Christo du Plessis

deur Rozanne Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Dit gons en tweet en twitter en gaan te kere op die internet, maar weet jy wat dit beteken – en boonop waarom enige regdenkende individu homself aan 'n tweet wil skuldig maak?

A lmal doen dit. Britney Spears, Barack Obama en ook plaaslike bekendes, van Gareth Cliff tot Chris Roper en Helen Zille, laat gereeld 'n tweet of twee val. Die feit van die saak is, dit is groot en dit is hier om te bly. Daarom loer jouwêreld in by die wat weet om vir ons lig te werp op die duisternis van Twitter en ander verskynsels.

Wat is dit, vra ek met trane in my oë?

Twitter is tans dié in-ding. Met 'n groei van ongeveer 3 000%, in die VK alleen, is dit genoeg om jou van sy gewildheid te oortuig. Die naam laat jou aan 'n swerm geselsende voëls dink. Maar hierdie vreemde voëlsoort gesels kort-kort en kortliks. Ja, jy het net 140 karakters om almal wat belangstel te laat weet wat in jou lewe aangaan. Hierdie verskynsel word ook microblogging genoem. As jy meer oor blogs wil weet, lees in die Junie-uitgawe van jouwêreld.

Mense wat aan hierdie "sportsoort" deelneem kan enigiets van twits, tot twitterers, tweeters of tweeps genoem word. As jy een van die beraamde 55 miljoen maandelikse besoekers word, sal jy sien hoe verslawend dié gewoonte kan raak.

Maar waarom sou ék dit wil doen?

As Facebook een van jou gunstelingwebwerwe is en jy hou daarvan dat almal in jou vriendekring weet wat in jou lewe aangaan, is Twitter vir jou. Dis vinnig en maklik om op te dateer. En so kan jy ook in konstante verbinding met geliefdes en vriende bly. Dit blyk ook 'n gunsteling onder Mxit-liefhebbers en bloggers te wees.  Maar die grootste aanhangers van Twitter kom uit 'n ander oord: Beroemdes en bekendes. Toegegee, meeste van hulle het 'n span van mense wat hul tweets behartig. Die feit is, as dit jou geval, kan jy weet wat Oprah vir ontbyt gehad het of wat Hugh Jackman in sy vrye tyd doen. Vir die top tien bekende twits, lees hier. Groot besighede en organisasies gryp ook na die geleentheid om goeie verhoudinge te bou. Jy kan Beeld, Time of Muti (ons eie sosiale webwerfmerker in Afrika) volg

Maar hóé doen ek dit?

Vir die wat steeds sukkel om jou kop rondom twitter te kry, volg dié stapsgewyse instruksies:
Gaan na www.twitter.com
Nader aan die onderkant van die bladsy vind jy die woorde Get Started – Join, kliek daarop.
Dan tik jy jou naam, gebruikersnaam, wagwoord en e-posadres in.
Volg dit op deur die sekuriteitskode in te tik.
Druk op Create my account.
As jy van Gmail, Yahoo of AOL gebruik maak kan jy jou vriende soek wat alreeds tweet.
Anders, kliek op skip this step.
Daarna kan jy uit 'n paar gunstelingtweeters kies of druk finish en raai wat?
Jy is gereeld om jou eerste tweet in die kuberwêreld los te laat.

As jy later steeds ontuis voel in die land van Twitter kan jy na jou profile gaan en sê delete my profile en so vinnig soos blits is jy weg.

Wat nou?

* Brei jou tweet-vaardighede uit. Gaan na Twitpic om jou foto's op twitter te laai.
* As jy skakels na ander webwerwe wil plaas, is daar 'n nuttige webwerf wat jou skakel korter maak, want sien, dit moet binne jou beperkte 140 karakters kan inpas. Gaan na www.tinyurl.com.
* As jy 'n antwoord op iemand se tweet wil gee, sit 'n @ teken voor jou antwoord.
* As jy 'n private boodskap op iemand se tweet wil stuur, sit 'n d voor jou antwoord. (Dit staan vir direct message.)
* As jy sukkel, gaan na http://help.twitter.com vir hulp.
* As jy wil weet wie die wêreld se top-tweeters is, gaan na http://twitterholic.com.

Twitter as inligtingsbron

Vir almal wat meen dit is darem te dik vir 'n daalder om die hele dag te sit en tweet is daar een ligpuntjie. Twitter, saam met ander sosiale netwerke, het bygedra dat die hele wêreld byna onmiddellik van die chaos na die betwiste Irannese verkiesing geweet het. Daarmee saam is daar getweet oor baie van die wreedhede wat plaasgevind het, wat die regering in Iran van die internasionale media probeer weghou het.

Met die dood van Michael Jackson en Farah Fawcett is die krag van 'n aanlyn sosiale netwerk ook gewys. Dit was vir dae lank die gunstelingonderwerp om oor te tweet. Natuurlik is daar net soveel vals nuus as waarheid. Toe die nuus oor varkgriep gebreek het, was die wêreld se twits so hiperaktief in die verspreiding van die nuus dat dit amper soos 'n einde-van-wêreld-verkondiging geklink het.

jouwêreld twitter ook!

Gaan skep vir jou 'n profiel op twitter en sluit by ons aan. Kom ons deel ons wêrelde. Dalk gaan daar vir jou 'n nuwe wêreld oop!
Volg jouwêreld hier

Vir meer inligting http://twitter.com/.
Besoek ook die gunsteling gratis ensiklopedie, wikipedia.

Lees meer oor die invloed van twitter op die Iranse verkiesing in The Media Online.
e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend