|
Meeste mense weet wat 'n varing is en hoe 'n
varing lyk: van die algemene swaardvaring met sy
verskeie kultivars tot die pragtige
nooienshaarvaring met sy fyn blaartjies, het al
gepronk in amper elke huis of tuin. Maar min
mense besef dat daar byna 12 000 varingspesies
in die węreld is en dat daar omtrent 280 spesies
is wat inheems is aan Suid-Afrika.
Varings is van die oudste vorme van plantlewe op
die aarde en het al bestaan toe die reuse
dinosourusse na bewering op die aarde geloop het.
Vandag is daar nie meer dinosourusse nie en ook
nie meer reuse varings nie, maar varings het
deur die eeue aangepas en oorleef om nou nog
plesier in die huis of tuin te verskaf.
Die meerderheid van varings kom in warm en nat,
tropiese of sub-tropiese gebiede voor. Daar is
ook varings wat baie goed aangepas is by droër
omstandighede deurdat hulle met hare bedek is en
opkrul om water te preserveer, net om weer uit
te rol wanneer hulle wel weer water kry. In die
tuin is dit moontlik om met 'n bietjie sorg die
omstandighede in die natuur só na te maak dat
elke tuin ten minste met 'n paar minder algemene
varings in 'n tropiese lushof verander kan word.
Koop ander soorte varings dié
somer
Die lewenssilklus van varings is baie
ingewikkeld – daarom is die fyn varingsaad, of
spore, nie beskikbaar in winkels nie. Verskeie
varings is wel by tuinsentrums beskikbaar, wat
verskillende soorte boomvarings wat tot vyf
meter hoog kan groei, sowel as kleiner varings
wat gebruik kan word as grond bedekking onder
die groter plante, insluit.
Dit is ook nie noodsaaklik om in 'n tropiese
gebied te woon nie. Baie varings kan goed
oorleef solank hulle teen ryp beskerm word. In
Suid-Afrika kan ons deesdae varings van onder
andere Europa en Noord-Amerika koop, wat in
temperature van tot - 24 OC kan
oorleef.
Ons het ons eie boomvarings, ons eie
nooienshaarvarings en selfs ons eie inheemse
reuse swaardvaring, met baie ander spesies
tussenin. Met 'n bietjie kennis kan al hierdie
varings gekweek word en trots in ons tuine
vertoon.
Omskep enige koelteplekkie in die tuin in 'n
varingtuiste. 'n Goeie plan is om 'n bedding uit
te grou tot so half meter diep, en dan sand en
kompos in te werk. Die bedding word weer gevul
met die grond wat uitgegrawe is.
Hier kan nou net varings geplant word, of
varings gemeng met ander skadu- en
waterliefhebbende plante. Baie verskillende
blaarteksture en -kleure kom onder varings voor.
Van regop plante met tossels, tot breë blare wat
groen, wit of rooi bevat. Nuwe blare van sekere
soorte rol aanvanklik rooi of koperkleurig uit.
Waar water 'n probleem is, kan xerofitiese
varings of droëlandvarings geplant word. Hierdie
varings is aangepas om, wanneer hulle gevestig
is, met min of geen water, te oorleef. Nadat die
gekose plante in die grond is, moet daar 'n
lagie organiese materiaal oor die oppervlak
versprei word om verdamping te verminder.
Monteer 'n varing
Ander varings, soos die takbokvarings, groei
graag gemonteer op 'n stomp of boom. Slegs drie
van die węreld se 18 takbokvarings kom in Afrika
voor – ongelukkig nie meer in Suid Afrika self
nie. Twee van hierdie Afrika takbokvarings is
algemeen beskikbaar, naamlik Platycerium
alcicorne (bokhoringvaring) en P.
elephantotis (olifantsoorvaring). Al 16
ander soorte takbokvarings kan ook bekom word,
waarvan die twee mees algemeen beskikbare soorte
die P. bifurcatum en P. Superbum
is. Om hierdie varings teen 'n boom te monteer
is maklik. Net 'n bietjie growwe organiese
materiaal agter die dekblare en 'n sykous om die
spul aan die boom vas te bind, is nodig. Sodra
die plant gevestig is, kan die sykous weggesny
word. Sorg net dat die groeipunt na bo wys,
anders is die plant onderstebo en sal dit
geleidelik vrek.
Wat van 'n hangmandjie?
Omdat van die varings in die natuur in bome
groei of op klippe in die bos, hou hulle daarvan
om in mandjies te groei. Al wat nodig is, is om
die draadmandjie uit te voer met klapperhaar, 'n
plastiese pierinkie in die bodem te plaas en op
te vul met 'n goeie potgrondmengsel. Varings met
blare wat tot 'n meter lank groei en hang lyk
baie goed in 'n hangmandjie
Hou jou varings
gelukkig
Varings hou baie van water en hoë humiditeit,
maar dit is nie noodsaaklik nie. Wanneer hulle
gevestig is, kan hulle eintlik met baie min
aandag oorleef. Net in badkamers is hulle nie
altyd so gelukkig nie. Hulle verkies 'n
noordelike venster met gefiltreerde son, en moet
net water kry as die potmengsel droog is.
Badkamers is gewoonlik aan die donker kant van
die huis en eintlik maar koue, droë plekke.
|