April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 


  Word die gelukkigste spaarvarkie in Palestina

joumenswees
hoofinhoud
terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel


deu
r Wilna Myburgh












 

Sodra jy aanvaar dat dit moeilik is om jou geldsake uit die semels te red, raak dit sommer makliker.

 

Almal weet mos eintlik hoe om met geld te werk, nie waar nie? Want die enigste reël wat daar tog kán wees, is: "Moenie geld uitgee nie". Dié reël is die sleutel tot finansiële sukses!

Daar is natuurlik die klein probleempie waarvan mens net nie kan wegkom nie – vaste uitgawes. Alles wat jou onder 'n verpligting het om maandeliks te betaal en wat ook maand na maand dieselfde bly, soos jou huispaaiement of afbetalings op 'n kar of 'n lening - dit is jou vaste uitgawes.

Dan is daar nog die probleem van veranderlike uitgawes – daar waar jy nie weet hoeveel jy die maand op kos of klere gaan spandeer nie. Veranderlike uitgawes is beide die noodsaaklikhede vir jou dag-tot-dag bestaan sowel as al die lekker luukshede waarmee jy jouself bederf.

Dis egter by veranderlike uitgawes waar jy veral 'n verskil kan maak – en ook 'n beter reël tot finansiële sukses kan nakom: "Moenie te veel geld uitgee nie".




Daar is hope selfhelpboeke en artikels oor finansies en begrotings – en tog gee almal maar dieselfde raad. Nogtans is dit altyd goed om jou geheue te verfris oor wat jy kan doen om jou geldsake uit die semels te red. Dis nie maklik om geen finansiële probleme te hê nie – dis iets waaraan jy moet werk. Maar sodra jy aanvaar dat dit moeilik is en dat jy tyd moet spandeer om dit reg te kry, raak dit sommer makliker.

Wie is die vark in die verhaal?

As jou geld nie elke maand die einde van die maand sien nie, het jy 'n probleem. Of jy kry te min geld in (wie doen nie?) of jou uitgawes is te veel (wie s'n is nie?).
Daar is natuurlik dié opsies om jou inkomste te vermeerder: werk hard en hoop op 'n verhoging, soek 'n werk met 'n hoër salaris of kry ekstra-werk. Ongelukkig weet ons almal dat dit nie so maklik nie. Daarom dat jy na jou uitgawes moet kyk en bepaal watter een die sondebok is.

Lys al jou uitgawes.
Begin deur die vaste uitgawes neer te skryf, gewoonlik ook die groter bedrae, en dan al die ander veranderlike uitgawes.
Onthou dat sommige uitgawes, soos jou selfoon, dalk nie elke maand presies dieselfde sal wees nie, vat dan net die gemiddeld in 'n jaar. Moenie die kleinste bedrag of die bedrag wat jy eintlik wil spandeer gebruik nie.
Kyk ook na jou bankstrokies. As daar 'n groot verskil is tussen jou inkopiestrokies en die geld wat jy by die bank trek, moet jy elke ding wat jy koop neerskryf. Hier is gewoonlik waar jy agterkom dat van die geld net uit jou beursie moes geval het, aangesien jy nie altyd kan verklaar waarheen dit is nie.
Wees rustig – dit kan 'n hele maand neem om 'n ordentlike lys uitgawes saam te stel. Maar om regtig 'n goeie begrip van jou finansies te kry moet jy álles neerskryf – tot kougom!
Groepeer hierdie klein uitgawes onder verskillende afdelings, soos huisuitgawes, ontspanning, kos en so aan.

Maak nou ook 'n lysie van jou inkomste per maand – dis belangrik dat jy weet wat die presiese bedrag is waarmee jy kan werk – dus, ná aftrekkings.
As jy weet dat jy aan die einde van die jaar 'n groot bonus kry, of op 'n terugbetaling van die belasting wag, moenie dit by jou inkomste voeg nie. Sien dit eerder as 'n oulike meevallertjie, wat jy kan spaar of belê vir later.

Wat jy mee op eindig is iets naby aan 'n begroting. Jy kan nou sien hoeveel geld jy maandeliks mag spandeer en waarop jy tans jou geld spandeer.

Gaan elke uitgawe noukeurig na.
By elke uitgawe moet jy jouself afvra hoekom dit soveel is, of jy dit kan verminder, met hoeveel en of jy dit heeltemal kan weglaat.
Maak nou vir jou 'n nuwe lys van hoeveel jy moet / mag spandeer op elke afdeling. Dit help om nou al jou uitgawes in volgorde van belang te plaas.

'n Basiese riglyn om mee te werk is dat jou vaste uitgawes een derde van jou totale inkomste moet uitmaak. Die idee is ook dat jou totale uitgawes niks meer as 90% van jou inkomste moet wees nie.

