OUTsurance
jouleefstyl

 Liesl de Vos
deur Liesl de Vos




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Ja, jy kán kreatief wees!

Jy hoef nooit weer te dink jy is nie kreatief nie – begin vandag nog om jou kreatiewe sy te ontwikkel en ontdek watter verskil dit in jou lewe kan maak.

Wat presies is kuns? Is daar 'n verskil tussen kunstig wees en kreatief wees? En kan net sommige mense as kreatief beskou word?

Volgens Rita Swanepoel, lektor in Kunsgeskiedenis by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, is kuns oorspronklik in verband gebring met dit wat die mens nodig gehad het vir oorlewing. “Dit wat kunstenaars gemaak het, het 'n gebruikswaarde gehad,” verduidelik sy. “Dit het hand aan hand met behuising, voedsel en veiligheid gegaan.”
Tans is die begrip kuns nogal moeilik om te definieer. Aan die een kant klou mense vas aan die “tradisionele” siening van kuns (byvoorbeeld dat jy “ware kuns” net in kunsgalerye kan vind), aan die ander kant herskep nuwe generasies die begrip.
Nadine van Driel, 'n student in Kommunikasie-ontwerp by die Open Window School of Visual Communication, gee haar definisie van kunstig wees: “Dit is om jou idee só te kan weergee dat mense wat daarna kyk dieselfde idee of ervaring ondervind as wat jy het toe jy dit gemaak het,” sê sy. “Dit kan ook beteken om onverwagse materiale só te gebruik dat dit funksioneel is, asook mooi om na te kyk.”

Kunstig teenoor kreatief

Oor die algemeen neig mense daarna om self kunstig te wil wees. Wag egter voordat jy inderhaas kunsklas toe jaag! Hoewel dit vir mense lekker kan wees om 'n verfkwas in die hand te hê of die verhoog as danser te betree, is dit nie 'n uitgemaakte saak dat elke persoon van nature kunstig is nie. Of dat hulle idee van kuns dieselfde as joune is nie. As jy jouself dwing om 'n kursus by te woon waar jy leer om armbande te maak, maar jy sukkel baie daarmee, beteken dit nie noodwendig jy is nie skeppend nie. Daar is 'n verskil tussen kunstig wees en kreatief wees.

Die HAT definieer “kunstig” as “knap, handig; met kuns vervaardig”. Die woord “kreatief” word gedefinieer as “iets uit niks skeppend; in staat tot optrede, denke; skeppend”. Daar is dus wel 'n verskil tussen die twee begrippe. Baie mense is geneig om die begrippe as sinonieme te beskou. Iemand wat net 'n stokmannetjie kan teken sal dan byvoorbeeld glo dat hulle nie kreatief is nie, terwyl hulle wel in 'n ander opsig kreatief is.

“Alle mense is kreatief. Sommige meer as ander, maar kreatiwiteit is 'n algemeen-menslike verskynsel,” sê Rita. Sy verduidelik dat 'n mens van die dier onderskei word deurdat die mens oor 'n individuele sowel as kollektiewe geestelike en gevoelslewe beskik. Dit raak die mens se kreatiwiteit, “en deur sy kreatiwiteit, kom die uitdrukking van sy diepste gevoelens, op watter maniere ook al.”

Nadine glo dat sekere mense meer gewoond is daaraan om kunstig te wees en kreatief te dink, maar dat almal dit kan aanleer met harde werk. “Jy kan die tegniese vaardigheid aanleer en jou brein oefen om kreatief te dink,” verduidelik sy.

Bring jou kreatiewe kant na vore

Om meer aandag aan jou kreatiwiteit te skenk is nie noodwendig so “logies” as om jou kunstigheid te vertroetel nie. Vir laasgenoemde hoef jy bloot 'n kursus te volg of 'n paar boeke aan te skaf. Maar kreatiwiteit word soms aangewakker op plekke waar jy dit nie noodwendig verwag nie.

Christine Kane, 'n sangeres en liedjieskrywer van Amerika, tree ook as spreker op oor onder meer kreatiwiteit. Op haar blog gee sy 'n paar wenke oor hoe om meer kreatief te wees.

* Luister na musiek waarna jy nog nooit voorheen geluister het nie.
* Hou op TV kyk. Dit is gevul met emosioneel-belaaide beelde en oorvereenvoudigde oplossings, wat jou verstand kan afstomp.
* Wees stil. Bestuur sonder om eers jou motorradio aan te skakel, of maak aandete sonder 'n radio of 'n TV wat in die agtergrond speel.
* Woon 'n teaterstuk of 'n konsert by in plaas daarvan om die nuutste Hollywood-trefferfliek te gaan kyk.  Eerder as om net vir 'n skerm te staar, sal jy kan deelneem aan die gebeure en meer energie daaruit put.
* Skuif jou rekenaar opsy en skryf met pen en papier. Skryf 'n brief of hou 'n dagboek.
* Maak 'n lys van alles waarvan jy hou, byvoorbeeld die geluid van 'n vlag wat in die wind wapper of om 'n veer op te tel. Dit kan interessante idees tot gevolg hê.
* Neem foto’s – maar verkieslik nie met 'n digitale kamera nie. Geniet dit om weer foto’s te laat ontwikkel en die opwinding te smaak om die foto’s vir die eerste keer te sien.
* Koop die mooiste en interessantste poskaarte wat jy in die hande kan kry. Gaan sit dan in 'n koffiewinkel en skryf poskaarte vir vriende en familie.
* Gaan stap. Hou jou omgewing dop, stop en ruik blomme, of let op na die voëls wat rondvlieg.

Jy hoef nooit weer te dink jy is nie kreatief nie. Begin vandag nog om jou kreatiewe sy te ontwikkel en ontdek watter verskil dit in jou lewe kan maak!

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?