|
|
|

Januarie
2009
Jaargang 1 Uitgawe
6 |
 |
 |
 |
 |
 |
|
|
|
|
|
|
|
|
Tydens die somervakansie spandeer 'n mens baie
meer tyd buite as gedurende die res van die jaar
– dit is ook dan wanneer jy ontdek dat jou
tuinmeubels nie meer in so 'n goeie toestand is
as wat jy gedink het nie. Of, dalk het jy nie
eens tuinmeubels nie! Deesdae is tuinmeubels
hoogmode en daarom is daar 'n magdom
verskillende meubelstukke om van te kies.
Hoe om te kies
Die belangrikste ding om te onthou is dat die
koop van tuinmeubels nie veel verskil van die
aankope van enige ander meubels nie. Jy moet ook
in ag neem dat dit by jou behoeftes moet pas, en
gemaklik en duursaam moet wees. Hier is 'n paar
riglyne om jou te help wanneer jy nuwe
tuinmeubels aanskaf:
●
Waar wil jy sit?
Al wat jy hier hoef te bepaal, is wat dit is wat
jy met die meubels wil doen: Onthaal jy dikwels
en het 'n mooi, gemaklike buite-eetstel nodig?
Of wil jy sommer net luilekker terugsit? Dan
moet jy ook dink waarvan jy hou: 'n meer
tradisionele houtstel of 'n ultramoderne
geweefde- of aluminiumstel? Voor jy koop moet jy
ook seker wees van waar die meubels gaan staan –
hoeveel spasie het jy en gaan die meubels
onderdak gehuisves word?
●
Staan op en doen navorsing
Die tipe materiaal wat jy kies gaan bepaal
hoeveel tyd jy aan die onderhoud daarvan moet
spandeer. Kyk na die voor- en nadele van elke
tipe meubelstuk, kanselleer dan dié uit wat nie
in jou smaak val en nie aan jou behoeftes
voldoen nie, en konsentreer dan op die meubels
van wie se kenmerke jy hou.
Houtmeubels
Die heel beste eienskap van hout is dat dit nie
te warm in die somer, en ook nie te koud in die
winter, is nie. Dis nie soos 'n staalstoel wat
jou vinnig sal laat opspring as hy vries in die
winter of wat jou in die somer brand nie! Hout
is stewig vas op die aarde – wat 'n goeie
eienskap is omdat dit duursaam is, maar ook 'n
slegte eienskap is aangesien dit swaar is. As jy
houtmeubels koop moet jy vooraf beplan waar dit
gaan staan: jy kan dit nie skuif soos die
skaduwee verander nie. Dis ook nie maklik om dit
te stoor nie – dit staan waar dit staan!
|
|
Daar is baie soorte hout om van te kies. Jy kan
dit stain, olie gee of verf, afhangend
van hoe jy dit wil laat lyk. Sommige soorte hout
is van nature weerbestand. Die mees populêre
hout is kiaat, afkomstig van Indië, Burma en
Thailand, wat bekend is vir sy duursaamheid en
weerbestandheid. Wanneer dit onbeskerm gelaat
word, sal dit vanself 'n silwergrys kleur
aanneem. As jy dié hout se natuurlike goudbruin
kleur wil behou, moet jy dit jaarliks afskuur en
olie gee. Wees net versigtig – as kiaatmeubels
baie goedkoper is as hul eweknieë, is dit
dikwels omdat dit van dun stukkies hout gemaak
is en nie so lank gaan hou as wat jy verwag nie.
Dié winskopie kan maklik in 'n gat-in-die-sak-kopie
verdraai.
Sederhout is ook 'n goeie keuse aangesien dit,
net soos kiaat, bestand is teen verwering. Dit
het boonop 'n insek-afwerende reuk. Dan kan jy
ook ander houtsoorte, soos sipres, boekenhout en
mahoniehout oorweeg.
|
 |
|
Die Panthera-reeks by
Wetherlys
is van plantasie-kiaat en is baie duusaam en
gemaklik. |
|
Plastiekmeubels
Die grootste oorweging om plastiekstoele te koop,
is die feit dat hulle maklik op mekaar gepak en
gestoor kan word. Verder is dit ook die heel
maklikste meubels om skoon te maak – spuit dit
af met water en siedaar! Maar nou ken ons ook
almal plastiekmeubels – dit lyk meesal maar net
so goedkoop soos die goedkoop prys wat jy
daarvoor betaal. Daar is natuurlik ook dié
meubels wat van herbenutte plastiekbottels
gemaak word en soos houtmeubels "lyk". Maar
alhoewel dit goed vir die omgewing is, kos dit
dikwels dieselfde as meubels van regte hout.
Rottangmeubels
Rottangmeubels het maar onlangs weer populêr
geraak – as buite-meubels. Daar is ontsettend
baie verskillende vorms, kleure en handelsname
beskikbaar. Anders as wat mense dink, verwys die
woord "rottang" (wicker) nie na 'n
spesifieke materiaal nie, maar na die tegniek
wat gebruik word om riete te sny en om 'n raam
te weef. Rattan-meubels, wat ook in
Afrikaans as rottang bekend staan, verwys na
spesifieke meubels wat van 'n soort bamboes, ook
spaansriet genoem, gemaak word.
Natuurlike rottang sal deur direkte sonlig en
reën beskadig word en moet dus liewer net op
stoepe of beskermde areas gebruik word. Daar
bestaan egter ook iets soos all-weather
of all-season rottangmeubels, wat nes die
naam sê, maar buite kan bly sonder 'n dak as
beskerming. Dit word of van sintetiese materiaal
gemaak wat om 'n aluminiumraam geweef is, of dis
natuurlike rottangmeubels met 'n weerbestande
afwerking.
|
Voordele van rottangmeubels is dat dit lig is,
en dus maklik rondgeskuif kan word nes jy
lekkerkry. Dit gee dieselfde gevoel as "ordentlike"
binnenshuise meubels en is, vir my, die toppunt
van gemak.