Stel vir jouself 'n limiet per week. Sommige kenners beveel aan dat jy die vaste uitgawes van jou inkomste moet aftrek, ook hoeveel jy wil spaar en op skuld afbetaal, en dan die oorblywende geld in vier deel. Dis hoeveel jy per week mag spandeer. Onthou dat jou limiet darem realisties ook moet wees.
Jy kan dit minstens 'n maand probeer en dan jou geldsake herevalueer.

En – onthou – as jy vir jouself 'n weeklikse limiet stel en daar bly geld oor, moet jy dit eerder spaar of hou om te belê. Moenie dit sommer spandeer omdat dit beskikbaar is nie.

Hier is nog riglyne om jou te help:

Moenie 'n vark wees nie

Mens hoef nie alles dadelik te hê nie – spaar vir dit wat jy wil koop en betaal die volle bedrag later, eerder as om dit op jou kredietkaart te koop. Dan kan jy daai aaklige rente vermy. Of maak ten minste seker dat jy in die opkomende maande die geld gaan hê, sodat jy nie agterraak met die betalings nie.
Pasop om goed wat jy opeet of opgebruik, soos 'n vakansie, op krediet te koop – jy gaan al vergeet het daarvan dan betaal jy nog af.

Klim uit die semels

As jy kniediep in die skuld is, moet jy 'n plan maak. Skuld verdwyn ongelukkig nie vanself nie, en dit word ook nie vanself minder nie. Maak 'n mooi lysie van hoeveel jy waar skuld en wat die rentekoerse is. Bepaal dan waar in jou begroting jy aan jou uitgawes kan verminder, sodat jy kan sien wat die maksimum bedrag is wat jy maandeliks kan afbetaal. Begin dan om die skuld met die hoogste rentekoers te betaal. As dit regtig moeilik gaan moet jy met jou skuldeisers gaan praat om te hoor of daar 'n plan gemaak kan word. Eerder as om net op te hou betaal, en jouself in groter moeilikheid te kry, kan jy dalk elke maand 'n kleiner bedrag afbetaal. Dis die moeite werd om te probeer uitvind.

Kry 'n spaarvarkie

Jy mag dalk sukkel om van maand tot maand met jou geld uit te kom en jou skuld te delg, maar jy moet nogtans ook elke maand iets vir die maer jare opsy sit.

Daar is verskeie redes hiervoor: die een is dat jy geld moet hê vir 'n noodgeval. As jy 'n presiese begroting het, moet jy ook voorsiening maak dat jou kar dalk kan breek of geyser bars, anders sit jy in 'n penarie. Die "mense wat weet" stel voor dat jy 3 – 6 maande se lewensuitgawes moet kan dek ingeval jy dalk jou werk verloor of 'n ander krisis ontstaan.

Verder moet jy ook vir jou oudag spaar – mens kan nooit te vroeg begin nie! Om die waarheid te sê, hoe vroeër jy begin hoe minder geld hoef jy maandeliks daaraan te spandeer. Gaan vind uit van 'n goeie pensioenfonds of aftreeplan om jou te help.

Die beste plan is egter om met 'n doel te spaar: 'n oorsese vakansie, 'n huis of dalk vir jou kinders se opvoeding. As jy 'n doelwit het is dit baie makliker om te spaar.
Gaan praat met jou bank om uit te vind van 'n belegging waarin jy elke maand 'n klein bedrag, soos R100, kan belê. Laat die geld dan met 'n debietorder afgaan – mens kom dit naderhand nie meer agter nie!

Vies varke word nie vet nie

Moenie skepties wees dat die klein dingetjies nie gaan help om jou finansiële posisie te verbeter nie. Dis nie verniet dat daar 'n uitdrukking, "wie die kleine nie ag, is die grote nie waardig" is nie. Onthou byvoorbeeld dat dit meer kos om by ander banke se OTM's geld te trek, dat jy vir jouself ook kan koffie maak en dat onderdakparkering duur is.
Kyk na jou bankrekening – die bank kan jou help om te bepaal watter rekening jou behoeftes die beste gaan vervul om die minste bankkoste te betaal.

'n Plan wat ek graag in winkels gebruik is om voor ek betaal elke item in my mandjie krities na te gaan en doodseker te maak dat elkeen belangrik en nodig is. Mens dink dikwels op eerste oogopslag dat jy iets moet hê, maar in werklikheid kan jy sonder dit klaarkom.

  Wees dié vark in Palestina

Geldsake is ernstig, maar dit kan ook jou lewe oorneem as jy te veel daarop hamer. Moenie spontaneïteit verloor nie. Niemand gaan van jou hou as jy heeldag en aldag alles bedank omdat jy nie die geld wil spandeer nie – niemand het gesê jy mag nie jouself bederf nie! En dis juis hoekom jy na jou uitgawes moet kyk – sodat jy sonder skuldgevoelens kan ontspan en die lewe geniet!
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joumenswees
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep