'n Wêreld op video |
|
|
Welkom by hierdie maand se doen en late met ons rekenaars. Soos belowe verlede maand, kyk ons 'n bietjie na die webwerf genaamd YouTube. Gaan kyk ook op Wikipedia vir die definisie en geskiedenis van hierdie webwerf.
YouTube is 'n webwerf waarop almal met internet-toegang videos met mekaar kan deel. Jy kan jou eie videogrepe oplaai en beskikbaar maak vir ander gebruikers en ook natuurlik na al die ander videogrepe op YouTube kyk. Natuurlik is hier derduisende (en amper sê ek weer miljoene!) videogrepe, meestal vir ons plesier. Susan Boyle Natuurlik! Marlene van Loggerenberg was die eerste om my te herinner aan hierdie hedendaagse sprokiesverhaal. Gaan kyk hoe hierdie lelike eendjie die wêreld onverwags bekoor met die soetste musiek uit haar wese. Die eerste optrede sal jy hier vind en haar optrede in die finale program van die Britse realiteitsprogram hier. Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar daar is definitief 'n verskil, behalwe vir die uiterlike, tussen die twee vertonings. JF Kennedy Ja ek weet, baie van julle sal hom nie meer onthou nie, maar hy was die Amerikaanse president wat geskiet is terwyl hy saam met sy vrou in 'n motorkonvooi deur Dallas se strate gery het en vir die skares gewuif het (November 1963). Wat op hierdie dag presies gebeur het en wie, wat en hoekom gedoen het, is nog altyd vir almal 'n raaisel. Van elke mens met wie ek al hieroor gesels het, het ek 'n ander storie, en ook dikwels 'n heel geloofwaardige verduideliking, gekry. Gaan kyk hier vir nog 'n verklaring, op video. Hannes Coetzee Ja, ons Suid-Afrikaners verskyn ook op hierdie wêreldverhoog. Êrens in die Karoo sit hierdie kêrel, Hannes Coetzee, en speel sy kitaar met die hulp van 'n teelepel. Hoe sy tande dit hou sal net hy weet, maar as julle kyk na die kommentaar wat hierdie videogrepe kry is die wêreld behoorlik ingenome met hierdie Suid-Afrikaner. Doe so voort, Hannes. Vind hom by hier en ook by hier. Die evolusie van Dans So gepraat van musiek. Gaan kyk hoe hierdie outjie deur 50 jaar van musiek binne net ses minute dans! Wat as 'n item in sy dorpie se jaarlikse konsert begin het, is vandag wêreldwyd beroemd en hy is besig om wêreldwyd te toer. Gaan roep gou vir eggenoot, sit rustig terug en geniet hierdie musiekgeskiedenis. Kyk ook hierna. Krismisboks Seunskinders hou nie daarvan om klere as kersgeskenke te kry nie, veral nie as dit in 'n speletjieskonsoleboks (nogal 'n Xbox 360) verpak word nie. As jy nie betreklik emosioneel sterk voel nie, moet dan nie hierna kyk nie. Al wat ek kan bylas is net dat ouers hierna moet kyk en 'n les leer oor hoe om dit nie te doen nie. Kyk wat gebeur as jy die outjies iets gee wat nie liggies het nie en wat nie raas nie en wat nie 'n afstandbeheer het nie en dit dan in 'n boksie verpak wat al daardie goed belowe. Sies! Madonna se dansende baba Onthou julle nog daardie oulike televisiereeks van Ally McBeal? En onthou julle nog hoe Ally so verskriklik graag 'n baba wou gehad het? Nou ja, die storie loop glo dat Madonna toe haar baba geleen het aan die vervaardigers om hierdie video van Ally McBeal te skiet. Was dit die eerste poging met animasie op die rekenaars? Net so terloops, ek glo ook nie eintlik daardie storie oor die baba wat dan nou kwansuis Madonna s'n was nie. Geniet! Kletskamers Het julle al ooit gewonder hoe sal 'n kletskamer (chatroom) in werklikheid lyk? As julle al ooit gewonder het wat gebeur op MXiT, kyk gerus na die video. Ek gebruik hierdie as die ysbreker by my geselsies met ons jeug en skoolkinders as ons oor internet-gebruik gesels. As jou kinders ook die "sien-is-glo" tipes is, wys hulle hierdie video en jy kan dalk rustiger slaap. Alles deel van die grootwordproses! Kersliggies Ja, ek weet – Kersfees kom nader en vanjaar gaan ons huis die meeste en mooiste liggies hê wat hierdie dorp nog gesien het. Bothasig en Kraaifontein kan maar gaan slaap, vanjaar haal ons die voorblaaie! Kersliggies bo-oor huise is mos nou die nuutste mode in die wêreld. Kyk 'n bietjie na hierdie videogreep en dan wonder jy hoekom die bure gekla het oor slapelose nagte, verkeersknope, besoedeling en dalende huispryse. Dat 16000 liggies nou so 'n situasie kon veroorsaak! Kry jou inspirasie! Anderste Kunste Kyk hoe verskyn Mona Lisa met 'n gratis produk op jou rekenaarskerm. Hierdie kunstenaar wys vir ons wat gedoen kan word met MS Paint, die voorloper van PAINT.NET, een van Microsoft se gratis programme wat met sy bedryfstelsel werk. Hierdie kunstenaar gebruik ook ander media om sy kunswerke mee te doen. Gaan kyk na die werke. Gaan kyk gerus verder op YouTube vir oulike videos,
en laat weet my van jou gunstelinge. | |