|
Moenie van pa vergeet nie – vou een van dié boksies, en bederf jou pa met 'n gereedskapkassie of dasboksie dié vadersdag.
Gereedskapkassie
Hierdie patroon bestaan uit twee dele. Saam pas dit perfek op een scrapbook-papier om 'n boksie van 15 x 6 x 6 cm te maak.
Gebruik 'n tweede papier – soos die riffelpapier in 'n bypassende kleur wat ons gebruik het, om die boksie te versier. Jy kan dan met gemak die boksie met krammertjies vasmaak, want hierdie tweede papier verbloem alles. Die riffelpapier is met duimspykers vasgemaak.
Sny dan ook “handvatsels” uit die riffelpapier, wat jy ook met 'n krammertjie aan die onderste deel kan vasmaak, voor jy dit met 'n duimspyker verstewig.
Maak met 'n duimspyker of 'n skerp voorwerp 'n gaatjie aan weerskante van die handvatsels om 'n sosatiestokkie deur te druk.
Gereedskapkoekies
As jy jou liefde in koekies en moeite wil wys, maak hierdie gereedskapkoekies. Gebruik die soetkoekieresep, en druk hierdie patrone uit van 'n hamer, saag, moersleutel en skroewedraaier. Doop die bokante in donker- of melksjokolade. 50 g is voldoende vir ongeveer 6 koekies. Smelt nog 50 g witsjokolade. Roer 5 ml botter / margarien by, en gebruik 'n versierbuis om die koekies te omlyn.

Kliek op die klein foto om 'n groter weergawe te sien
 Dasboksie
Hierdie “das” bestaan uit 'n boksie en 'n deksel. Dit beteken jy kan dit in twee kleure doen. Koop dus twee papiere.
Gebruik die patroon om die vorms uit te knip. Vou al die kante om, maak snitte waar nodig en kram die kante vas.
Indien jy die boksie vir 'n regte egte das gebruik, moet jy eers die grootte daarvan toets. Jy kan dit egter ook vir klein sjokolades of ander lekkergoed gebruik.
Laai al die patrone vir hierdie projek af.
|