|
jouleefstyl
Die tafeldoek is uit die aard van die saak die basis waarop die res van jou versierelemente gaan volg. Ons het in die plaaslike materiaalwinkel gaan rondloop op soek na pienk-inspirasie. En soos die foto's bewys – ons het dit gekry!
Ons servette is van dieselfde lap as die tafeldoek gemaak. Met 'n gekoopte papierservet, in 'n blom-ontwerp, daarmee saam lyk dit heel prettig. Om lapservette te maak: Sny blokke van 38 cm x 38 cm. Maak 'n dubbelsoom en stik vas.
Al wat jy nodig het om jou eie servetringe te maak is kraletjies, juweledraad, 'n tang en 'n klein bietjie tang-vernuf. Knip die draad in ongeveer 30 cm-stukke. Rol dit om 'n leë toiletrol om 'n spiraal te vorm. Buig die een eindpunt om met jou tang, sodat die kraletjies nie uitval nie, en begin om hulle in te ryg. Eindig dit met 'n groter kraal af. En daar het jy dit! Jy het nou net baie geld gespaar!
Sjiffon-buitegordyn Ons het stroke van 25 cm by 150 cm sjiffon gesny en vinnig met die omkapmasjien omgesoom. Die volgende stap is om 'n rygsteek aan een kort kant te maak sodat die stroke lap aan 'n tou geryg kan word. As alternatief, kan jy lang stroke sjiffon van een tak na 'n ander in die boom vasmaak.
Die winkels is vol gekleurde riete en nagemaakte papierblomme – ons het dit in 'n bondel vasgehou en 'n rekkie om dit gebind. Dan balanseer jy dit op die tafel deur van die stokke verder van die middel af staan te maak. Ons het ekstra papierblomme (sien onder) gemaak en tussenin gesit.
Hoe om papierblomme te maak
Sny kreukelpapier in vierkante van 25 x 25 cm. Kry
die middelpunt. Hou dit aan die middelpunt vas
en draai dit 'n paar keer om die begin van die
stingeltjie te maak, wat jy aan kan vashou om
die blom verder te maak. Begin dan die punte
terug te vou na die middelpunt, van bo na onder
om die blom te vorm. Vat dit alles met 'n koperdraadjie
vas wat dan ook die stingel klaar vorm.
Naamkaartjies
Vars blomme vir die tuin Ons het pragtige pienk petunias by die kwekery gaan koop. Dit is glad nie duur blomme nie – en ook nie die enigste vrolike blomme wat jy by die kwekery gaan raakloop nie. Ons het 'n sjiffon-strook om elkeen gebind en dan 'n groot strik daarmee gemaak. Jy kan dit ook rond en bont in jou tuin of in bakke plant om die impak van die kleur te kry.
Ja, jy het reg gelees. Wanneer jy jou gaste na die lente-partytjie nooi, vertel hulle van die tema en motiveer hulle om iets pienk aan te trek - want niémand kry toegang sonder iets pienk aan nie! Jy hoef beslis nie hierdie partytjie net vir vriendinne te hou nie – mens kry pienk klere vir die hele gesin!
|