|
Jy is opgewonde aan't bokse
inpak, want oor twee dae trek jy na 'n huis met
'n lekker groot tuin. Dis nou nie dat dié
inpakkery van al jou besittings so 'n opwindende
gebeurtenis is nie, maar die vooruitsig om vir
jouself 'n blaffende vierbeen-vriend aan te skaf
maak die harde werk sommer baie makliker – en
beslis die moeite werd!
Terwyl die kaste al hoe leër word en die bokse
al hoe meer, sien jy in jou gedagtes hoe jy en
Wagter – of dalk liewer Brakanjan, of Pote, of
Ore – gaan stap. Jou nuwe vriend is aan 'n
leiband en kry baie aandag van almal wat jul
teëkom. Jy sien hoe julle langs die see gaan
stap en jou nuwe hondevriend nie moeg raak om
die tennisbal te gaan haal nie. In jou
geestesoog sien jy hoe hy jou verwelkom elke
keer as jy net vir 'n klein rukkie weg van die
huis af was. Jou gedagtes is vol aangename
situasies en foto-oomblikke. Jy glimlag breed en
is trots op jou slim keuse.
Kies jou
hond só
Om 'n ingeligte keuse te maak
by die uitkies van 'n hond, is daar 'n hele paar
dinge om in ag te neem:
●
Hoe groot is die erf wat jy het?
●
Hoeveel aandag het die hond wat jy wil kry nodig?
●
Het jy genoeg tyd om jou hond goed te versorg?
●
Is dit 'n hond wat bekend is daarvoor dat hul
baie blaf en hoe gaan dit jou bure beïnvloed?
●
Is jou nuwe vriend 'n huishond of nie?
●
Gaan jy dikwels van die huis af weg en het jy 'n
goeie blyplek vir jou hond as jy weg is?
●
As jy kinders het: Is die soort hond geduldig
met kinders?
●
Soek jy net 'n vriend of 'n goeie waghond ook?
●
Enige klein hondjie steel sommer 'n mens se
hart, maar onthou dat hulle gou groot word en
dat jy dit ook in ag moet neem wanneer jy jou
keuse maak.
●
Babahondjies het baie aandag nodig, veral die
eerste paar maande, en mag dalk van jou kosbare
besittings stukkend kou as jy hulle nie dophou
nie!
Verskillende honde
'n Goeie hulpmiddel in die proses om jou hond te
kies, is om bietjie na te lees oor die
verskillende soorte honde waarin jy belangstel.
'n Miniatuurworshond is byvoorbeeld dikwels
lewendig en nuuskierig, maar kan ook 'n sterk
wil hê. Hiérdie honde is 'n goeie keuse as jy
dikwels reis en jou hond wil saamneem.
Die English Cocker Spaniel is weer daarvoor
bekend dat hulle hardkoppig kan wees, maar kan
maklik geleer word en is 'n goeie medium-grootte
troeteldier vir die gesin. Hulle pas maklik aan
en is baie lojaal.
As jy op soek is na 'n huishond, is die Cavalier
King Charles Spaniel 'n goeie keuse. Hulle is
baie intelligent en kom goed met kinders en
ander diere oor die weg, maar hulle het ook baie
liefde en aandag nodig.
'n Paar basiese feite oor elke soort hond kan
jou keuse baie vergemaklik en jou ook baie
probleme spaar in die toekoms.
Waar kry
ek nou 'n hond?
Veeartse, troeteldierwinkels en die DBV is van
die eerste plekke wat jy gerus kan probeer.
Indien jy egter 'n spesifieke hond soek wat
opreg geteel en geregistreer is, kan jy
kontaknommers in tydskrifte soos Animaltalk,
Dog Directory en die Landbouweekblad
kry.
Ek gaan
met vakansie, wat nou van Wagter?
As jy dit nie oor jou hart kan kry om jou vriend
by 'n hondeherberg te los nie, vat hom saam met
jou, maar maak net seker jou vakansieplek is
troeteldiervriendelik. Agter in die
Animaltalk is 'n lys van verblyfplekke wat
troeteldiervriendelik is. Dit is baie belangrik
dat jou hond nie die bestuurder se aandag moet
aftrek tydens die rit nie. Laat hom agter op die
grond lê, of in die agterkant van 'n stasiewa.
Dit is ook wys om by jou veearts medikasie te
kry wat karsiek kan voorkom.
|