Maak seker jy weet wat die instruksies vir die
versorging van jou meubels is. En – jy moet ook
seker maak dat die stoelkussings weerbestand is,
of jy moet dit in die huis stoor as dit te
sonnig of nat is. |
 |
|
As jy van 'n klassieke look hou, is
Wetherlys
se Cuba-reeks net die ding vir jou. Die reeks is
op vintage colonial wicker-ontwerpe
gebaseer en het die diepbruin kleur van 'n
Havana-sigaar, of donker sjokolade, afhangend
van jou voorkeur! |
|
Metaalmeubels –
aluminum of yster
Aluminium is beslis 'n goeie keuse – dis
duursaam, lig en roesvry. Met duursaam bedoel ek
nou dat die waarborg tot so lank as 15 jaar kan
strek. Dit lyk baie soos meubels van ander
metale, maar is gelukkig nie so 'n goeie geleier
van hitte of koue nie. Dit het ook nie baie
versorging nodig nie – was dit net met water en
skoonmaakmiddel of vee dit met 'n lap af!
Staal- en gietystermeubels word gebou om te hou!
Om roes te voorkom moet dit geverf word. Wanneer
dit reën kan jy die meubels bedek en dan net
weer die bedekking afhaal sodat daar nie binne
kondensasie vorm wat roes veroorsaak nie. Dit
kan in allerhande verskillende vorms gemaak word
om by jou styl aan te pas. Al wat nog teen dit
tel is dat dit so swaar is om rond te dra . . .
maar net soos met houtmeubels, is dit nie 'n
probleem as jy 'n permanente staanplek daarvoor
het nie.
Meng-en-pas-meubels
|
|
Is jy nou so deurmekaar soos hoendersop? Dalk
moet jy dit oorweeg om meubels van gemengde
materiale te koop. Dit is glad nie nodig dat jou
tafelblad uit dieselfde materiaal as die
tafelpote moet wees nie. Tafelblaaie uit marmer,
teël, gepoleerde sement, graniet of enigiets
waaraan jy kan dink, kan gemaklik op 'n staal-
of houtraamwerk rus. So kan jy ook stoele met 'n
staalraamwerk kry met 'n gemaklike
materiaalsitplek, of met 'n houtraamwerk en 'n
rottangsitplek.
Jy kan nog verder gaan en kiaatstoele om jou
leikliptafel pak . . . meng en pas verskillende
materiale totdat jy kry wat jou hart begeer!
|
 |
|
Die Baltimore-reeks van
Wetherlys,
wat die beste kwaliteite van roesvrye aluminium,
hars en Petan weave saambring, is maklik
om te versorg. |
|
●
Moenie net daar sit nie – gaan winkel toe
Dis belangrik dat jy navorsing doen voor jy koop
om 'n idee van meubelpryse te kry. Dan kan jy so
rofweg 'n begroting uitwerk en kan dit dalk ook
help om jou keuse in 'n rigting te dwing. Gaan
kyk by verskillende winkels – moenie net by die
eerste die beste winkel koop nie. 'n Spesifieke
reeks meubels word dikwels by meer as een winkel
aangehou met merkwaardige prysverskille.
●
Sit jy gemaklik?
As jy tuinmeubels soek, is dit tog
vanselfsprekend dat jy baie tyd buite wil
spandeer. Daarom is dit belangrik dat die
meubels wat jy koop so gemaklik as moontlik is.
Toets die meubels – as jy kort is, soos ek, gaan
jy 'n stoel met 'n kort sitplek wil hê, anders
kom jou bene nie die grond by nie!
●
Sit – in die winkel!
Terwyl jy nou op jou voornemende meubels sit om
dit vir gemak te toets, is daar nog 'n paar goed
waarvoor jy op die uitkyk moet wees.
Moet nou nie té wild wees nie, maar dis altyd 'n
goeie idee om die tafel of stoele te wikkel om
te sien of hulle stewig is. 'n Bietjie beweging
is geen probleem nie, maar dit moenie lyk asof
dit uitmekaar kan val nie.
By houtmeubels, veral, moet jy na die lasse
oplet. Daar moenie gate wees waar die tafelpote
die tafelblad ontmoet nie. Metaalmeubels se
soldeerlasse moet glad en nie opmerklik wees nie.
Laat jou hand oor die meubelstukke gly – dit
moet glad wees. As die meubels geverf is, moet
daar nie plekke wees wat misgeverf is of waar
druppels verf gemors is nie. Daar moenie skerp
punte of onafgeronde kante op metaalmeubels wees
nie. Kyk veral onder die tafel na die
randafwerking – dis dalk net daar wat jy 'n
skraap op jou knie kan optel. Dit tel ook vir
die onderkant van armleunings.
Skroewe en moere wat gebruik is om meubelstukke
aanmekaar te las, moet weggesteek wees of 'n
omhulsel hê. As dit in die oopte is moet dit
verkieslik uit vlekvrye staal wees wat nie sal
roes nie.
Die belangrikste is dat jy nie moet huiwer om
vrae te vra nie. Jy is die "belangrike" persoon
wat geld moet uitgee en met jou keuse moet
saamleef.
|
|
|
e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy
uit
het
jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
|
terug na jouleefstyl
volgende artikel
vorige artikel |
|
|
|
Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!
[ jouapplous ] [ joufiksie ] [ jouhoofstories ] [ jougeskenke ] [ joukind ] [ joukontrei ] [ jouleefstyl ] [ joumenswees ] [ joupolitiek ] [ jourubrieke ] [ jouse ] |
|
|
|
|
|
|