|
joumenswees
Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit: volg 'n holistiese benadering
Ouers met kinders wat aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lei, hoef nie met hul hande in hul hare te sit nie. Deur die kind se lewenstyl te verander en aan te pas, kan daar baie gedoen word om te help.
deur Heather Picton Heather@Picton.nom.za
Deur die jare is daar verskeie redes vir die bestaan van aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit gegee, met net soveel verskillende benaderings tot die behandeling, hantering en genesing daarvan. Vandag word daar erken dat daar nie net een benadering is om na dié toestand te kyk nie, maar dat 'n holistiese benadering baie meer doeltreffend en suksesvol is om die toestand te beheer en selfs te genees.
Dit is van kritieke belang om kennis oor die oorsake van aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit te hê. Dié kennis kan help met besluite oor die behandeling en hantering van die kind.
Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit word veroorsaak wanneer die
breinselle 'n onvermoë het om met mekaar te kommunikeer. Dié onvermoë
word weer aan 'n wanbalans van neuro-oordragstowwe gekoppel, wat 'n
neurologiese disfunksie is.
Gesonde eetgewoontes
Die kind wat aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lei, se liggaam vervaardig te min, of glad nie, neuro-oordragstowwe wanneer die essensiële vetsure afwesig is. Aanvullings van beide Omega-6 en Omega-3 kan hier aansienlike verbetering in gedrag, konsentrasie en fisieke vermoë tot gevolg hê. Wanneer vitamiene en minerale bygevoeg word om die liggaam te help om hierdie vetsure te metaboliseer, sal dit die resultate aansienlik verbeter.
Natuurlik moet nie-voedingsryke voedsel, wat die sisteem belemmer om essensiële vetsure te metaboliseer, uitgeskakel word.
Bloedsuikervlakke wat voortdurend verander, kan ook mens se funksionering ondermyn – en soveel te meer vir die kind met aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit. Die stabilisering van bloedsuikervlakke verminder die lus vir soetgoed en gemorskos.
Dit is dus uiters noodsaaklik om die bogenoemde beginsels te volg om gesonder eetgewoontes by die kind aan te kweek.
Die
voorgeskrewe aanvullings kan verminder word deur vrugte, groente, sade,
proteïene en ander voedsel wat nutriënte
voorsien, by 'n gesonde dieet te voeg.
Aktiwiteitsvlakke
Speel is 'n baie belangrike leergeleentheid en moet aangemoedig word. Baie kinders weet nie eens hoe om te speel nie – veral as hulle swak sosiale interaksie-vaardighede het. Hulle word altyd deur ander kinders uitgesluit wat die probleem vererger.
Dit
is baie waardevol, en belangrik, dat ouers tyd moet inruim om met hul
kinders te speel. Dit kan uit redelike passiewe spel, soos
bordspeletjies (wat help om sosiale vaardighede, organisasie en
gesyferdheid aan te leer) of aktiewe spel soos stoei, judo,
swem en ander fisieke
speletjies,
bestaan.
Stresvlakke
Baie mense dink dat dit nie vir 'n kind moontlik is om te stres nie – ongelukkig is hulle baie verkeerd! Wanneer 'n kind gespanne is, krimp die dendriete en vergroot die afstand tussen die selle. Konsentrasie en funksionering oor die algemeen word moeiliker.
Houding van die ouers
Die positiewe houding en optrede van ouers teenoor hul kind wat aan aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lei, is van die belangrikste dinge wat 'n ouer kan doen. Dié kinders moet wéét dat hul ouers aan hul kant is, en hulle ondersteun.
Soos wat die ouer meer oor die versteuring leer en die uitdagings verstaan wat die kind daagliks in die gesig staar, sal hulle hul kind beter kan aanvaar en ondersteun.
Heather Picton is die stigterslid van die Attention Deficit Disorder/Hyperactivity Support and Advice- groep in Suid-Afrika. Kontak haar tussen 08:00 – 13:00 op 011 888 7655 gedurende weeksdae, of stuur 'n faks aan 086 604 7124, of 'n e-pos aan Heather@Picton.nom.za of adhasa@telkomsa.net Besoek ook www.adhasa.co.za
|