druk hierdie bladsy uit
e-pos hierdie artikel

 


Maart 2009
Jaargang 1 Uitgawe 8

 

   Verkleur self jou wintertuin

jouleefstyl
hoofinhoud
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel


deur
Wilna Myburgh
 

Moenie dat die herfsblare, en later die leë takke, die enigste kleur aan jou wintertuin verskaf nie – maak nóú reeds gereed om kleur in jou tuin te kry.

 


Wanneer dit lente word, skarrel almal rond om hul tuine reg te kry en die kwekery te oorval om plantjies te kry om hul tuine mooi en kleurvol te maak. Maar het jy ooit besef dat Maart-maand ook 'n goeie tyd daarvoor is? Dis net die regte tyd wanneer jy gereed moet maak om jou plante vir die winter reg te kry, bolle te plant en wintergroente aan te plant. Dit is ook 'n uitstekende manier om die wegkwynende hitte van die son te geniet deur die tyd buite te spandeer.

As jy 'n kleurvolle wintertuin wil hê, begin sommer vandag beplan en plant. Al het jy 'n klein tuin of net 'n balkon – begin om bolplante in potte te plant. Eenjarige plante gee ook kleur aan enige vaalkol in jou tuin of balkon. Bokbaaivygies en Namakwalandse daisies is twee blomme wat maklik gesaai en onderhou kan word. Nog 'n manier om kleur te kry is deur pronkertjies te plant.

Begin eers deur die somerblomme wat klaar geblom het, uit te haal en om die grond vir die winterblomme gereed te kry. As daar nog plante is wat blom, kan jy net die dooie blomme afpluk. Gee dit gereeld water en jy sal nog een sarsie blomme uit die plantjies kan kry. Wanneer jy na dié blomme omgesien het, kan jy kompos en 2:3:2 kunsmis in jou grond inwerk.

Die beste raad wat ek kan gee is dat jy na jou kwekery toe moet gaan – hulle kan jou sê presies watter blomme en plante in jou klimaatstreek gaan inpas. In streke wat baie ryp kry, moet jy veral kieskeurig wees oor wat jy plant. En dit sal heeltemal ander plante wees as vir 'n winterreënvalstreek.

Groente
Moenie ophou om jou groente nat te gooi, net omdat jy dink die winter is naby nie. Die laaste somergroente kan nog gebruik word. Groente wat nou geplant kan word, is wortels, radyse, ertjies, beet, beetspinasie (chard), brokkoli, blomkool, kool, Chinese kool, seldery, preie en blaarslaai. Gedurende die winter benodig jou groentetuin veral son, so maak seker dat jy jou groentetuin maak waar daar tussen vier en vyf ure sonlig per dag is. Die groentetuin moet ook nie in die skadu van 'n gebou of groot boom wees nie. Gereelde bemesting en onkruidverwydering sal help om jou groentetuin mooi te hou.

Kruie
Kruie benodig ook 4 -5 ure sonlig 'n dag en moet van koue winde weggehou word, veral as die grond nat is. 'n Goeie manier om jou kruie veilig te hou is om dit in potte te plant en te skuif om hulle so beskut te hou. Gee kruie net een tot twee keer water per week in die winter, verkieslik in die oggend. Geharde kruie is die enigste wat die winter oorleef – dis kruie soos tiemie, oregano, marjolein, pietersielie, kerwel en salie. Salie hou net gewoonlik nie die hele winter deur nie.

Struike
Gee jou struike minder water in die wintermaande. As jy in 'n warm, droë klimaatstreek bly, is een keer elke drie weke voldoende. Azaleas en kamelias het egter spesiale versorging nodig – gee nog genoeg water, veral as dit nog warmerig is en plaas 'n deklaag, byvoorbeeld dennenaalde, rondom die plante vir beskerming.

Rose
As jy woon waar daar droë winters is, gee rose een keer 'n week water. Twee eetlepels 3:1:5 rondom die stam sal help om nuwe groei te bevorder in die winter. Ongeveer 75 g Engelse sout en gereelde blaarvoedsel sal ook die rose gelukkig hou. Spuit rose vir meeldou en swartryp as dit nodig blyk.

Bolle
Die beste tyd om bolle te plant is tussen Maart en Mei. So word hiasinte in Maart geplant, terwyl tulpe eers in Mei geplant word. Die pakkie waarin jy die bolle koop, gee al die belangrike inligting, soos wanneer om te plant, waar om te plant en hoeveel water benodig word. Meeste bolle hou van son, maar sal ook gebreekte skadu vir 'n gedeelte van die dag kan hanteer. Kammetjies (freesias), ranonkels en Hollandse irisse moet teen ryp beskerm word en verkieslik in 'n beskutte bedding geplant word. Om bolle teen ryp te beskerm, kan jy die beddings voor sonop water gee om van die ys van oornagryp ontslae te raak, of die bedding met skadunet of hessian te bedek.
Omdat bolle tot 3 maande neem om te blom, kan jy solank jou blombeddings kleurvol hou deur eenjariges bo-op die bolle te plant. Blomme, soos gesiggies, viooltjies en alyssum, lyk nie net mooi nie, dit bied ook beskerming in die vorm van 'n deklaag wat die grond vogtig en koud hou en onkruid weghou.
 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] jouhoofstories ] jousê ] jourubrieke ] joupolitiek ] joumenswees ] joutuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joufiksie ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
vorige uitgawes
jouwêreld Facebook-groep