Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Vir onmiddellike, beeldskone kleur in jou tuin is daar niks beter as beddingplante nie. Gaan koop net 'n paar bakkies met saailinge en siedaar – jou vaal en vervelige tuin is in 'n kaleidoskoop van kleur omskep.

B aie tuiniers wonder of dit die moeite werd is om in die winter tuin te maak: Almal weet tog die winters-weeromstandighede wakker nie juis jou lus om buite in die tuin te werk aan nie. Maar dit is juis omdat die winter so vaal en troosteloos is, dat jy die belangrikheid van kleur in jou tuin nie moet onderskat nie. Dit is 'n feit soos 'n koei, of jy nou 'n enorme tuin of 'n stoep met 'n paar potplante het. Met 'n bietjie toewyding en sorg sal die meeste beddingplante vir 'n minimum van ses maande jou tuin ophelder met blomme, en ander blom selfs tot 'n jaar lank.

Begin by die begin

Om uiteindelik suksesvolle beddingplante te hê, is dit belangrik om jou grond goed voor te berei. Begin deur die bedding behoorlik om te spit. Wees vrygewig met die kompos deur 'n handvol vir elke vierkante meter by te werk. Verwyder enige wortels van kompeterende struike of grondbedekkers wat jou saailinge se tyd in die kollig wil steel. Die meeste beddingplante benodig goed-gedreineerde grond om te groei. As jou tuin 'n hoë konsentrasie kleigrond het, is dit wys om nog ekstra kompos en sommer ook riviersand by te werk.

Onthou om die saailinge gereeld nat te gooi, totdat hulle gevestig is. Sodra hulle gelukkig in hul nuwe tuiste is, kan jy hulle minder gereeld natgooi, maar met heelwat water. Hou veral die saailinge wat in volson staan op warm dae dop – hulle mag dalk dors word en meer water nodig hê.

Wenke

* Moet nooit saailinge aan hul blare of stamme uit die bakkie trek nie, dit sal hulle beskadig. Druk hulle eerder van onder af uit.
* Moenie saailinge dieper plant as wat hulle in die bakkie is nie.
* Hou jou tuin met 'n valkoog dop vir slakke – veral wanneer jou plante nog klein is.
* Indien dit 'n reepagtige plant is, pluk die groeipunte af om vertakking te bevorder.

Maak só

Gesiggies (pansies) en violas is 'n moet. Hulle bring dadelik opwinding na selfs die vaalste van vaal tuine. Om seker te maak dat hulle optimaal blom, pluk gereeld dooie blomme af en voed hulle gereeld met 'n goed-gebalanseerde plantvoeding. Hulle is hoogs aanpasbaar en is ewe tuis in potte, hangmandjies en tuinbeddings.

Pansies en violas moet in houers van minstens 30 cm diep geplant word. Probeer ook om hulle in semi-skadu-areas te plant, sodat hulle nie brand of uitdroog nie. Onthou, soos alle plante wat in potte woon, sal hulle meer gereeld water nodig hê – veral in die somer.
Ja, toe – trek jou warmste jas aan en begin te plant!

Die inligting is verskaf deur die Bedding Plant Growers Association. Vir meer inligting, gaan na www.lifeisagarden.co.za.

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend