|
Deur die jare is daar verskeie redes vir die
bestaan van aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit
gegee, met net soveel verskillende benaderings
tot die behandeling, hantering en genesing
daarvan.
Vandag word daar erken dat daar nie net een
benadering is om na dié toestand te kyk nie,
maar dat 'n holistiese benadering baie meer
doeltreffend en suksesvol is om die toestand te
beheer en selfs te genees.
Dit is van kritieke belang om kennis oor die
oorsake van aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit
te hê. Dié kennis kan help met besluite oor die
behandeling en hantering van die kind.
Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit word
veroorsaak wanneer die breinselle 'n onvermoë
het om met mekaar te kommunikeer. Dié onvermoë
word weer aan 'n wanbalans van
neuro-oordragstowwe gekoppel, wat 'n
neurologiese disfunksie is.
Dokters gebruik medikasie om hiérdie
neuro-oordragstowwe meer beskikbaar vir die
sinapse te maak.
Gesonde eetgewoontes
Die kind wat aan
aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lei, se
liggaam vervaardig te min, of glad nie,
neuro-oordragstowwe wanneer die essensiële
vetsure afwesig is.
Aanvullings van beide Omega-6 en Omega-3 kan
hier aansienlike verbetering in gedrag,
konsentrasie en fisieke vermoë tot gevolg hê.
Wanneer vitamiene en minerale bygevoeg word om
die liggaam te help om hierdie vetsure te
metaboliseer, sal dit die resultate aansienlik
verbeter.
Natuurlik moet nie-voedingsryke voedsel, wat die
sisteem belemmer om essensiële vetsure te
metaboliseer, uitgeskakel word.
Bloedsuikervlakke wat voortdurend verander, kan
ook mens se funksionering ondermyn – en soveel
te meer vir die kind met
aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit. Die
stabilisering van bloedsuikervlakke verminder
die lus vir soetgoed en gemorskos.
Dit is dus uiters noodsaaklik om die bogenoemde
beginsels te volg om gesonder eetgewoontes by
die kind aan te kweek.
Die voorgeskrewe aanvullings kan verminder word
deur vrugte, groente, sade, proteïene en ander
voedsel wat nutriënte voorsien, by 'n gesonde
dieet te voeg.
Verseker dat die kind genoeg vriendelike
intestinale flora het, wat maagpyn en ander pyne,
hardlywigheid en diarree kan voorkom.
Dit is ook bewys dat glukonutriënte bykomende
voordele vir baie kinders inhou.
Aktiwiteitsvlakke
Speel is 'n baie belangrike leergeleentheid en
moet aangemoedig word. Baie kinders weet nie
eens hoe om te speel nie – veral as hulle swak
sosiale interaksie-vaardighede het. Hulle word
altyd deur ander kinders uitgesluit wat die
probleem vererger.
Dit is baie waardevol, en belangrik, dat ouers
tyd moet inruim om met hul kinders te speel. Dit
kan uit redelike passiewe spel, soos
bordspeletjies (wat help om sosiale vaardighede,
organisasie en gesyferdheid aan te leer) of
aktiewe spel soos stoei, judo,
swem en ander fisieke
speletjies,
bestaan.
Wanneer kinders aktief is, groei die fyn
vertakkings op die dendriete van die breinselle
– wat dit weer vir die breinselle makliker maak
om met mekaar te kommunikeer. Neurologiese
funksionering kan verbeter word, wat op sy beurt
neurologiese disfunksie verminder.
Maak dus seker dat kinders genoeg tyd het om te
speel!
Stresvlakke
Baie mense dink dat dit nie vir 'n kind moontlik
is om te stres nie – ongelukkig is hulle baie
verkeerd! Wanneer 'n kind gespanne is, krimp die
dendriete en vergroot die afstand tussen die
selle.
Konsentrasie en funksionering oor die algemeen
word moeiliker.
Houding van die ouers
Die positiewe houding en optrede van ouers
teenoor hul kind wat aan
aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit lei, is van
die belangrikste dinge wat 'n ouer kan doen.
Dié kinders moet wéét dat hul ouers aan hul kant
is, en hulle ondersteun.
Soos wat die ouer meer oor die versteuring leer
en die uitdagings verstaan wat die kind daagliks
in die gesig staar, sal hulle hul kind beter kan
aanvaar en ondersteun.
|