Augustus 2008

 

 


 


"Besoek www.kinderwerf.co.za vir gratis leeskaarte, alfabetkaarte, speletjies en nog vele meer. Word ook deel van ons Loebi- leesklub en geniet stories en aktiwiteite in jou moedertaal!" 


 Rooiwarm Bemarking. Peppor.com

South Africa Online




TUIN: Geniet jou tuin –
met die regte beplanning!
    

jouleefstyl

deur Tienie Venter

Om 'n nuwe tuin aan te pak, of 'n oue te vernuwe, kan dalk soos 'n nagmerrie lyk. Maar nie as jy die regte stappe volg en die korrekte besluite neem nie!

Foto's: Wilna Myburgh

Die omgewing waar jy bly sal 'n bepalende faktor wees op die tipe tuin wat jy beplan. Plante wat welig in die klam en nat toestande van Margate groei, sal byvoorbeeld glad nie oorleef op De Aar in die Karoo nie!

Suid-Afrika bestaan hoofsaaklik uit vier klimaatstreke, nl. die winterreënvalstreek in die Wes-Kaap, die dorre binneland in die Westelike dele van die binneland, die gematigde somerreënvalstreke vanaf die Oos-Kaap tot in Gauteng, en laastens die subtropiese somerreënvalstreke wat vanaf noordelike Limpopo al langs die ooskus tot by Port Elizabeth strek. Hou dit ingedagte wanneer jy jou plante en tipe tuin kies.

Ons woon in 'n halfdroë-land met 'n jaarlikse gemiddelde reënval van minder as 500 mm, teenoor die węreldwye gemiddelde van meer as 800 mm. Met die voorspelling van globale klimaatsverandering wat selfs nóg warmer en droër toestande sal meebring, is dit hoog tyd om só tuin te maak dat die maksimum water gespaar kan word.

Wanneer jy beplan om 'n nuwe tuin uit te lę, of 'n oue op te gradeer, moet daar versigtig te werk gegaan word. Plante, kunsmis en alle ander tuinbenodighede is duur – daarom kan daar nie sommer lukraak weggespring word sonder die nodige voorafbeplanning nie.

Die landskapargitek, Magda Jansen van Rensburg, waarmee jouwęreld gesels het, het die volgende aanbeveel:
1. Neem eerstens die klimaatstreek waarin jou tuin geleë is, in ag.
2. Is daar voldoende water beskikbaar in die omgewing waar jy bly?
3. Volgens watter styl is die huis gebou en aan watter kant front hy? Dit sal bepaal in watter rigting die tuin beplan moet word.
4. Die dekor van die binnehuis moet aansluit by die tuinuitleg, en die twee moet mekaar komplementeer.
5. Hoe lyk die ligging waar die tuin aangelę gaan word? Is daar byvoorbeeld baie groot bome en struike, is dit net 'n plat stuk aarde of is daar hoë skuinswalle wat opgevul moet word?
6. Wat is die finansiële implikasies vir die eienaar? Groot plante, beelde, potte en fonteine wat fokuspunte vorm is duur, maar beslis die moeite werd. Kleiner plante kan as vullers in beddings saam met klippe, gruis, bas en stapklippe gebruik word.
7. Plant inheems aan jou area en gebruik plante wat by jou klimaatstoestande pas. Al is die subtropiese tuin hoe mooi, groei dié plante eenvoudig nie in 'n koue hoëveldse tuin nie. Om dit te probeer, sal 'n vermorsing van geld, plante en water wees.
8. Bespreek jou voorkeure en voorstelle met 'n plaaslike plantkenner of tuinuitleg-adviseur. Wees oop vir raad, hulp en leiding.
9. Moenie dat jou tuin vir jou 'n lyding word nie – dit moet net een groot plesier wees waar jy welkom en tuis sal voel! Jou tuin moet 'n veilige hawe vir jou, jou gesin en ook die voëls uit die omgewing wees.
10. Ry rond in jou woonbuurt en kyk na goedversorgde tuine wat met oorleg uitgelę is. Vra die huiseienaar wie die tuinontwerper was en gaan kry raad.
11. Jou tuin moenie seisoenaal wees nie – dit moet dwarsdeur die jaar kleurvol, groen en 'n lus vir die oog wees. Gedurende die vaal troostelose winterdae lok 'n goed versorgde tuin mense na buite. Jou tuin moet soos 'n oase voel waar die vermoeide siel kan rus vind en ontspan.

Wanneer jy beplan om 'n tuinontwerper (landskapsargitek) te nader, gaan hy die volgende by jou wil weet:
1. Wil jy die hele tuin eenmalig, of in fases, verander?
2. Hoe wil jy dié fases aanpak: eers die voor of agtertuin of beddingsgewys?
3. Wil jy klein of groot plante gebruik? Onthou, kleiner plante neem langer om 'n effek te wys. Die effek van groot plante wys weer dadelik, maar dit is baie duurder.
4. Wat wil jy as 'n fokus gebruik – 'n bankie, fonteine, gazebo's of groot potte? Wil jy opvullers soos bas, gruis of gepakte klippe gebruik? 5. Hoe verkies jy die ontwerpte terrein: plat, terrasse of heuwels? Onthou dat jy nie deur 'n plat tuin gebind is nie, dit kan só met hoë plante getooi word, dat dit as heuwels of terrasse vertoon.

Dink dus eers oor die bogenoemde vrae na sodat jy gereed kan wees met antwoorde wanneer die tuinontwerper kom.

ONTHOU:
Tuinmaak en die onderhoud daarvan is 'n groot finansiële uitgawe. Kan jy dit op die lang termyn bekostig?
Dit help nie jy spandeer duisende rande vir die uitleg en die plante van jou tuin, maar kan later nie die instandhouding daarvan bekostig nie.

Wie gaan die instandhouding behartig – jyself of gaan jy van 'n tuindienste gebruik maak? Tuindienste kan jou tussen R500 en R800 per maand uit die sak jaag!

Instandhouding deur 'n landskapontwerper hou gewoonlik 'n waarborg in, maar dit is ook die duurste opsie.

Wanneer jy vooraf die regte en ingeligte besluite neem, kan jou tuin vir jou jare se geluk en saligheid bring – geniet dit!
 

As jy in die Noordwes-provinsie woon en jy het raad nodig kan jy vir Magda Jansen van Rensburg bel by 083 257 4238 of (018) 290 5871.

 Druk hierdie bladsy uit
 
 

 

 

 Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

tuis ] joufiksie ] jouhoofstories ] joukontrei ] jouleefstyl ] medewerkers ] joumenswees ] joupolitiek ] jouvermaak ] vertel jou vriende ] teken in ] adverteer ] e-pos die webmeester ]