dan juis só 'n erkenning tot gevolg moet hê – daarom vermy sy dit. Konflik ontstaan binne haar met woede wat teenoor haarself opbou. Dié woede word dan na die ouers verplaas en sy sal negatief teenoor hulle wees. In sommige gevalle sal sy selfs vir ander sê – én dit glo – dat haar ouers haar nie meer wil hê nie.”
Skuldgevoel kan 'n verdere rol speel omdat vroue wat in manipulerende verhoudings vasgevang is, hul ouers bittermin sien.
“Omdat sy nie dié skuldgevoel sal – of kan – erken nie, manifesteer dit in 'n wrok teenoor die ouers.”
Hermann verduidelik verder: “Die tipiese besitlike minnaar sal sy meisie van haar ouers weghou, en haar selfs verbied om hulle te besoek. Dit spruit uit sy onderliggende emosionele onsekerheid oor homself, wat oorspoel na 'n vrees dat die meisie die ouerhuis as 'n veilige hawe sal sien en dan daarna sal wil terugkeer. Om dieselfde rede sal hy haar ook alle ander normale vriendskappe verbied.”
Dit is moeilik, maar wel moontlik, om die besitlik-jaloerse en potensieel manipulerende man reeds voor die verlowing of huwelik te identifiseer. Die volgende eienskappe moet die gevaarligte laat flikker:
As hy:
* altyd presies wil weet met wie jy en waaroor julle oor die telefoon gesels het,
* voortdurend verslag wil hê van al jou doen en late,
* 'n verduideliking verwag oor hoekom jy jou hare en naels laat doen het,
* daarop aandring om die wagwoord van jou selfoon en persoonlike e-posadres te ken,
* verwag dat jy hom voortdurend van jou liefde en getrouheid sal verseker,
* in onbeheerste en onverwagte woedebuie verval,
* wreedheid teenoor diere openbaar,
* ander mense afkraak,
* jou laat voel dat jy sonder hom tot niks instaat is en ook nie self besluite kan neem nie,
* op seksuele gebied dinge verwag waarvoor jy nie gereed of lus is nie,
* hy jou verkwalik as jy nie elke keer 'n orgasme bereik nie.
Wat nou?
Aanvaar dat daar 'n probleem in jou verhouding is, en neem verantwoordelikheid om dit te verander.
Maak 'n afspraak met 'n professionele persoon in jou omgewing om jou by te staan. As jy nie weet met wie om te praat nie, vra jou predikant of huisdokter om jou te verwys.
Kontak die Woman Abuse Helpline by 0800 150 150.
Kontak een van jouwêreld se meewerkende sielkundiges om jou die nodige hulp te bied om jou selfbeeld te kan herstel:
ST Potgieter (Bellville): st@pitkos.co.za
Cecile Gericke (Randburg): admin@drcecile.co.za
Cornél Brown (Randburg): cornel@cjbp.co.za
Hermann Liebenberg (Pretoria): hermannliebenberg@gmail.com
Leandie Buys (Port Elizabeth): info@leandiebuys.co.za
|