Kry jou plank, hier's die branders
Pieter Labuschagne

deur Pieter Labuschagne




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

 

 

 

'n Geselsie oor die miljoene interessante, en eintlik onmisbare, webwerwe op die internet.

Kom ons surf dié maand so 'n bietjie! Ja goed, as jou surfboard soos jou rekenaar lyk en daardie branders vir jou klink soos webwerwe, is ons op dieselfde golflengte. Vandeesmaand gesels ons so 'n bietjie oor interessante, en eintlik onmisbare, webwerwe op die internet.
As jy nie weet wat die internet nou eintlik is nie, gaan vra jou maatjie om jou hierdie video op sy rekenaar te wys.

Daar is miljoene webwerwe op die internet beskikbaar en hulle is min of meer almal met 'n sekere nismark in gedagte geskep. Meeste van hierdie webwerwe word net een keer besoek – of jy hou daarvan en gaan besoek dit weer, of niks maak vir jou sin nie en die webwerf word vergeet.

My gunsteling webwerwe verskil byna van week tot week. Die rede is eenvoudig: ek swerf (die Engelse noem dit surf) te maklik! Dit is nou met my rekenaar op die internet met sy webwerwe. Met hierdie artikel wil ek jou graag meer vertel van die webwerwe wat my aandag nogal kan hou. Gaan besoek hierdie webwerwe gerus en let daarop dat ek jou nie noodwendig gaan vertel hoe om die webwerf te gebruik nie, maar jou miskien net bewus gaan maak van die funksionaliteit daarvan. Geniet dit!

* www.google.co.za
Wel, sonder hierdie webwerf kan jy eintlik niks op die internet doen nie. Google is werklik die begin en einde: dit laat jou toe om enige inligting op te spoor wat op die internet beskikbaar is. Dit laat jou ook toe om 'n e-posadres te skep en te bedryf met die nodige toepassings soos byvoorbeeld 'n kalender, klets, afspraak-uitnodigings en nog vele meer. Doen jouself 'n guns en tik jou naam in die soekblokkie en kyk wat spring daar uit!

* www.wolframalpha.com
Net toe jy dink dat Google jou alles is, verskyn Wolfram Alpha op die horison! Hierdie werf noem homself 'n "computational knowledge engine" en let wel, nie 'n soekenjin soos Google nie. WA (WolframAlpha) probeer om enige vraag wat gevra word te beantwoord met waarde-bygevoegde kennis. Hy slaag nie altyd nie ("What is the meaning of life ?" - 42!), maar WA dink ook partykeer so 'n snars uit die boks. Vra "88mph" en WA kom terug met "the speed at which Marty McFly needed to drive the Delorean DMC-12 in order to time travel". Fantasties! Hierdie is sekerlik nog net in sy babaskoene maar hou die internet dop, hier kom 'n ding! Probeer WA en laat weet my van die juweeltjies wat julle in die antwoorde ontdek.

* www.PortableApps.com
Paul Burger uit die Kaap vestig my aandag op hierdie webwerf. Met PortableApps kan jy van rekenaar tot rekenaar, dorp tot dorp en selfs van land tot land reis sonder jou eie rekenaar. Daar is 'n paar werwe soos hierdie een, maar op die oog af lyk hierdie werf na 'n wenner. Dink so daaraan: jou applikasies (woordverwerker, spreivel, ens) en programme is geïnstalleer op hierdie webwerf. Jy hoef die programme nie aan te koop en te installeer nie. Jy teken aan, laai jou program en daar gaan jy. Paul vertel dat al verloor jy jou hardeskyf is dit geen probleem nie, jy stap na jou buurman toe en los die botteltjie op die kombuistafel. Dan druk jy die knoppie op sy rekenaar, kry die lyne aan die gons en jy het toegang tot al jou programme en data deur hierdie webwerf.

* http://www.onsdorp.com/
Ja, jy het hierdie een gesien op jouwêreld. Nou toe, wikkel soontoe en sluit aan, al is dit net vir die nuusbrief.

* www.rieme.co.za
Waar het die kinders nou weer daardie verdomde woordeboek neergesit? Geen probleem as jy toegang het na 'n webwerf soos Rieme nie. Jy kan selfs voorstelle van nuwe woorde en die vertalings aanstuur om hierdie webwerf op te dateer.

* www.yourfonts.com

Al ooit so na al die karaktertipes (fonts) gekyk en gewens dat jy 'n dokument in jou eie handskrif kan tik op jou rekenaar? Gaan na hierdie webwerf, laai die patroonvelle (templates) af, vul dit in, in jou eie handskrif, skandeer dit in 'n elektroniese formaat en stuur dit terug na hierdie outjies toe. Siedaar, binne dae het jy jou eie karaktertipe op jou rekenaar.

* www.freeprintable.net
Hierdie webwerf is 'n ware tydbespaarder (dit is nou as 'n mens so iets kry). Alles wat jy al wou gedruk het, van prente vir die kinders, skryfbehoeftes, besigheidskaartjies, telkaarte en nog vele meer. Die beste eienskappe van hierdie werf is dat dit absoluut verniet is en jy kan alles wat jy aflaai na smaak verander.

* www.peterjasie.co.za
My vroutjie is mal oor hierdie webwerf. En ekself, al moet ek dit nou self sê, het ook al dikwels hier gekuier. Alles Afrikaanse-dinge en die beste (lees "maklikste") resepte vir mans met ronde hande in die kombuis. Ek gaan nou ook daai erdwurm-ding probeer.

* www.capeports.co.za/portnews.html
Ek weet nie eintlik hoekom nie, maar ek kuier nogal dikwels hier. Elke week verskyn daar in 'n Engelse dagblad in die Kaap 'n storie oor wat in die Wes-Kaapse hawens aangaan en die verwante "stories agter die stories". As 'n binnelander vind ek dit dikwels interessant om hierdie skipstories te lees. Miskien was my oer-oupa 'n seerower.

* www.youtube.com
Vermaak en nuuswaardigheid op sy beste. Hierdie webwerf het derduisende (amper sê ek dermiljoene) videogrepe oor derduisende onderwerpe. Die werf het natuurlik ook 'n soekbalkie waarin jy jou onderwerp kan gaan opsoek. Soek gerus na "Julius Malema" en geniet die res van jou dag!
Hierdie webwerf is eintlik 'n onderwerp van bespreking op sy eie. In volgende maand se tegnologie-artikel sal ek so paar persoonlike bestes van die videogrepe op www.youtube.com met julle deel. Laat weet my van julle gunstelinge, dan laat weet ons, ons maatjies.

* Lees ook die artikel "Petrol vir jou rekenaar, verniet!" in die Mei 2009-uitgawe van jouwêreld.
Daar is omtrent vir elke kommersiële sagteware-program 'n gratis gelykwaardige program beskikbaar. En dikwels is hierdie gratis programme selfs beter as die duur gekoopte programme in hul mooi boksies.
Lees meer . . .

* Enige internetnavrae of kommentaar? Stuur gou 'n briefie vir Pieter Labuschagne.
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend